Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wonder dikwels waarom sommige mense situasies met soveel wysheid en insig benader terwyl ander weer dwarsweg in moeilike omstandighede handel en onnadenkend groot skade veroorsaak. Die Psalmdigter gee die antwoord hiervoor wanneer hy sê dat God se Woord as lig die eenvoudiges verstandig maak. Ons hoef dus nie eers baie slim te wees om verstandig te wees nie, die Here se woorde leer ons wysheid wanneer ons bereid is om daarmee opgevoed te word. En diegene wat weier om God's Woord met oop gemoed te bestudeer sal dwars en onwys bly.
AS DIE WAARHEID VERTRAP WORD (SLOT)
Ds AE vd Berg
“Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.....”(Hebr.12:1,2).
Gereformeerde kerke gaan tans so vinnig agteruit, dat dit in die nabye toekoms selfs in die geheel kan verdwyn. En daarvoor is daar talle oorsake. Die hoofoorsaak is ongehoorsaamheid aan die Woord van God wat tot die grootste onverskilligheid na die Hervorminglei. Wat dit so hartseermaak, is dat kerke wat die gevegsleiding teen die Satan moet neem, self die gevegsterrein word!
Dit gebeur as kerke die Bybelse leer waarmee lidmate lank vertroud was, met nuwerwetse vertolkings en liturgiese giere vervang. Kerklui het vir lidmate gesê dat die kerk soos wat hulle dit geken het, net vir ʼn sekere tyd ontwerp is. Daardie tyd is verby en daar moes vernuwe word om met mense in eietydse taal en idioom oor God te laat praat.
Dit klink op die oor aanvaarbaar as dit maar net by taal en idioom gebly het. Dit het nie! Die nuwerwetse inkleding van die kerk het die gesag van die Skrif onder druk geplaas en verwarde lidmate na ander geestelike weivelde laat soek. Talle het die verkeerde koers ingeslaan en by gevoelsgodsdienste beland: “Soos wanneer iemand vlug vir ’n leeu, maar ’n beer loop hom raak; of hy kom in die huis en leun met sy hand teen die muur, en ’n slang byt hom!” (Amos5:19).
Charismatiese kerke bars ten spyte van hul opsigtelik dwaalleer uit hulle nate. Hoe kry hulle dit reg? Hulle slaag meesterlik daarin om emosie oor dogma te laat triomfeer en mense goed oor hulself te laat voel. Mense verwar emosionele opwelling met die werking van die Heilige Gees en die vurige betoog van ʼn ekstrovert met ware prediking.
Alle verwarde lidmate is egter nie na charismatiese kerke toe nie. Die meeste het nie hul lidmaatskap opgesê nie, maar bloot kerkloos geword. Dis aan die voetverkeer Sondae by inkopiesentrums, teaters en ontspanningsoorde duidelik!
Die vroeë kerk het ook dwaalleer en afvalligheid geken. Dit het vir sommige gelowiges gelyk asof die kerk se dae getel was. Judas bemoedig hulle met die versekering dat Christus nooit beheer oor sy kerk sal verloor nie, maar enduit sal bewaar. Gelowiges moet vier dinge doen om staande te bly:
(1)“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof” (:20). Gelowiges moet mekaar in sulke tye met kennis van die Woord van God versterk. Daarvoor is doelgerigte Bybelstudie onontbeerlik. (2) “ ... en in die Heilige Gees bid” (:20). As gelowiges God vir beskerming, genade en insig bid, sal Hy voorsien (3) “en julleself in die liefde van God bewaar” (:21). Gelowiges moet hul lewe in ʼn liefde van God en ʼn stryd vir die waarheid anker.
Johannes skryf in dieselfde trant: “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê .... Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad ....As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly....”(Joh.14:21; 15:9,10).
(4) “terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (:22).Gelowiges moet altyd na die wederkoms van Jesus uitsien.
Niks klink so sleg soos die flou stem van ʼn siek godsdiens nie. Daarbenewens is geen begrafnis so hartseer soos dié van ʼn volk met die kerk as begrafnisondernemer nie. Die ontsporing van Gereformeerde kerke is die kernhoofstuk van die tragiese verhaal van ʼn volk wat vrywillig ten gronde wou gaan.
Is daar enigsins hoop in hierdie troostelose toestand aan die suidpunt van Afrika? Ja, daar is, maar dan sal Gereformeerde kerke ʼn radikale ommekeer moet maak en van die goedkeuring van homoseksualisme, saamwonery en Roomse invloede soos kindernagmaal en ʼn omstrede Bybelvertalingontslae moet raak. Geen besinning, geen ommekeer nie!
Soos wat die kerk tans verword, kan dit nie in die huidige gedaante oorleef nie. Daar sal baie dringend na die paaie van weleer teruggekeer moet word soos wat God Israel in die tyd van Jeremia versoek het : “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel...” (Jer.6:16).
Ongelukkig weet die meeste lidmate nie wat op die kerklike terrein aangaan nie. Kerkleiers swyg oor die uitverkoop van ou beproefde geesteswaardes en mense eet die vernuwing vir soetkoekop. Pasop, as vernuwing jou nie tot ’n nuwe liefde vir God en die waarheid lei nie, word dit spoedig ʼn wrede waarskuwing!
Lidmate in afvallige Gereformeerde kerke sal ʼn ernstige besluit moet neem - om of na die lig van God se Woord terug te keer of soos grotdiertjie met die donkerte van leuens vrede te maak. Daar is geen neutrale sone nie.
Gelowiges durf nie hul lidmaatskap met ʼn kerk wie se weersin in die waarheid ʼn ope boek is, voortsit nie. Sulke lidmaatskap moet sonder gewetenswroeging verbreek en daalleraars se monde gesnoer word: “ ...hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins.... Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees. Maar spreek jy wat by die gesonde leer pas” (Tit.1:11,13;2:1).
Suid-Afrika het ʼn nood aan leraars met ʼn liefde vir God en sy waarheid; manne wat die boodskap van verlossing in Jesus duidelik en oortuigend verkondig. En daarvoor moet ons bid. Ons het ʼn belofte van Jesus: : “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Mt.7:11). Niks bind ʼn volk so heg aan mekaar as die steenwerk van gesonde godsdiens nie. Bid God vir die regte leraars. Sy belofte aan Israel, is ʼn belofte aan gelowiges: “En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand” (Jer.3:15).
Wie die waarheid liefhet, moet teenstand verwag. Moenie terugdiens nie! Kyk vorentoe en kyk ook op: “Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.....”(Hebr.12:1,2).
Die kerk moet skoongemaak word. Jesus het by geleentheid die tempel selfs met ʼn sweep gereinig. “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebr.4:12).
In sy getuienis voor die Sanhedrin het Stephanus die aanklaers nie heuning om die mond gesmeer nie, maar tot die dood toe reguit gepraat. En dis wat ons moet doen. “Ek het ’n blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering verkondig; kyk, my lippe bedwing ek nie. HERE, U weet dit” (Ps.40:10).
Mag ons stryd vir die waarheid ons liefde vir God bewys. Kom ons speel hierdie spel voluit totdat die eindfluitjie van ons lewens blaas!