Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoop is 'n neweproduk van getrouheid. Hoop gee aan ons die krag om verby omstandighede te kyk wat andersins hopeloos sou wees. Hoop hou gyselaars aan die lewe, selfs wanneer daar geen redelike bewyse is dat iemand oor hulle lot begaan is nie; hoop oorreed boere om na drie jaar vandroogte weer in die lente te saai... Hoop word uit swaarkry gebore. Moet nooit ophou hoop nie, naas geloof en liefde is hoop die grootste iets wat ons regop hou.
AS DIE KERK ‘N VOLK MISLEI
Ds A.E. vd Berg
“.... Vertrou nie op bedrieglike woorde nie — wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!”(Jer.7:4).
In die jaar 608 v.C. het die profeet Jeremia van God ʼn opdrag ontvang om sy komende oordeel oor Juda in die openbaar aan te kondig. Op daardie tydstip was die Tienstammeryk van Israel alreeds 114 jaar in Assiriese ballingskap met net die Tweestammeryk van Juda in die beloofde land oor.
Die internasionale politiekwas destyds onstuimig. Assirië se mag het gekwyn en Egipte en Babel het na vore getree en vir die wêreldkroon gewedywer. Juda was in die middel van die twee vasgekeer en geestelik op ʼn afdraande pad soos nog nooit tevore nie. Dit was alles die kerk se skuld wat die bose regering na die mond gepraat en gruwels bevorder het. Hulle het geweet wat die Skrifte sê, maar die teenoorgestelde verkondig. God se straf was onafwendbaar.
Om sake te vererger, het die kerkgangers nie die erns van die situasie besef nie en geglo dat met die tempel in hul midde, God hulle nie sou straf nie. Jerusalem was God se aardse setel en ʼn heidense oorname daarvan sou sy Naam ontheilig het: “ Hulle het die Here verloën en gesê: Dit is nie Hy nie; en geen onheil sal oor ons kom nie; ons sal geen swaard of hongersnood sien nie” (Jer.5:12).
Hierdie valse gerusstelling is Sabbat vir Sabbat in die tempel verkondig en mense het dit geglo want dominees lieg mos nie! Die dominees het die verstand van die kerklike publiek getiranniseer. Bose magte wat daarop uit was om Juda te vernietig, het agter die skild van die dominees geskuil wat afvalligheid skerp laat toeneem het. Desondanks het mense tempel toe gegaan en offers gebring asof daar geen fout met die kerk was nie, terwyl daar groot fout was. “En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie” (Jer.6:14).
God het die kerk vir die volksverval verantwoordelik gehou. As die kerk vas gestaan het, het die regering nie geval nie. Dieselfde ding het eeue later ook aan die suidpunt van Afrika gebeur!“Wee die slegte herder wat die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm tref en sy regteroog! Mag sy arm heeltemal verdor en sy regteroog heeltemal verduister word” (Sag.11:17).
Jeremia het by die tempelhekke gaan staan sodat almal wat kerktoe gegaan het, kon hoor wat God vir hulle sê. Die profeet het eers met ʼn oproep tot bekering en die belofte van staatsveiligheid begin. Indien Juda hul bekeer, sou God hulle nie straf nie en in hul land laat aanbly. Maar dan moes Juda by die kerk begin en van kerklui ontslae raak wat veiligheid sonder heiligheid gepreek het.
Misdadigers het destyds graag in spelonke geskuil en net uitgekom as die situasie dit toegelaat het om hul booshede voort te sit. En dis hoe Juda in God se oë gelyk het. Mense het kerk toe gekom om hul gewete te stil net om hul sondige leefwyse daarna voort te sit: ” Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, ’n spelonk van moordenaars in julle oë?...” (Jer.7:11).
Jeremia het die kerklui kennis gegee dat die tempel vernietig gaan word. God gaan met die tempel dieselfde as met die tabernakel in Silo doen: “Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel” (7:12).
