Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Só lief het God ons dat Hy ons na sý beeld geskape het en ons daardeur 'n vennoot van liefde gemaak het, 'n wese met wie Hy praat, wat Hy soos 'n kind liefhet en wat Hom kan antwoord en as ons Vader kan liefhê.
BRANDENDE HARTE
Ds Andrè vd Berg
“En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?”(Luk.24:32).
As ons vanoggend in Griekeland was, sou ons iets besonders aanskou het. In die Griekse Ortodokse Kerk is Opstandingsdag die belangrikste dag in hul kerklike jaar en volg dit ʼn aangrypende eeu-oue ritueel. Net voor dagbreek stap kerkgangers met brandende kerse kerktoe. Hierdie skouspel van liggies deur die dorp, is aangrypend. Op daardie dag groet mense mekaar anders as ander dae deur te sê: “Christus het opgestaan” waarop die ander antwoord: “Ja, waarlik, Hy het opgestaan!”
Die opstanding van Jesus is die grootste wonderfeit van die Christengeloof. Hierdie kernboodskap van die Bybel bevat die grootste denkbare troos vir gelowiges: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie....” (Joh.11:25,26).
Dit beteken dat elkeen wat Jesus as Verlosser aangeneem het, net soos Hy sal sterf MAAR ook net soos Hy uit die dood sal opstaan. Al lyk die dood finaal, is dit nie die einde van jou nie. Jesus se dood het destyds ook finaal gelyk, maar dit was nie. Jesus se oorwinning oor die dood, verlos gelowiges se vrees daarvoor: “... en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was “ (Heb.2:15).
Die opstanding van Jesus maak die Christengeloof enig. Boeddha het geleef en gesterf. Mohammed het geleef en gesterf. Jesus het geleef, gesterf MAAR weer uit die dood opgestaan. Niemand voor of ná Hom het dit reggekry nie! Daarom kom ‘n mens net tot een logiese gevolgtrekking – net Jesus Christus is waarlik God! Al die ander was sterflinge en deur die dood tot niet gemaak.
Al leef afgodsdienaars ook hoe voorbeeldig, is alles tevergeefs want daar is geen redding buite Jesus Christus nie:” ... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Daar is net een Redder; al die ander is afgode! Daar is net een godsdiens en dis die Christengeloof; al die ander is afgodsdiens en bring niemand in die hemel nie! Die opstanding van Jesus bring hoop vir die wêreld en maak droewige harte brandend soos dié van Emmaus in Luk.24. Emmaus was ʼn klein dorpie 12 km van Jerusalem met talle Jesusvolgelinge. In Luk.24 ontmoet ons twee van hulle van Jerusalem op pad terug huistoe en hulle is verward! Die afgelope paar dae het hulle koppe deurmekaar gemaak – eers Jesus se inhegtenisname, toe die verhoor, daarna die kruisiging en helaas ʼn leë graf! Dit was net te veel en tyd om huistoe te gaan. So loop en praat die twee om die kloutjie by die oor te kry. Miskien was hulle baie teleurgestel en gehoop dat Jesus die Een was wat die Romeinse owerheid sou verdryf. Dit was ʼn algemene mistasting by baie van Jesus se volgelinge– mense het ʼn politieke verlosser verwag. Dink maar aan die vraag enkele oomblikke voor die hemelvaart: “ Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Hand.1:6).
Mense het ʼn verkeerde beeld en verwagting van die Messias gehad en daaraan vasgeklou. Die Jode het wel ʼn Messias verwag, maar nie as ʼn geestelike verlosser nie; eerder ʼn politieke verlosser. Daarom het baie van hul aanvanklike geesdrif gedaal toe Jesus hulle nie van die Romeinse juk bevry nie en vir mekaar gesê: “ Wel, dan kan Hy nie die Messias wees nie!”
Laat ons nie dieselfde fout as die Jode maak deur vir onsself ʼn beeld van God te maak nie. Want dan kom daar ʼn dag dat dinge op geestelike gebied nie sin maak nie en ons soos die Emmaus-inwoners teleurgesteld raak. Almal wat met ʼn verkeerde beeld van Jesus sit, raak iewers op die lewenspad teleurgesteld. En daarvoor is daar net een raad – ken die Bybel en glo aan die God daarvan.
Wie dit nie doen nie, is strenggesproke met afgodery besig – jy maak van jou voorstelling van God ʼn god. Dis wat met Israel en die goue kalf in die woestyn gebeur het! Israel het nie willens en wetens ʼn afgod aanbid nie maar geglo dat hulle God deur die goue kalf gedien het. Hulle fout het baie lewens gekos!
Vir die manne van Emmaus was die kruisiging ʼn ongekende antiklimaks. Hulle het dit gesien en moed verloor. Israel kon nie meer verlos word nie. Jesus is dood en dooies kan nie verlos nie! Miskien het hulle gewonder wat van al Jesus se volgelinge sou word? Verdwyn of terugkruip Joodse kerk toe? Sou die Evangelie enigsins verder verkondig kon word? Wie sou verder daarin glo? Die seepbel het gebars en alles het so sinneloos gelyk!
Met vrae worstelende in hul gemoed het Jesus nader gekom en Hom bewustelik onbekend aan hulle gemaak. Hy het die eerste skuif gemaak om hul verwarring op te klaar. Hulle verkeerde beeld moes eers afgebreek word voordat die regte een opgerig kon word. Jesus begin baie taktvol en maak asof Hy niks van die gebeure in Jerusalem weet nie. Daarom vra die manne Hom verbaas: “Is U alleen ʼn vreemdeling in Jerusalem?”
Hulle verwarring was aan een ding te wyte – hulle het die Skrif nie verstaan nie. Daarna het Jesus hulle in die Skrif onderrig, oor die Messias wat sou sterf en opstaan. Hulle het Hom vir ete genooi en het Hy hulle oë geopen om Hom te herken.
ʼn Mens kan hul verbasing kwalik indink – die een oomblik treur hulle oor Hom en die volgende oomblik sit Hy by hulle aan tafel en wat meer is – HY LEEF! Daarna het hulle geen twyfel gehad dat Hy die Messias was nie, want die grootste wonder het plaasgevind – om die dood te oorwin!
Ons is in ʼn soortgelyke bootjie as die twee van Emmaus. Ons leef ook in ʼn verwarde wêreld vol verwronge idees van Jesus. Soos die Jode van ouds verlang ons ook eerder na politieke verlossing wat ons van die roofsugtige staatsmag oor ons kan verlos. Maar ons vergeet wat die Woord van God sê: “... en as my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron.7:14).
Jesus sê vir die dissipels: “... Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Mt.28:18).Paulus haal Jesaja aan:“... So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely” (Rom.14:11). Jesus toon hierdie mag die duidelikste met sy opstanding uit die dode. Wees dus verseker dat die volksvyand geen tree sal gee oor daardie streep wat die Here alreeds vir hulle getrek het nie.
Wat staan ons te doen? Om soos die twee Emmaus-manne vir ʼn wanhopige volk te gaan sê dat Jesus die Verlosser-Oorwinnaar is en oor alle mag in lewe en in dood beskik. Laat ons eerder oor die verlorenheid van ons volk se siele as oor hul politieke verlossing besorg wees. Jesus wat uit die dood opgestaan het, sal vir die res sorg!