Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In Matthéüs 11:20-24 waarsku die Here Jesus dat mense wat Hom nie as Verlosser aangeneem nadat hulle van Hom gehoor het nie, 'n groter oordeel kan verwag in die hiernamaals as mense wat nooit van Hom gehoor het nie. Het u die voorreg gehad om Hom te leer ken? Gebruik daardie geleentheid om die ewige lewe te verkry.
DIT IS KERSFEES
KERSFEESDIENS
Ds Andrè vd Berg
“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe....”(Joh.3:36).
By geleentheid loop ʼn Amerikaanse Jood ʼn vriend na baie jare raak en vra hoe dit met hom gaan. Die man kla toe dat hy sy seun vir ʼn jaar Israel toe gestuur het en dat hy as ʼn Christen teruggekom het. Die vriend vertel die man toe dat dieselfde met hom gebeur het. Hy het ook sy seun Israel toe gestuur en hy het ook as Christen teruggekom. Hoe was dit moontlik?
Hulle besluit toe om ʼn Rabbi te gaan vertel wat hul iets soortgelyks meegedeel het. Sy seun het ook uit Israel as ʼn Christen teruggekeer. Hulle vra hom toe om die nag met God daaroor te praat en die volgende oggend te kom hoor wat God vir hom gesê het. Toe hulle die volgende oggend by hom kom, sê vir hy hulle: “God het gesê dat Hy ook sy Seun Israel toe gestuur het!” En dis wat ek op hierdie Kersdag aan julle verkondig – God het sy Seun aarde toe gestuur om verlore siele te red.
Ons gee vir mekaar op Kersfees geskenke om ons te herinner dat God sy grootste geskenk aan ons gestuur het. Ons moet dit net vat. Dit help nie om vir iemand ʼn geskenk gee, maar hy vat dit nie. God gee ons sy Seun. Ons moet Hom vat.
Ons leef nie toevallig nie; die lewe is ʼn geskenk van God wat Hy wil hê ons moet geniet. Dis net moontlik as ons met die oog op die Gewer daarvan leef, want dan beloon Hy ons met nog ʼn lewe - die ewige lewe.
Die aardse lewe is nie die enigste lewe nie. Dis ʼn baie kort lewe: “Want al ons dae gaan verby ...... ons bring ons jare deur soos ’n gedagte. .... Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom” (Ps.90:9,12). Die ewige lewe daarenteen, het geen einde nie. Dis net moontlik deur die wedergeboorte: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3).As jy Jesus nie in die geloof vat nie, kry jy nie die ewige lewe nie! Moenie hierdie grootste geskenk van alle geskenke van die hand wys nie. Vat die Seun!
Baie jare gelede het ʼn skatryk Amerikaner met net een seun ʼn waardevolle kunsversameling gehad – Rembrandt, Picasso, Raphael, van Gogh’s ens. Hy en sy seun kon ure lank daarna sit kyk en oor die groot werke praat. Sy seun is met die Viëtnam oorlog as medikus opgeroep en het ʼn gewonde soldaat tydens ʼn skermutseling van die slagveld probeer dra toe hy ʼn doodskoot gekry het. Sy vader was gebroke!
ʼn Paar maande later het ʼn jongman net voor Kersfees met ʼn pakkie by hom opgedaag. “U ken my nie. Ek is die man vir wie jou seun sy lewe opgeoffer het. Hy het menige lewens daardie dag gered. Ek was die laaste een voordat hy die doodskoot gekry het. Hy het my dikwels vertel van julle liefde vir skilderye. Ek is nie ʼn goeie kunstenaar nie, maar ek dink dat u seun dié een vir u sou wou hê”.
Dit was ʼn skildery wat die soldaat van sy oorlede seun geskilder het. Die man was oorbluf oor die persoonlikheid wat die jong skilder van sy seun op doek vasgevang het. Hy was in trane en wou daarvoor betaal, Die jongman wou niks daarvoor hê nie. Hy kon nie terugbetaal vir wat die man se seun vir hom gedoen het nie – hy het as’t ware die lewe aan hom teruggegee.
Die man het die skildery by sy ingang gehang sodat almal dit kon sien en dit Die Seun genoem. Dit was sy kosbaarste skildery. Die man is nie lank daarna nie oorlede waarna ʼn veiling van die skilderye gehou is. Gesiene mense het van oor die hele Amerika gekom, gretig om te koop.
Die afslaer het opdrag ontvang om eers Die Seun op te veil en vir ʼn bod gevra: “Die Seun, Die Seun, wie wil Die Seun hê”? Daar was geen bod nie totdat ʼn stem van agter van die man se tuinier gekom het: “10$, dis ongelukkig al wat ek het” . Die afslaer vra toe vir nog ʼn bod, maar niks nie. “Wat moet ek doen”, vra die afslaer vir die aanwesiges? Almal het vir mekaar gekyk: “Laat hom Die Seun vir $10 kry, ons het vir die meesters gekom”, antwoord hulle hom.
Die tuinier se bod is aanvaar waarna die afslaer sy goed bymekaar gemaak het om te vertrek. “Gaan nou asseblief met die veilig aan!” het die ongeduldiges gevra. “Jammer menere, die veilig is verby” het die afslaer gesê. “Maar wat dan van die duur skilderye?” het hulle gevra. “Jammer, daar is ʼn stipulasie in die testament wat nagekom moet word nadat die eerste skildery verkoop is. Die Seun is die enigste skildery wat opgeveil word. Wie dit koop, erf die res van die nalantenskap. Die man wat Die Seun vat, kry alles!” .
God het sy Seun 2000 jaar gelede Israel toe gestuur om aan ‘n kruis te sterf sodat ons kan lewe. Die boodskap van die afslaer s’n: “Die Seun, Die Seun, wie wil Die Seun hê”? Wie die Seun van God het, erf alles wat belangrik is:“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe....”Ons laat alle ander dinge, hoe waardevol ook al, met ons dood op die aarde agter.
Mense is dikwels so bang dat hulle iets gaan kortkom waarsonder hulle nie kan leef nie en vergeet Jesus se belofte: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:33).
Wat is die grootste ding wat ʼn mens kan ontbreek? Geld? Gesondheid? Dak oor jou kop? Nee, om nie die Seun van God te hê nie! Die ergste van alles is dat die dag as mense dit besef, is dit reeds te laat! Dis soos ʼn valskerm. As jy in die lug in nood is en dit dringend benodig en dis nie daar nie, sal jy sterf. As jy jou laaste asem uitblaas en jy het nie die Seun nie, sal jy Hom nooit weer kan hê nie!
Daarom het Johannes die Doper baie ernstig met die mense van sy tyd oor die ewige lewe gepraat. Hulle het wel aan ʼn ewige lewe geglo maar onder ʼn groot wanindruk geleef. Hulle het geglo dat mens die ewige deur ernstige godsdiens toewyding kon verdien soos wat die Fariseërs in die sinagoges geleer het.
Nee, God gee die gawe van die tydelike lewe en Jesus dié van die ewige lewe. “Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee” (Joh.3:35). Soos wat die arm Amerikaanse tuinier wat Die Seun gehad het, op die ou einde alles geërf het, sal elkeen wat sy lewe aan Jesus gee, alles wat werklik van waarde is, erf. Moenie na die verkeerde dinge op die veiling van die lewe soek nie. As jy die Seun het, het jy alles!