Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie is die mense wat die tekens van die tye, ook van dié tye waarin ons nou leef, duidelik raaksien en akkuraat verstaan? In Mt 16 sê Jesus sommer reguit dat 'n slegte en owerspelige geslag tevergeefs sal soek na tekens maar dat dit nie aan hom gegee sal word nie. Dus gee die HERE self aan mense hierdie insig – aan wie dan? Net aan diegene wie hulle harte op Hom rig, met Hom 'n oop verhouding het – aan hulle sal Hy die wysheid gee om betyds te weet wat om te doen in elke situasie.
LIGGAAM EN SIEL
Ds AE vd Berg
“ .... want die mens gaan na sy ewige huis....en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het”(Pred.12:5,7).
Ons het almal iets in gemeen; ons lewe. Lewe is ʼn gawe van God. Ons begin nie sommer op ʼn dag te lewe nie; God beskik dit so: “Loof, volke, onse God, ....wat aan ons siel die lewe gee ...” (Ps.66:8,9). Hierdie gawe van God is tweeledig - eerstens ʼn lewe op aarde en tweedens ʼn lewe in die hiernamaals.
Die eerste deel is kort. Moses skryf: “Want al ons dae gaan verby .. ons bring ons jare deur soos ’n gedagte....”(Ps.90:9). Dit gaan vinnig om omdat dit ʼn reis huiswaarts is: Salomo skryf: “ .... want die mens gaan na sy ewige huis....”.
Ons kan niks aan die lengte van die eerste lewe doen nie, slegs aan die diepte (sin) daarvan. Hoe maak dit sin? Deur die kans wat die eerste lewe jou bied om jou siel vir die tweede lewe voor te berei; ʼn lewe wat nooit eindig nie. Jy kry net eenmaal hierdie kans. Dis soos ʼn valskermsprong– jy moet dit die eerste keer regkry. Daar is nie nog ʼn geleentheid nie.
Die eerste lewe is nie sonder sorge nie en word dikwels deur vyande versuur. Die grootste van hierdie vyande is die dood omdat dit die eerste lewe beëindig. Daar is niks so seker as dat elkeen van ons hierdie lewe eendag sal verloor nie. Dis die verskriklikste ding wat ʼn mens kan oorkom want dit vernietig jou in geheel, al lê jy ook soos ou Lenin gebalsem in ʼn glaskas!
Maar waar kom die dood vandaan? Dis die gevolg van sonde: “Want die loon van die sonde is die dood...” (Rom.6:23).Sonde het ʼn verhoudingsbreuk tussen God en mens veroorsaak en die dood is die boete wat ons almal daarvoor betaal. Teenoor die dood staan die ewige lewe. Adam en Eva het aanvanklik die ewige lewe gehad maar het dit met die sondeval verloor. God het hul jammer gekry en hulle belowe dat ʼn Verlosser gebore sou word wat oor die sonde en dood sal triomfeer sodat die mens tog die ewige lewe kom verkry.
Jesus sê iets wonderlik wat die naarheid van die dood neutraliseer: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe”(Joh.6:47).Wie tot bekering kom, verkry hemelse onsterflikheid. Die dood is die gevolg van ʼn wegbreek van God. Bekering is ʼn terugbeweeg na Hom. Hierdie ewige lewe breek nie eers ná jou dood aan nie. Jy deel vanaf jou bekering daarin!
Elke mens bestaan uit twee dele - liggaam en siel. God het die mens uit die stof van die aarde geskep en toe lewensasem in hom geblaas wat aan hom ʼn siel besorg het. Diere het nie siele nie; slegs ʼn liggaam. Die mens se liggaam is uit aardse stof/materie gemaak. Ná die sondeval sê God vir Adam: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Gen.3:19).
Die liggaam bly na die dood op die aarde agter. Die siel is egter nie van aardse stof gemaak nie en bly nie na die dood op die aarde agter nie. Omdat God dit gegee het, keer dit na Hom in die hemel toe terug: “ .... want die mens gaan na sy ewige huis..... en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het”.
