Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is jy bekommerd oor ons volk? Booshede verteer ons soos roes yster verteer. Kan ons iets doen of is ons magteloos teen hierdie booshede? Ja, ons kan iets doen; nee, ons staan nie magteloos nie. Deur jou hart te ondersoek, gee God jou die potensiaal om die wêreld te verander.
DIE LAASTE VERVOLGING
Ds Andrè vd Berg
Inleiding
Die Bybel moedig gelowiges nie aan om te bid dat hulle vir hul geloof vervolg word ten einde ʼn plek in die hemel te verdien nie. Petrus waarsku gelowiges egter baie duidelik om geloofsvervolging te verwag:
“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Pet.4:12).
Johannes geedie rede vir geloofsvervolging – ʼn wêreld wat Jesus haat: “Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie” (1 Joh.3:13).Geloofsvervolging is deel van geloofsbeproewing. Redding word egter nie daardeurverdien nie. Daarvoor het Jesus die volle prys aan die kruis betaal.
Geloofsvervolging versterk geloof:
”En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Tim.3:12).
Petrus het sy eerste Sendbrief tydens die Jood-Romeinse vervolging van Christene geskryf en is as’t ware ʼn handboek virgelowiges wat vir hulle geloof in Jesus Christus vervolg is:
“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Pet.4:12).
Daar was sedertdien nog nooit ʼn eeu sonder vervolging nie en geld hierdie waarheid dus vir alle gelowiges totdat Jesus weer kom. Vervolging neem verskeie vorms aan hetsy lastering, belediging, te nakoming, fisiese pyniging of martelaarskap.
God het ʼn doel daarmee:
“...maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik” (1 Pet.3:13,14).
Jesus sê self: “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid.....Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het” (Mt.5:10-12).
1.Teenoorgesteldes
Namate die valse kerk van krag tot krag gaan, staar die ware kerk toenemend vervolging in die gesig. Dit bevry dit van wêreldsheid en skei die koring van die kaf sodat die kerk weer kerk kan word soos Jesus dit wil hê.
Petrus was besorg oor die kerkverval in sy tyd:
“Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde,om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God.Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgodery.Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saamloop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster” (1 Pet.4:1-4).
2. Vroeë vervolgings
Gelowiges is van meet af aan in Satan se visier. Miljoene mense is weens hul geloof gedood, veral aan die hand van die Roomse Kerk tydens die Middeleeue. Sy was soos ʼn duif met roofvoël-instinkte!
Omdat die Joodse geskrifte met die vroeë kerk se doen en late ooreengestem het, het gelowiges bly hoop dat hul volksgenote die Christendom nog sou aanvaar. Daarbenewens het die Jode die Christene tot so laat as die tweede eeu nooit as ʼn afsonderlike deel van hul gemeenskap beskou nie.
Jesus het nooit die onderwerp van geloofsvervolging vermy nie en gewaarsku dat mense wat die waarheid praat, teengestaan sal word. Vervolging beteken letterlik om te agtervolg soos wat Saul vir Dawid agtervolg het om hom leed aan te doen:
“Die wat my sonder oorsaak haat, is meer as die hare van my hoof; die wat klaar staan om my te vernietig, wat sonder grond my vyande is, is magtig....” (Ps.69:5).
Paulus skryf dat bose geeste vervolging aanvuur:
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes.6:12).
Vervolging is ʼn harde werklikheid waarmee elke gelowige rekening moet hou. Dis egter nie altyd sleg nie, maar help ook gelowiges om geestelik te groei en ware gelowiges van skyngelowiges te onderskei.
3. Die groot verdrukking:
Die groot verdrukking waarvan Jesus praat, vind net voor die wederkoms van Christus plaas. Dit sal deur ʼn ongekende verdrukking van gelowiges gekenmerk word:
“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mt.24:21,22).
Daar was maar altyd geloofsvervolging in verskillende wêrelddele gewees. Hierdie laaste een sal egter wêreldwyd wees as die Antichris oorlog teen die laaste gelowiges gaan voer en die valse kerk vir sy doel gebruik.
Satan sal alles beheer; ook kerke wat die waarheid verlaat het. Dis nie net die Satan wat hom as ʼn engel van die lig vermom nie – sy diensknegte ook!
“... die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:4).
4. Wat staan gelowiges te doen?
Soos wat mense hul vir voorspelde natuurrampe voorberei, moet gelowiges dit ook met die oog op die komende verdrukking doen. Dit kom vinnig nader. Wat kan/behoort gelowiges ter voorbereiding te doen?
1. Baie seker maak van ʼn hegte verhouding met Jesus:
“Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie” (Joh.15:4).
2. Nie op mense nie maar op God alleen vertrou.
”Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:31-33).
3. Wees gewillig om vir Jesusgeloof te sterf.
“ .... As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel” (Mt.16:24-26).
“Want ek word alreeds as ’n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Tim.4:6,7).
4. Sorg vir opregte geestelike vriende. Gelowiges gaan mekaar baie nodig hê vir onderskraging. Dink maar aan Daniel en sy drie vriende in die aangesig van die dood en hoe God hul van ʼn gewisse dood gered het.
Slot
As ons iemand wil volg wat deur die wêreld gekruisig is, moet ons self verwag om gekruisig te word. Gelowiges staan egter nie alleen in hierdie stryd nie. Jesus belowe gelowiges dat Hy tot aan die voleinding met hulle is (Mt.28:20). Daar gaan nie ʼn “wegraping” voor die groot verdrukking wees nie. Die Bybel weet nie van so ʼn ontsnaproete nie. Dis dwaalleer!