Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Dr Verwoerd oor apartheid: 'Sê nou ek boer met mielies en jy boer met beeste. As jou beeste in die nag kom en my mielies opvreet, is daar mos moeilikheid, groot moeilikheid. Die mielies is weg en die beeste word vet. Nou is ons kwaaivriende. Maar as ons nou ooreenkom om 'n heining tussenin te sit kan ek mos voortgaan met my mielieplantery en jy met jou beeste, want hulle kan nie meer in die nag oorkom nie. Dan gee ek jou van my mielies vir voer, en jy gee vir my melk en ek koop by jou vleis. Dan is ons goeie bure en almal is tevrede. So is apartheid: leef en laat leef. ' "
OM DIE BYBEL REG TE VERSTAAN
Ds. Andre van den Berg
Mense verwar maklik dwaalleraars se vermoë om Bybeltekste aan te haal met ʼn uitsonderlike kennis die Bybel. Dit word in Engels Bible punching genoem en deur dwaalleraars gebruik om geloofwaardigheid aan hul valse leer te gee. Die enigste teenvoeter hiervoor is ʼn deeglike kennis van die Bybel omdat dit die waaragtige woord van ʼn oneindige God is waarmee Hy sy wil aan die mens bekend maak en uitverkorenes mee red.
God leer gelowiges deur sy Woord om sy Woord reg te verstaan. Daarvoor is daar agt beginsels:
(i) Die Bybel is in sy geheel die geopenbaarde Woord van God.
Die Bybel het geen gelyke nie. Mense moet alleenlik God se voorskrifte vir die verstaan daarvan gebruik. Niemand durf sy eie reëls vir die uitleg daarvan gebruik nie. Wie so vermetel is, dwaal sonder uitsondering.
“Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo” (1 Thess.2:13).
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).
“Want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. (2 Pet.1:21)
“Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openb.22:18).
(ii) Elke woord in die Bybel is volmaak en waar
Omdat die Bybel volmaaken volstrek betroubaar is, bevat dit geen foute of teenstrydighede nie. Dit wat na teenstrydighede lyk, word verkeerd verstaan. God gebruik dikwels oënskynlike teenstrydighede om mense se aandag op 'n belangrike les te vestig wat hul noop om dit van nader te bestudeer.
“Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in 'n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal” (Ps.12:6).
“Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid” (Ps.119:160).
“Elke woord van God is gelouter; Hy is 'n skild vir die wat by Hom skuil” (Spr.30:5).
“…En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar” (Openb.21:5).
(iii) Redding kom deur die Bybel te lees.
Die Heilige Gees bewerk redding deur Bybellees.
“Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (Rom.1:16).
“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Rom.10:17).
Selfs 'n kind kan die Bybel verstaan om gered te word. Paulus skryf aan Timoteus: “En dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim3:15).
(iv) Om die Bybel te verstaan, moet die Heilige Gees geestelike oë open.
“Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak” (Job 32:8).
“Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet” (Ps.119:18).
“Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan “ (Luk.24:45).
“Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor.2:14).
(v) Die Bybel is selfverklarend
Omdat die Bybel wesenlik deur God geskryf is, kan woorde en sinne uit een gedeelte met dié van 'n ander gedeelte vergelyk word. Dis egter ook so dat die Bybel só geskryf is dat ongelowiges dit moeilik verstaan.
“Ek wil my mond open met 'n spreuk en raaisels uit die voortyd laat stroom. Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het” (Ps.78:2,3).
“Dit is die eer van God om 'n saak te verberg, maar die eer van konings om 'n saak na te speur” (Spr.25:2).
“… die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh.6:63).
“Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk “ (1 Kor.2:13).
Petrus skryf selfs dat Paulus se briewe moeilik is om te verstaan: “Net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf” (2 Pet 3:16).
(vi) Die Bybel getuig self dat dit van A tot Z met die Evangelie van redding gevul is en dat talle OT verhale simbolies na Jesus verwys.
“En Hy sê vir hulle: O, onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het” (Luk.24:25-27).
“Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig” (Joh.5:39).
“Maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al sy profete, dat die Christus sou ly” (Hand.3:18).
“En ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig” (Hand.3:24).
“Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God” (Hebr. 10:7).
(vii) Die Bybel bevat ook simboliese boodskappe
“Daarop sê Jesus vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs. En hulle het onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is omdat ons geen brode saamgeneem het nie. Maar Jesus het dit opgemerk en vir hulle gesê: Wat redeneer julle onder mekaar, kleingelowiges, dat julle geen brode saamgeneem het nie?” (Mt.16:6-8)
“Nikodemus sê vir Hom: Hoe kan 'n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie 'n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?” (Joh.3:4).
“Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? ... Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry” (Joh.4:11,13).
“Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee. Die Jode het toe met mekaar gestry en gesê: Hoe kan Hy ons sy vlees gee om te eet? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie .... En baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister? En Jesus het in Homself geweet dat sy dissipels hieroor murmureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot 'n aanstoot? .... Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie” (Joh.6:51-53; 60-61,66).
(viii) Die Bybel spreek die mensse grootste behoefte aan – redding.
“Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh.6:63).
“Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde” (Rom.7:14).
Omdat baie van die kerklui in die tyd van Christus onvoldoende kennis van die Skrifte gehad het, het hulle dinge gedoen en verkondig wat God nie behaag het nie. “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29).
Alhoewel Christus die Sadduseërs hier aanspreek, geld hierdie vermaning in die algemeen vir elkeen wat dwaalleer verkondig.Mense trap gereeld in dieselfde strik. Onsuiwere motiewe baar dwaalleer. God se blye boodskap loop soos 'n draad deur die hele Bybel en vertel van sondaars se behoefte om van God se oordeel gered te word. Dwaalleraars probeer dit verhoed.