Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
En dink aan ju Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie – Prediker 12.
KYK JOU OOG REG?
Ds Andrè van den Berg
“...want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” - Mt.6:21
Godsdiens as sulks word nie met ʼn plek in die hemel beloon nie. Om in die hemel te kom, moet jy ʼn persoonlike verhouding met Christus hê anders is jy verlore al het jy ook hoe hard vir jou gemeente gewerk. Jesus moet jou persoonlike Verlosser en Saligmaker wees anders mis jy die hemel en beland jy in die hel! Ken jy Hom so?
Ken jy Hom ook as jou Leermeester? Jesus het ons nie net van sonde verlos nie, maar leer ons ook hoe om op die aarde reg te leef omdat ons net eenmaal hier gaan leef en nooit weer nie. Ná hierdie lewe betree ons ʼn ewigheid; met of sonder Hom – vreugde of vlamme!
Jesus is ons Leermeester en die Bergpredikasie van onskatbare waarde omdat Christus ons hierin leer hoe om in die daaglikse lewe as burgers van die koninkryk van God op te tree. En dis belangrik dat ons dit weet want slegs burgers van die koninkryk van God gaan hemel toe. Die res gaan almal hel toe!
Die Bergpredikasie is Jesus se handleiding vir Christenwees. Dit kon ook die volgende opskrif gehad het: PRAKTIESE VEREISTES VIR BURGERSKAP VAN DIE KONINKRYK VAN GOD. Dit vertel vir ons hoe God wil hê dat ons hier op die aarde met mekaar en tot sy verheerliking moet leef. As die mensdom maar net volgens die vereistes van die Bergpredikasie wou leef, sal daar amper nie ʼn hemel nodig wees nie, want dan was dit hemel op aarde!
Waarom gebeur dit dan nie? Omdat ons nie dink soos God wil hê ons moet dink nie. En daarvoor het ons hulp en voorligting nodig. En dis waar die Bergpredikasie van onskatbare waarde is. Christus help ons om soos Hy te dink. En ons het net een lewe om dit in te doen.
Dis egter nie altyd maklik om soos Christus te dink nie. Paulus was deeglik bewus hiervan. Hy skryf bekende woorde as hy sê dat die goeie wat hy wil doen, dié doen hy nie, maar die kwade wat hy nie wil doen nie, dit doen hy. Dit kos kennis en geestelike inspanning om soos Christus te dink.
Hoe begin gelowiges om soos Hy te dink? Deur die regte keuses in die lewe te maak. Luister wat sê Jesus: “Moenie vir julle skatte bymekaar maak op die aarde ... maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel...” (Mt.6:19,20). Ons moet geestelike skatte versamel. Dis ons eie verantwoordelikheid. Dit word nie vir ons gedoen nie. Ons moet dit self doen.
Jesus sê dat ons skatte bymekaar moet maak wat nie deur mense of die natuur beskadig kan word nie. En dis net met geestelike (hemelse) skatte moontlik. Alle aardse skatte kan in ʼn oogwink verdwyn soos met Job gebeur het toe hy op een dag al sy rykdom en 10 kinders verloor het.
Let op Christus - Hy het niks besit nie. Selfs toe Satan Hom al die koninkryke van die aarde aangebied het, het Jesus nie voor die versoeking geswig nie. Vir Hom was daar net een ding om te doen – om die wil van God te doen. Dink ons ook so?
Waar is jou skatte - in Christus of in sy seëninge? Mense sien so maklik die seëninge raak en vergeet van die Gewer. God seën baie mense met welvaart, talente, gelukkige huisgesinne, wonderlike geleenthede ens. Die gevaar is dat ons teen al hierdie dinge kan vaskyk en die Gewer vergeet. Moet nooit die genot van aardse seëninge met skatte in die hemel verwar nie!
Hoe maak ons hemelse skatte bymekaar? Dit begin met bekering. Slegs die berou oor sonde en sekerheid van vergifnis plaas sondaars in ʼn persoonlike verhouding met Jesus Christus. Hemelse skatte het absoluut niks met aardse besittings te doen nie. Die hunkering na aardse skatte laat mense so maklik verkeerde besluite neem. Daarom sê Jesus: “...want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees”.
Die Bybel praat dikwels van die hart; altyd in ʼn figuurlike sin. Dit verwys na die mens self. Dinamies vertaal, kan Mt.6:21 as volg lui: ...“want waar jou skat is, daar sal jy ook wees”. Die hart is die middelpunt van die mens se hele wese. Die liggaam is die tempel en die hart die altaar van die lewe. Alles wat op die altaar geoffer word, vul die hele tempel. Daarom sê Salomo: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spr.4:23).