Silo was vir bykans 400 jaar die sentrum van Israel se aanbidding en is tydens die Assiriese inval geheel verwoes. Juda moes daaruit leer dat ʼn ongehoorsame kerk geen volk van God se straf vrywaar nie. Juda is 20 jaar later in ballingskap na Babel weggevoer en God se beloofde straf daarmee voltrek:
“En.....op die tiende van die maand ....het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, wat voor die koning van Babel gestaan het, in Jerusalem gekom; en hy het die huis van die HERE en die paleis van die koning verbrand; ook al die huise van Jerusalem en elke groot huis met vuur verbrand” (Jer.52:13,14).
Kerkmisleiding het Juda duur te staan gekom; ʼn tendens wat daarna telkens in die geskiedenis herhaal is. Mense vertrou kerke te maklik. Blinde lojaliteit is doodsake! Juda se leraars het verkondig dat Jerusalem weens die tempel in haar midde nooit in vyandshande sou val nie. Het God dan nie die stad meer as 100 jaar tevore wonderbaarlik van die Assiriese aanvallers bewaar nie? Dit was mos genoegsame bewys. God sou die stad vir ewig bewaar ongeag die sondes!
Toe die kerk in pas met die goddelose regering gekom het, kon sy leraars nie meer die stem van God laat hoor nie; net van die staat. Die kerk het Juda die dood vir die lewe laat aansien. Hulle het geglo dat hulle hul sondes met offers en kerkbesoek kom toesmeer. Die kerk het ʼn blinde oog daarna gedraai omdat offergawes nodig was om amptenare te betaal.
Die kerkverval het destyds sulke afmetinge aangeneem, dat afgode selfs in die tempel geduld is. Alhoewel dit nie in die allerheiligste deel was nie, het dit waarskynlik in die sykamers daarvan te lande gekom. Leraars het niks daaraan gedoen nie en God so kwaad gemaak, dat Hy Jeremia nog ʼn opdrag gegee het:“En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie. Sien jy nie wat hulle in die .....strate van Jerusalem doen nie?” (Jer.7:16,17).
Jeremia moes alle gebede vir die volk staak want hulle was God se genade nie verder beskore nie. Dit stem met die gees van 1 Joh.5:14-16 ooreen waar die apostel skryf dat daar sommige mense is waarvoor daar nie gebid moet word nie. Gebedsasem is kosbaar! “Sê dan vir hulle: Dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn en is uitgeroei uit hulle mond” (Jer.7:28).
Jeremia het ʼn skynbaar vrugtelose opdrag gehad. Hy moes ernstig met Juda praat, maar het ter selfde tyd ook geweet dat hulle nie sou luister nie. Het hy sy tyd gemors? Nee, Juda moes weet dat God hulle ʼn laaste kans gegee het om hul te bekeer. Sy geduld het ʼn keerpunt bereik en hul genadetyd onomkeerbaar verby. Hulle het met die ballingskap die gevolge van hul sondes gedra. Juda was vir die ou Nabye-Ooste ʼn harde waarskuwing van God se straf!
Van al die plae wat Juda getref het, was die onverskilligheid van die kerk die skadelikste; selfs skadeliker as haar politieke verval. Die kerk se swye oor gruwels en verval, was die kernhoofstuk in die tragiese verhaal van Juda wat vrywillig ten gronde gegaan het. Toe die dood in die kerklike murg beland het, het daar net ʼn leë dop oorgebly.
Jeremia se preek het die kerklui woedend gemaak, maar hom nie afgeskrik nie. As hy hom aan hulle moes steur, sou hy nie aan God getrou kon wees nie. Jesus sou ook eeue later deur ontstoke kerklui verag en selfs gedood word. Jeremia het egter nie vir sy geloof gesterf nie.
Die samelewing wat Jeremia vervolg en later vir Jesus gekruisig het, herinner ons aan ons eie volk; korrupte kerke, politici sonder inbors en ʼn gepeupel wat maklik opgesweep word. Met sulke mense in beheer van landsake, kan God alleen ons red. Bid baie ernstig en pleit by God soos ʼn Abraham van ouds vir die handjievol regverdiges van Sodom en Gomorra. Ons volk besef nie die omvang van die kerkmisleiding aan die suidpunt van Afrika nie!