Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wat verstaan die Bybel onder reg? Waarom wil God dit hê? Sodat mense in gehoorsaamheid aan God se Woord rustig kan saam leef. Gevolglik verskil dit wat vandag met menseregte bedoel word, ingrypend van die Bybel se idee van regte. Vandag word die skepsel bo die Skepper gedien (Rom.1:25)!
JOU SIEL 1 MINUUT NA JOU DOOD
Waar is jou siel een minuut na jou dood?
Luk.16:19-31
Ds Andrè van den Berg
Ons leef net een maal op die aarde en nooit weer nie. Ons het net een kans om iets daarvan te maak en daarvoor moet ons die regte lewenskeuses maak. Lewensgeluk hang nie van kanse nie maar van keuses af. Kies jy reg, leef jy sinvol. Kies jy verkeerd, dra jy die gevolge daarvan. Daarom is die lewe die somtotaal van die keuses wat ons maak. Ons kan niks aan die lengte van die lewe doen nie, slegs aan die diepte (gehalte) daarvan. Jy is nie ʼn produk van omstandighede nie maar van jou keuses.
Jesus vertel van ʼn man wat wonderlike kanse gehad het, maar die slegste keuse wat ʼn mens kan maak, gemaak het. Die gelykenis van Lasarus en die ryk man belig die Fariseërs se siening van die lewe na die dood. Hulle het baie waarde aan stoflike dinge geheg en was geldgierig. “En die Fariseërs, wat geldgierig was, het ook al hierdie dinge gehoor en Hom beskimp” (:14). Hulle het rykdom as ʼn guns van God beskou. En dis die uiterlike beeld wat hulle aan mense voorgehou het – gunsgenote van God. Daarteenoor is siekte, armoede en ellende as teken van God se misnoeë met ʼn mens en Sy straf beskou.
Die gelykenis wemel van sterk teenstellings in beide tonele. In die eerste toneel op die aarde is daar ʼn ryk man wat homself as ʼn begunstigde van God beskou het. By sy hek het ʼn bedelaar in ellende gelê; toonbeeld van God se kastyding. Altans, so het die Fariseërs geglo.
In die tweede toneel verander die prentjie drasties. Dit speel in die hiernamaals af waar die ryke as uitgeworpene in pyn verkeer terwyl die bedelaar in volle geluksaligheid by Abraham wat as ʼn hemelse ontvangsklerk geskets word, is.
Toe die ryke besef dat sy doppie geklap het, maak hy ʼn groot fout; hy maak daarop aanspraak dat hy ʼn afstammeling van Abraham is. Die Fariseërs het fisiese afstamming van Abraham as ʼn toeganskaartjie na die hemel beskou. Daarom hou die ryke hierdie kaartjie vir die ewige reis na Abraham toe uit. Maar Abraham knip dit nie. Dis ongeldig! Net so min as wat ʼn mens met ʼn treinkaartjie Londen toe kan vlieg, kan jy op grond van jou herkoms of watter ander verdienste ook al, die hemel beërwe. Dis alles ongeldige kaartjies!
Lasarus daarenteen maak geen aansprake nie. Hy het niks voortreflik nie. Sy tydgenote het hom selfs as ʼn verstoteling beskou. Gelukkig was dit nie die einde van hom nie. God meet met ander norme: “ .... want wat by die mens hoog geag word, is ’n gruwel voor God” (:14). ʼn Gevoellose hart weeg in die weegskaal van die hemelse Regter altyd te lig!
God het nie die ryke se rykdom as sulks afgekeur nie. God seën sy kinders dikwels met rykdom. Abraham was self ryk; so ook Jakob, Job en Salomo. Dat die ryk man weelderige klere gedra het, was geen sonde nie. Sy probleem was: “...en elke dag vrolik en weelderig gelewe” (:19). Uit die konteks blyk dit dat hy geestelik onverskillig geleef het. Hy het wel sy rykdom as ʼn guns van God beskou. Die probleem kom egter by wat hy daarmee gedoen het. Hy het nie besef dat hy slegs ʼn rentmeester was van dit wat God aan hom gegee het nie. Sy stoflike welvaart het hom so blind vir mense se ellende gemaak, dat hy hom ook nie aan die Wet en die Profete (die Bybel van destyds) gesteur het nie.
Lasarus het ongekende armoede beleef. Daar was nie veel van hom oor nie; net vel en been en swere waaraan rondloper honde gelek het – weersinswekkende ellende! Terwyl die ryke uitgevat in die kring van die elite beweeg het, het Lasarus slegs honde vir geselskap gehad.
Uit sy gedrag en gesprek met Abraham sien ons hoe verkeerd die ryk man se hart was. Ja, baie mense se harte krimp soos wat hul sakke uitsit. Lasarus rep geen woord in die gelykenis nie. Hy verkeer in ellende maar is gelowig. Ja, hy het iewers in sy lewe die regte keuse gemaak!
