Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie met die duiwel redeneer nie; hy doen dit beter as jy want hy het al duisende jare se oefening gehad. Jy kan Satan nie met logika of jou mening bluf nie maar jy kan die wapen inspan wat hom laat bewe – God se waarheid. Dis waarom dit noodsaaklik is om die Skrif uit jou kop te ken as jy die versoeking wil verslaan.
LEEF HIERDIE JAAR VOLUIT!
Ds Andrè van den Berg
“Toe het Abram weggetrek soos die Here hom gesê het...” Gen.12:4
Die verhaal van Abraham is ʼn aangrypende verhaal. Dit het geestelik gesproke as’t ware in die middel van die nag begin. Alhoewel die son in die Ou Nabye Ooste geskyn het, was dit ʼn donker tyd in die geskiedenis van die mens. Sonde het alles donker gemaak. Nogtans het mense geglo dat hulle daarby gebaat het en sonde soos koek i.p.v. gif hanteer!
Toe hierdie dwaasheid ʼn paar eeue na die sondvloed sy toppunt in Babel bereik het, het God ingegryp en ʼn hele samelewing op ʼn uitsonderlike wyse uit mekaar laat spat. Die geskiedenis van die mens met sy hoopvolle begin in die tuin van Eden, het spoedig op ʼn sondeval uitgeloop. Dinge het begin donker word. Daar was die broedermoord toe Kain sy broer doodgemaak het, en later ʼn sondvloed. Maar, helaas het die mens nie sy les geleer nie en die donker bo die lig verkies.
Dan verskuif die toneel in Gen.11 na Babel waar mense aan ʼn reuse toring begin bou het. Hierdie bouwerk was nie om hul bouvernuf te vertoon nie, maar eerder die somber verhaal van vermetelheid, opstand en die dodelike gevolge daarvan vir enigeen wat die hemel wil bestorm.
Babel wou nie na God luister nie. Na die sondvloed gee God aan Noag die opdrag om vrugbaar te wees en die aarde te vul. By Babel sê die mens: “Nee, ons sal nie. Ons wil by mekaar bly!” Hulle wou nie hul magsbasis verloor nie. Maar met die spraakverwarring dwing God hulle om sy wil uit te voer: “... en daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde verstrooi” (Gen.11:9). God se wil sal geskied!
Met die spraakverwarring word die mensegeskiedenis vir ʼn wyle eers afgesluit waarna dit nag oor die aarde geword het. Dit het gelyk asof die lewe in die chaos waaruit God dit in Gen.1 opgetel het, terugsak om nooit weer op te staan nie. Dan as dinge donker en stil raak en alles verlore lyk, hoor ons God roep. Hy roep na ʼn mens. Sy naam is Abram. En met hierdie roep, maak God ʼn nuwe begin met die mensdom op aarde.
Die roeping van Abraham is ʼn stuk evangelie in die boesem van die OT. Evangelie beteken goeie tyding. Ja, God se stem in die donker beteken altyd goeie nuus. Dink aan Jesaja se voorspelling: “Die volk wat in duisternis wandel, het ʼn groot lig gesien; die wat woon in die land van doodskaduwee, oor hulle het ʼn lig geskyn” (Jes.9:1). Soos wat Jesus se koms na die aarde lig in sonde-duister gebring het, het God se roeping van Abram dit ook vir die mense van die OT gebring .
Met die roeping van Abram het God die mens ʼn tweede kans gegee. Hy laat vaar nooit die werke van sy hande nie! Hy laat nie toe dat chaos sy handewerk vernietig nie; nie in Israel of aan die suidpunt van Afrika nie!
God maak selfs onder die haglikste lewensomstandighede ʼn nuwe begin met mense. Die OT lewer die een aanskouingsles na die ander. Een van die aangrypendste verhale is Israel se uittog uit Egipte! So ook verhale wat van God se kragtige ingryping in die dae van die rigters en daarna in die tyd van verskeie konings afgespeel het. Die wonderlikste verhaal van hoe God van voor af met ʼn volk begin het, is in die NT opgeteken toe Hy in Christus na die aarde gekom het om vir mense se sonde te sterf.
Die Bybel leer gelowiges ʼn waardevolle les wat ons nooit moet vergeet nie: Alles is nie noodwendig verby as dit vir die mens so lyk nie. Dit geld ook vir Suid-Afrika. God is magtig genoeg om enige chaotiese toestand op te ruim. Hy maak van klei wat ʼn uitskotproduk geword het ʼn meesterstuk.
