Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
“Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige vader, Vredevors" - Jes.9:5
BOU JY OF BROU JY?
Ds AE vd Berg
“Want niemand kan ʼn ander fondament lê as wat daar gelê is nie”
(1 Kor.3:11)
Jare gelede het ʼn Amerikaanse sakeman vir ʼn konferensie in ʼn hotel oorgebly. Aan die oorkant van die straat was bouers met ʼn groot fondament besig. Hy het gewonder wat daarop gebou gaan word; ʼn sakesentrum, ʼn wolkekrabber of wat? Toe hy ʼn jaar later weer daar kom, was hy geskok om te sien wat daarop gebou is – ʼn kafee! Jy bou mos nie klein geboue op groot fondamente nie!
Dit geld ook vir die geloofslewe –Jesus Christus is die fondament waarop groot geestelike bouwerke opgerig moet word. Wat staan op jou lewensfondament? Is dit Jesus waardig of ʼn kafee op ʼn fondament wat ’n wolkekrabber kon dra?
Groot fondamente waarborg nie groot geboue nie soos met die gemeente in Korinthe gebeur het. In Hand.18 word vertel hoe hierdie gemeente ontstaan het. Paulus was dankbaar toe talle van die inwoners tot bekering gekom en ʼn gemeente gevorm het. Hy was egter besorg oor dit wat hulle op dié fondament gebou het - ʼn pondokkie in geestelike sin!
In 1 Kor.3 vra Paulus die gelowiges om hul eie inspekteur van werke te wees en te kyk wat hulle bou. Gelowiges kan nie net tot bekering kom en daarna niks aan hul geestelike lewe doen nie. God is nie met ʼn brouery op sy fondamente gediend nie. Gelowiges moet iets sterk daarop bou: “...maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou” (1 Kor.3:10). Bou jy of brou jy?
Talle latere gemeentes het die selfde fout as Korinte gemaak; hulle het die gekruisigde Jesus as Verlosser aanvaar, maar nie ʼn gekruisigde lewe geleef nie!
Die gehalte van ʼn gemeente hang alles van sy lidmate se geestelike peil af. As hulle nie ʼn gekruisigde lewe lei nie, groei die gemeente nie. In Openb.3 sê God vir die gemeente in Sardis dat hulle wel die naam het dat hulle lewe, maar in sy oë dood is!
Soos wat ʼn gebou nie met een slag gebou word nie, maar steen vir steen, so ook ʼn gemeente - een siel op ʼn slag. Ons wil soms die bouperseel van die wêreld bestorm en alles met een slag omkeer. God werk nie so nie. Hy gaan siel vir siel te werk mits die gemeente ʼn sterk fondament het: “Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord....Kom na Hom toe die lewende steen...Kyk, Ek lê in Sion ʼn uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaamd word nie” (1 Pet.2:1-6).
Elke gelowige is ʼn onmisbare deel van die steenwerk van God se huis. Daarom moet hulle op hul geestelike voorkoms let. Kan mense sien dat hulle lewende stene is? Paulus vra die Korintiërs om op hul voorkoms te let: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef...” (2 Kor.13:5).
Waak teen selfbedrog. Moenie jou verbeel dat daar ʼn paleis op die fondament staan terwyl daar in werklikheid ʼn pondokkie op staan nie! “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken” (Jer.17:9). Calvyn het gesê dat die hart soos ʼn fabriek is wat afgode vervaardig! Paulus skryf aan die gelowiges in Rome: “Want ek weet dat in my.....niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie” ( Rom.7:18).
As daar ooit ʼn volk aan selfbedrog skuldig was, span oud-Israel die kroon! Hierdie eens uitverkore volk het geglo dat daar op haar geestelike fondament ʼn sterk gebou was. Dit was nie so nie. In 1 Kor.10 skryf Paulus daaroor en vra die lesers om uit Israel se foute te leer. Hulle het slegs die naam van uitverkore volk gehad en baie voorregte uit God se hand geniet. Desondanks was hul wellustig (Num.11), afgode gedien (Ex.32), egbreuk gepleeg (Num.25), gekla (Num 16), God getart (Num.21) en ʼn hele lang lys van ander oortredings, en dit nadat God hulle wonderbaarlikuit Egipte bevry het!
Laat ons uit Israel se geskiedenis leer dat geestelike voorregte jou geen reg gee om te sondig nie. In die lig hiervan pleit Paulus by die Korintiërs om van sonde af weg te vlug en noem in hoofstuk 10 vier spesifieke sondes wat vermy moet word. Moenie afgode dien nie (:7), moenie onsedelik wees nie (:8), moenie God tart en met die spreekwoordelike fyn witbrood van God se genade onder die arm gedurig kla en mor nie (:10).
God het aan Israel ʼn wet gegee om daarvolgens te leef ten einde Hom te verheerlik. Ons het meer as dit; sy ganse Woord en derhalwe geen verskoning waarom ons nie ʼn sterk gebou op ons geestelike fondament kan oprig nie. Ons het die bouplan in die Bybel met die Heilige Gees as ons inspekteur van werke!
By geleentheid roep ʼn Indiaanse opperhoof sy jongmanne byeen om met hulle oor die stryd teen die kwade te praat en vergelyk goed en kwaad met twee honde wat binne-in ʼn mens veg. Soms kry die goeie een die oorhand en dan weer die slegte een. “Watter een wen op die einde?”vra een van die jongelinge. “Die een wat jy die meeste voer!” antwoord die opperhoof.
Watter een voer jy die meeste? Dit bepaal die gehalte van jou bouwerk. Die Bybel help jou om die goeie hond te voer mits jy dit deeglik bestudeer. Sekere mense verwag dat die Bybel hulle telkens soos ʼn skoot adrenalien tussen die oë moet tref. Soms gebeur dit. In die meeste gevalle werk Bybelstudie meer soos vitamien-pille. Jy neem dit oor ʼn lang tyd vir die langtermynvoordele in. Die Bybel mag soms ʼn skielike wonderuitwerking op jou lewe hê. Die eintlike waarde lê egter in jare se genesende blootstelling aan God se Woord.
By geleentheid erf ʼn Amerikaner ʼn ou bouvallige huis wat hy net so laat. Toe hy jare later daar opdaag, was dit weg. By navraag het hy verneem dat die erf nie eens meer op sy naam was nie. Hy het nagelaat om ʼn adres aan die munisipaliteit te verskaf. Gevolglik kon die plek nie skoongemaak word nie waarna dit vervreem, afgebreek en as leë erf verkoop is; alles sy nalatigheid.
Dit kan ook op geestelike gebied gebeur. Laat ons nooit so besig met ander dinge raak, dat ons dit wat ewigheidswaarde het, verwaarloos en verloor nie. Jesus waarsku in Openb.2:5 vir Efese: “....en bekeer jou...Anders kom ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder...” En Hy het. Dis vandag net bouvalle.
Wat staan op jou geestelike fondament? ʼn Wolkekrabber of ʼn kafee? Is jy tevrede daarmee? En is God tevrede? Bou jy of brou jy?