Wat in jou hart aangaan, gaan in jou lewe aan. En dit wat in jou lewe aangaan, kom deur die oog: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees ...” (:22,23). Die oog sien net raak wat dit wil sien. As jou oog reg ingestel is, sal jou lewe verlig wees. Maar as dit nie reg is nie, is jou lewe donker.
Wanneer die Heilige Gees mense se lewens nuut maak, kyk hulle met ander oë na die lewe. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17). Die gevolg van hierdie vernuwing is ʼn geheel ander uitkyk op die lewe. “ ... As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees...”
Niks bind gelowiges so saam soos om met dieselfde oë na die dinge van God te kyk nie. Dit het die eerste Christene in Jerusalem so saamgebind, dat hulle die openbare oog opgeval het: “...terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk” (Hand.2:47). Om met dieselfde oë as Christus te kyk, bind mense saam. Die teenoorgestelde is egter ook waar: “Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees ...”. Dit bring verdeeldheid soos waarvan ons dan ook later in Paulus en van die ander apostels se briewe lees.
Maar wat veroorsaak ʼn verkeerde oog? Die eie ek. As dit in ʼn mens se lewe seëvier, maak hy verkeerde keuses. Dan gaan dit vir mense om regte, besittings en selfverwerkliking; dinge wat vir Jesus onbelangrik is en donkerte veroorsaak. En donkerte verbreek alle geloofsgemeenskap. 1 Joh.1:7 gee ons die alternatief: “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde”. Die regte oog sorg dat daar gemeenskap is.
Die eie ek en die wil van God staan soos twee base teenoor mekaar. Die mens kan nie beide dien nie, maar ʼn keuse maak: “Niemand kan twee here dien nie... Julle kan nie God en Mammon dien nie” (:24). Dat die gelowige bewustelik vir God en teen Satan moet kies, loop dwarsdeur die hele Bergpredikasie. Jy kan nie terselfdertyd goed en sleg wees nie. ʼn Boom kan nie tegelyk goeie en slegte vrugte dra nie. Jy kan nie tegelyk die breë en die slegte weg bewandel nie. Jy kan nie jou eie wil laat geld en God tegelyk dien nie.
Ons moet egter nie Mammon slegs met aardse besittings verwar nie. Dit gaan om baie meer as die materiële. Mammon seëvier ook daar waar die mens oor sy eie lewe wil baasspeel en God nie in ag neem nie. “En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ʼn gruwel voor God” (Luk.16:15).
Wie stoflike besittings in belang van Christus gering skat, dink soos wat Jesus dink. En dis noodsaaklik vir die lewe hier op aarde en dié in die hiernamaals. Geen mens moet hom bekeer omdat hy bang is om in die hel te beland of bloot net hoop om sodoende in die hemel te kom nie. Dis alles dinge wat aan die einde van die lewe gebeur.
Maar wat van nou, want dis waar jy lewe; nie in die verlede of die toekoms nie, maar nou. Waarom jou bekeer? Om tot verheerliking van God en tot voordeel van my medemens soos Christus te dink en op te tree.
Wanneer ons soos Jesus begin dink, neem in die heiligmaking toe. Dis die proses van daaglikse afsondering vir Christus. Dis nie ʼn ervaring nie, maar eerder ʼn voortdurende proses om al meer soos Christus te wees.
As jy soos Jesus begin dink, sal jou lewe vrugbaar wees. In Joh.15 leer Jesus ons van die wingerd. Die wingerd prys nie sy eie stert omdat dit sulke goeie druiwe dra nie. Die wingerd weet dat dit aan die eienaar se toesig en snoeiskêr te danke is. Hy snoei dit reg. En dis wat ons Sondae in die kerk kom maak. Die Here snoei ons deur sy Woord reg dat ons vir Jesus vrug kan dra.
ʼn Leermeester verwag van leerlinge om hom te gehoorsaam. So ook Christus. Laat Hom toe om ons reg te snoei sodat ons al hoe meer soos Hy sal dink. “...want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor.10:5).
Jesus gee aan die einde van Mt.6 die opdrag: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (:33). En dis waar ons hart moet wees. “...want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” . Christus langs my, Christus voor my, Christus agter my, Christus onder my en Christus bokant my.
Amen!