Watter nut het die liggaam dan as dit tog maar vergaan? Dis die voertuig van die siel. Soos wat jy ʼn voertuig beheer, doen die siel dit met die liggaam. Die liggaam doen slegs wat die siel hom aansê om te doen. Daarom is die siel die belangrikste van die twee dele waaruit die mens bestaan.
Voor die sondeval was Adam met sy siel aan God verbind. Sonde het die band deurgesny. En dit was die eintlike dood: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het (Rom.5:12).
Die dood is egter nie ʼn algehele vernietiging van die mens nie, maar slegs ʼn ontbinding van alle lewensverhoudings. As die liggaam van die siel skei, word alle bande met stoflike dinge losgemaak. Al leef die mens nie meer op die aarde nie, leef hy in ʼn ander vorm voort. Die verhaal van Lasarus en die ryk man in Luk.16 leer ons die onsterflikheid van die siel. Ná die dood is gelowiges onmiddellik by God en verlorenes in die ewige verdoemenis. Daar is geen omdraai of tweede kans nie.
Wat ʼn vertroosting dat as ons sterf ons nie in die niet verdwyn nie!Toe God vir die eerste keer met Moses praat, stel Hy hom voor as die God van Abraham, Isak en Jakob.Hy is nie ʼn God van dooies nie maar van lewendes. Die drie aartsvaders was op daardie oomblik by Hom waar hulle vandag nog is. Jesus beloof die misdadiger aan die kruis dat hy vandag nog saam met Hom in die paradys sal wees. Hy hoef nie vir die wederkoms te wag om die ewige geluksaligheid te betree nie; dit gebeur onmiddellik na die dood.
In sy laaste kruiswoord sê Jesus: “Vader, in u hande gee ek my gees oor”.(Luk.23:46). Gees en siel is wisselterme. Met die steniging van Stefanus, sê hy: “Here Jesus, ontvang my gees!” (Hand.7:60).Dit onderstreep weereens die heilsfeit dat as die siel die liggaam verlaat, dit na God terugkeer:“en die gees na God terugkeer wat dit gegee het”. Dis vir gelowiges blydskap. Paulus juig: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor.15:55).
In Openbaring sien Johannes die siele van hulle wat ter wille van hul getuienis van Jesus gedood is: “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het....” (Openb.6:9,10).Hulle siele het nie met hul liggame gesterf nie. Ons s’n ook nie!
Die ware kerk hou deur die eeue aan die geloof van die onsterflikheid van die siel vas asook dat die stoflike wêreld eendag gereinig sal word.“Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet.3:13). Dan kry die siel tydens die opstanding van die vlees ʼn nuwe, verheerlikte liggaam soos wat ons in die 12 Artikels bely.
Ek het aan die begin gesê dat ons almal iets in gemeen het - ons lewe. Ons is nog almal met die eerste deel van ons bestaan lewe besig. Is jy bang om dood te gaan? Moenie; wees eerder bang om verkeerd te leef want hoe jy leef, bepaal hoe jy gaan sterf. Jy kan nie verkeerd leef en reg sterf nie!
Wie ’n lewe vir Jesus leef, sal dit sonder hartseer verlaat. As jy vir jou lewe sorg, sal Jesus vir jou na die dood sorg. Paulus verlang selfs na die dood: “Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word” (2 Kor.5:2). Dis mos hoe ʼn gelowige praat!
Die dood is nie ʼn punt nie, maar eerder ʼn komma in die verhaal van ons lewe. As ons sterf, is ons nie weg nie. Ons het slegs van rigting verander.Die lewe is soos ʼn lig wat aan ons geleen is wat ons so helder as moontlik moet laat skyn voordat God dit op sy bepaalde tyd vir altyd afskakel.
Ons lewens is besig om minuut vir minuut einde te kry. Ons kan enige tyd sterf. Daarom sê Salomo vir jongmense: “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid...”En vir ons ouer mense sê Moses: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!” (Ps.90:12).