In Gen.12:13 vind ons God se motief vir sy tweede begin met die mensdom: “...en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën wees”. God het die mens lief. Wie ooit aan sy liefde twyfel, moet gerus Gen.12 lees. God vergeet ons nie.
Gen.12 sê nie net dát God ʼn nuwe begin maak nie maar ook hoé Hy dit doen: deur sekere mense tot sy diens te roep en kragtige werktuie van hulle te maak. Dis hoe Hy deur die geskiedenis te werk gaan. Dink aan Moses, Samuel, Elia, Dawid, Jesaja, Esegiël, Petrus, Johannes en Paulus. God gebruik elkeen vir ʼn besondere taak. En Hy begin met Abram.
Maar hoe rus God Abram toe? Hy oorlaai hom nie met besondere gawes nie, maar stroop hom eerder van sekeres. God maak ons dikwels eers leeg van onsself voordat Hy ons vir sy doel kan gebruik. Hy doen dit op een van twee maniere - soms op ʼn sagte manier as Hy jou deur sy Woord of Gees vra: ” Wil jy nie eerder so-of-so maak nie?” Dis die vrywillige opsie.
Dan is daar ook die harde manier wanneer God ons wil gebruik, maar ons te vas aan sekere dinge is en Hy krisisse in ons lewens laat ontstaan om ons los te kry. As jy vir Hom wil lewe, moet jy aan jou eie sterf: “... As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mt.16:24).
Dit voel soms asof jou keel wil toetrek as jy op die roepstem van God, sekerhede vir onsekerhede moet los. Sommige doen dit; ander nie. ʼn Mens dink hier aan Jona; hy wat geglo het dat redding net vir Israel beskore was en nie vir heidene nie. Op die ou einde het hy gegaan en het die heidene hul bekeer.
Soms roep God gelowiges om die bekende vir die onbekende te verlaat soos wat in Gen.12 met Abram gebeur het. Wat sy geval merkwaardig maak, is dat hy sonder om te mor, opgepak en gegaan het. Het hy bloot na ʼn nuwe uitdaging gesmag? Nee, hy het ʼn belofte van God ontvang: “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (:3).
Die verdere verhaal van Gen.12 vertel van hoe Abram en sy mense gehoorsaam weggetrek en ʼn swerwersbestaan begin gevoer het. Alles in hul lewe was voorlopig en tydelik. Hulle het kort-kort verskuif. Dan bly hulle hier, dan daar. Kortom, ʼn tentbestaan.
Die Bybel en die kerkgeskiedenis leer ons dat hierdie tentbestaan ʼn simbool van die geloofslewe sou word; ʼn lewe van kort-kort versit t.w.v. die saak van Christus. Dink maar aan vlugtende gelowiges na die martelaarsdood van Stefanus (Hand.7). Gelowiges is in die wêreld maar nooit van die wêreld nie.
Alle gelowiges sukkel maar met hierdie geestelike tentlewe. As God ons nie van tyd tot tyd bekragtig en laat moed skep nie, sal bitter min van ons die pyp rook! Satan poog om gelowiges van hul tentlewe te laat afsien en dat die kool nie die sous werd is nie. Hy mislei mense om te glo dat hy hulle vastigheid kan bied. Dis ʼn leuen! Satan is die vader van die leuen.
Ons weet nie wat 2016 vir ons gaan oplewer nie. Miskien gaan die Here ons van ʼn paar dinge in ons lewe troop ten einde ons volle potensiaal vir Hom te kan bereik. Van hierdie stropingprosesse mag dalk baie onaangenaam wees. Hy kan ons soos ʼn Abram van ouds uit ons gerieflike lewe na ʼn tentlewe lei.
Een ding moet ons weet: God is nie hardvogtig en verlustig Hom nie in ons leed nie. Hy doen alles met ʼn doel. “Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie” (1 Kor.11:32).
God wil hê dat ons hierdie jaar voluit moet leef. Maar dan moet ons luister. “...My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem” (Hebr.12:5,6).
God het Abram se gehoorsaamheid ryklik beloon en hom ʼn vol lewe laat ly. Abraham het geluister en geleef en word deur die eeu as die vader van alle gelowiges beskryf. Paulus skryf aan die Galasiërs: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (3:29).
Jesus het ʼn wonderlike belofte vir elkeen wat luister: “ Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:33). Laat jou leuse vir 2016 wees: Luister en leef!
Amen!