Hoe hy dood is, word nie gesê nie. Die feit dat hy geen versorging ontvang het nie, het moontlik sy einde verhaas. Daar word ook niks van sy begrafnis gesê nie. Miskien is sy liggaam soos baie armlastiges s’n op die ashoop gegooi.
Wat met Lasarus se liggaam na sy dood gedoen is, maak nie saak nie. Die liggaam is slegs ʼn tempel van God solank as wat dit die siel huisves. Wat na die dood daarmee gebeur, is onbelangrik. Al wat ons van Lasarus weet, is dat sy siel gered was. “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham” (:22).
Kort hierna is die ryk man ook dood, maar, so anders as Lasarus, het hy hom nie aan die boesem van Abraham bevind nie: ” .... En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was...” (:23). Sy ondervinding in die hiernamaals word in menslike beelde beskryf – sy oë was oop, hy kon sien en praat. Jou siel is ten volle bewus van wat met jou in die hiernamaals gebeur!
Satan se grootste sukses is om mense te laat glo dat hulle nog baie tyd het om vir die lewe na die dood voor te berei. Die ryk man het dit skynbaar ook geglo. Satan het hom aan die slaap gesus. En toe? Toe word hy in ʼn ander plek as Lasarus wakker geword – in die doderyk! Dis nie dieselfde as die hel nie, maar die wagkamer na die hel soos wat die paradys die wagkamer na die hemel is. Hemel of hel word eers na die laaste oordeel die mens se eindbestemming.
Die ryk man smeek om ʼn druppel water “ .... want ek ly smarte in hierdie vlam” (:24). Dis nie ʼn letterlik vlam nie want ʼn vlam lig gee en die doderyk is stikdonker. Daarom word dit die buitenste duisternis genoem. Hierdie vlam waarvan die ryke praat, is ʼn verterende wroeging en selfverwyt oor ʼn verkeerde keuse wat hy in die lewe gemaak het. Dit het hom ʼn ewige geluksaligheid gekos. Daarbenewens het hy geweet dat die hel op hom wag! Elke mens het die reg om keuses te maak, nie om die gevolge daarvan vry te spring nie
In sy smarte verlang die ryk man ʼn daad van genade. Die geringheid van sy versoek, beklemtoon juis die erns van sy smart en Abraham se afwysende antwoord op die finaliteit van God se oordeel. Na die dood kan niks die mens se ewige lot verander nie. Hy kan nie terugkom en regmaak wat hy verbrou het nie. Daarom gaan die ryke nie verder daarop in nie. Hy kom wel met ʼn versoek dat sy vyf broers dringend gewaarsku moet word: “ .... sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie” (:28).
Die ryk man was darem nie heeltemal gevoelloos teenoor mense nie. Sy broers moet gewaarsku word om hul lewens te verander terwyl hulle nog tyd aan hulle kant het. Abraham antwoord reguit: “ .... Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister” (:29). In vandag se taal sou hy vir hom sê: “Hulle het mos die Bybel!” In Engels staan Bible vir basic information before leaving earth. En dis wat die ryke by sy broers wou tuisbring. Hy het self versuim om sy saak met God reg te maak. Sy broers moes nie dieselfde ding oorkom nie!
Tydens Jesus se verhoor vra Pilatus: ”.... Wat moet ek doen met Jesus wat genoem word Christus?...” (Mt.27:22). Dis ʼn universele vraag. Net so min as wat Pilatus of enigeen in die skare neutraal teenoor Jesus kon staan, kan enige mens neutraal teenoor Hom staan. Neutrale mense is die duiwel se pionne. Elke mens maak ʼn bewustelike keuse – vir of teen Jesus. Die keuse vir Hom is die gevolg van die Heilige Gees wat die wedergeboorte bewerk.
Weet jy wat die waarde van die wedergeboorte is? Jy sterf net een maal. Wie twee maal gebore word, fisies en daarna ook geestelik, sterf net eenmaal – die fisiese dood. Wie net een maal gebore word en nie die wedergeboorte smaak nie, sterf twee keer - die fisiese en ewige dood soos die ryk man in die verhaal. Onthou: Jy kry nie ʼn tweede kans nie; slegs ʼn tweede geboorte!
Ons kan die lewe nie van vooraf begin nie. Ons kan slegs deur die bekering ʼn ander eindbestemming bereik. As jy in die verkeerde rigting beweeg, moet jy onthou dat God U-draaie toelaat. ‘n Doodloopstraat is die beste plek vir ‘n omdraai. ʼn Laat bekering is selde waar, maar ʼn ware bekering is nooit te laat nie. Waar is jou siel een minuut na jou dood?