Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons nie van die ongelowiges verskil, het ons niks om vir hulle om te sê nie. Sonder ’n getuienis is ons vir die koninkryk van God net so min werd as ’n stelskopper met net een been!
SEWE EIENSKAPPE VAN DWAALLERAARS
soos deur die apostel Petrus beskryf
Ds. Andre van den Berg
Satan verwek van meet af aan dwaalleraars om mense van die waarheid te vervreem. Jesus waarsku in sy Profetiese Rede dat dit teen die einde van die tyd so sal toeneem, dat min mense staande gaan bly. Die apostel Petrus het eersterangse kennis van hulle skadelike optredes in die vroeë kerk gehad en ken in sy tweede Sendbriefsewe eienskappe aan hulle toe.
1. Dwaalleraars gebruik ʼn ander kenbron as die Skrif: “Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit” (2 Pet.1:16).
Met hierdie verdigsels trek hulle die aandag op hulself: “...en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie” (2 Pet.2:3).
2. Christus staan nie sentraal in hul boodskappe nie. Die Bybel leer dat gelowiges in Hom alles het wat vir die lewe nodig is: “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug” (2 Pet.1:3).
Dwaalleraars skuif Christus op die rand en deel ander dinge aan hul hoorders mee: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring” (2 Pet.2:1).
Die woord heimlik het in Grieks die betekenis van iemand wat uit ʼn land gesit is en ongesiens terug glip. Dit gebeur ook in die kerk. Dwaalleraars verloën Christus nie openlik nie, maar skuif Hom baie subtiel na die rand. Die boodskap van verlossing blyk vir hulle oorbodig te wees. Daarbenewens het hulle nuwe dinge om te sê.
3. Dwaalleer het ʼn vernietigende uitwerking. Nogtans bewaar Christus ware gelowiges van struikeling: “...waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Pet.1:4). Ongelowiges bly egter slawe: “Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waardeur ’n mens oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf geword” (2 Pet.2:19).
4. Dwaalleraars is baie vermetel. “Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan en die loon van die ongeregtigheid ontvang. Hulle ag die weelderigheid oordag ’n genot; hulle is skandvlekke en smette, weelderig in hul bedrieërye as hulle met julle saamsmul; met oë vol van owerspel, wat nie ophou om te sondig nie; hulle verlok onvaste siele, hulle het ’n hart geoefen in hebsug, hulle is kinders van die vervloeking” (2 Pet.2:12-14).
Daarenteen is gelowiges nederig en deugsaam: “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie” (2 Pet1:5-8).
5. Dwaalleraars maak valse aansprake. “Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel” (2 Pet.2:18). Gelowiges vind geen aanklank daarby nie. ” En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet.1:19).
6. Gesonde bome dra gesonde vrugte en kom gelowiges deur Skrifgetroue prediking tot ʼn beter kennis van Christus: “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie” (2 Pet.1:8). Dwaalleraars is egter soos waterlose fonteine: “Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ’n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word” (2 Pet2:17). Hulle belowe maar lewer niks op nie.
7. Ware gelowiges ontvang ʼn hartlike welkom in die hemel:“Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet1:11). Dwaalleraars gaan daarenteen ʼn vinnige verderf tegemoet: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring” (2 Pet 2:1). Gevolglik hang die swaard van oordeel lewenslank oor hul kop: “ ... Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie” (2 Pet 2:3).