Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe – Prediker 5:3
ALLES VAN GOD IS HEILIG
Ds Andrè vd Berg
“….. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond” (Ex.3:5).
Die verhaal van Moses is een van die aangrypendste verhale in die Bybel. Hy was 80 jaar oud toe God hom geroep het om sy volk uit Egipte te lei. Moses was toe al vir 40 jaar ’n voortvlugtige wat nadat hy ’n Egiptenaar wat ’n volksgenoot mishandel het, in Egipte doodgeslaan het.
Sy roeping begin aan die voet van Horeb, dieselfde berg waar hy later die Tien Gebooie ontvang het. Hy het sy skoonvader se vee opgepas toe God uit ’n brandende bos na hom geroep en gesê het: “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond”.
Wat het dié grond heilig gemaak? Die teenwoordigheid van die heilige God! Heilig beteken opsy sit of afsonder. Moses het nie daar voor een van Egipte se afgode gestaan nie, maar voor die heilige Skepper-God wat daardie grond op daardie oomblik heilig gemaak het. Voor die heilige God is alles heilig.
Jos.5:15is gelykluidende woorde: “Toe sê die leërowerste van die Here vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy opstaan, is heilig. En Josua het so gedoen” (Jos.5:15).
God is ’n heilige God wat in sy heiligheid wonders doen. Ná die deurtog deur die Skelfsee, sing Moses: “O Here, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid…. een wat wonders doen?” (Ex.15:11).
God is heilig in al sy werke: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig en geen duisternis is in Hom nie” (1 Joh.1:5). God eis van gelowiges om sy heiligheid te alle tye te eerbiedig: “Want Ek is die Here julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig…” (Lev.11:44).
Omdat God heilig is, is Hy hoog bo die mens verhewe: “Die Here is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid. Wie is soos die Here onse God, wat hoog woon, wat laag neersien, in die hemel en op die aarde?” (Ps.113:4-6). Daarom durf geen mens sy heiligheid minag en Hom neerhaal nie. Ons moet streef om na Hom toe op te klim: “Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek?” (Ps.24:3). Die mens se lewe moet reg wees; hy moet na God toe opklim; nie Hom na die mens se vlak aftrek nie!
Wie Hom probeer aftrek, eerbiedig nie sy heiligheid nie en is in effek met afgodery besig. Dit was Israel se fout toe hulle die goue kalf gemaak het – hulle wou nie afgode begin dien nie, maar eerder God se heiligheid tot op hulle vlak neerhaal.
As God net aan een eienskap geken moes word, sou dit sy heiligheid wees. Toe Jesaja in die tempel tot profeet geroep is, was hy van geen ander eienskap meer bewus as God se heiligheid nie. Hy het in ’n verrukking van sinne ook serafs gewaar: “Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad; met twee het hy sy aangesig bedek en met twee het hy sy voete bedek en met twee het hy gevlieg” (Jes.6:2).
Serafs is God se hemelse lakeie met drie paar vlerke. Met die een paar bedek hulle hul gesigte omdat God in sy heerlikheid te groot is om te aanskou. By geleentheid sê God vir Moses: “... Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie” (Ex.33:20). God se heiligheid is so geweldig, dat selfs die serafs nie na Hom kyk nie. Met die tweede paar vlerke bedek hulle hul voete, want selfs die grond voor God is heilig. Hoeveel te meer vir sondaars! Dit verklaar die opdrag aan Moses: “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy opstaan, is heilige grond”.
Met die derde paar vlerke vlieg hulle om God se opdragte uit te voer. “En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (Jes.6:3). Nêrens in die Bybel word enige ander eienskap van God drie maal herhaal nie.
God is heilig. So ook alles wat aan Hom behoort - ook die kerk. In die Twaalf Artikels bely ons dat ons aan ’n heilige, algemene Christelike kerk glo. Ons moet sorg dat die kerk ook afgesonder bly. Satan wil dit ontheilig om na die wêreld te lyk en soos dit op te tree en slaag meesterlik daarin!
Jare gelede vra ’n gevangene my waarom die APK nie opgewekter liedere sing en jeans en tekkies kerk toe dra nie? Ek het hom geantwoord dat God se heiligheid dit nie toelaat nie en verduidelik dat heilig afsonder beteken. God is heilig (afgesonder); niks vergelyk naastenby met Hom nie.
Die Bybel is heilig (afgesonder); geen ander boek vergelyk enigsins daarmee nie. Die erediens is heilig (afgesonder). Dis nie ’n klub vir vrome mense nie maar ʼn gemeenskap van sondaars wat vergifnis van sonde ontvang het. Hoe durf my gewyde musiek soos dié van die wêreld klink! Kerkmusiek moet heilige ontroering in my hart bring. “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1 Kor.14:40). Daarom hou ek niks van die moderne Gospel musiek nie. Gaan dit om die heiligheid van God of net om lekker te klink? Daarbenewens is baie van die woorde onskriftuurlik, soetsappig en sentimenteel.
Wat van kleredrag? Moet dit wat ek kerktoe aantrek, ook van my eerbied vir God se heiligheid getuig? Vir seker! By ’n erediens staan sondaars voor ’n heilige God. Net die beste is goed genoeg vir Hom!
Kerkgang mag nooit ’n onheilige sirkusatmosfeer hê nie. Jesus Christus is die Rots wat vir sondaars geklief is en die kerk die skeur waardeur die lewende water na almal wat dors het, vloei. Daarom beteken die kerk vir die heilige God die meeste wanneer dit die minste na die onheilige wêreld lyk.
Ongelukkig gebeur dit nie. Mense het nie meer eerbied vir God se heiligheid nie. In plaas daarvan dat die kerk in die wêreld beweeg, het die wêreld in die kerk inbeweeg. Sulke oppervlakkigheid maak die kerklike wêreld hol en maak dat baie van die “lekker kerke” meer in hul uitstalvensters as op hulle geestelike rakke het!
Pasop vir sg. liturgiese vernuwing – dit skep die indruk van byderwetsheid terwyl dit in werklikheid dikwels ʼn ontheiliging is van dit wat heilig behoort te wees!
Jesus sê in die Bergpredikasie dat gelowiges sout van die aarde is. Hulle mag hul nie aan die wêreld onttrek nie. Dan staan daar ook iets baie belangrik; waak dat die sout nie laf word nie. Moenie in die wêreld verdwyn nie.
Daar is baie kerke in die wêreld. Waar is die ware een? Waar God se heiligheid eerbiedig en sy Woord suiwer verkondig word. Ons gaan kerk toe om God se stem te hoor en sy heiligheid te eerbiedig. Ons staan op heilige grond en trek in die gees ons skoene uit. Mag ons eerbied vir God se heiligheid met onsigbare klinknaels aan ons siele bly vassit totdat Jesus eersdaags op die wolke kom!