Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As daar iemand onder julle is wat swaarkry moet hy bid, en as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die HERE sal hom gesond maak – Jakobus 5.
HEILIGE SPYKERS
Ds A.E. vd Berg
“En die gewig van die spykers was vyftig sikkels aan goud…..” (2 Kron.3:9).
God dink anders as mense: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle weë is nie my weë nie” (Jes.55:8). Die verslag van die bou van die tempel getuig hiervan. Wie sou, indien jy ’n gebou moes oprig, die hoeveelheid spykers wat gebruik is, in die verslag vermeld? Dis nietigheid. Met God is dit anders. Alles wat met sy koninkryk te doen het, is vir Hom belangrik.
Daarom het die Heilige Gees die Kroniekskrywer gelei om in sy verslag oor die tempelbou ook die aantal spykers wat gebruik is te vermeld. Hierdie spykers was so belangrik in diens van God, dat hul waarde selfs in die gewig van goud bereken is - 50 sikkels se goud!
In die Bybel word spykers o.a. as beeldspraak vir diensbaarheid in God se koninkryk gebruik. Ten tye van Juda se geestelike afvalligheid, het God ’n gelowige met die naam Eljakim gebruik om geestelike stabiliteit te bring en sê van hom: “En Ek sal hom inslaan soos ’n pen in ’n vaste plek…” (Jes.22:23).
’n Spyker wat diep ingeslaan is, was die goddelike simbool van standvastige geloof. In Sag.10:4 lees ons van ’n leier wat uit Juda sou kom en vir die saak van God ’n muurpen sou wees. God gebruik ook menslike spykers vir die bou van sy geestelike tempel op aarde; die onsigbare kerk wat uit alle wedergebore kinders van God bestaan.
Al is spykers oënskynlik nietig, hou dit nogtans bouwerk in stand. Die tempel van Salomo sou nie sonder spykers gebou kon word nie. En dis hoe God ook in sy koninkryk werk – Hy gebruik nietige gelowiges as bouers in sy koninkryk. Al maak dit nie altyd sin nie, is dit hoe God werk. “Die steen wat die bouers verwerp het, het ’n hoeksteen geword” (Ps.118:22).
Gedurende die 19de eeu was daar ’n groot herlewing in Wallis. Dit het by ’n ouderling begin wat nie wel ter tale was nie en stamelend ’n preek uit ’n boek voorgelees het. Daarna het die Gees kragtig onder die Walliesers gewerk!
Hoe wonderlik sal dit nie wees as die opskrif van ons lewensboek eendag sal lees: ’n Spyker vir God nie! Om vir God ’n spyker te wees, druis teen die gees van die wêreld in want dit vereis selfkruisiging en nederigheid. Gelowiges leef nie volgens die wêreld se maatstawwe nie. Hulle leef uit ’n ander bron, deur ’n ander mag, volgens ander beginsels en met ’n ander doel. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17). “Ek is met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my…” (Gal.2:20).
In 1 Kor.1 spel Paulus die vereistes vir heilige spykers uit: “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak” (26-28).
Sulke nietige spykers verleen stewigheid aan God se koninkryk op aarde. As bouers spyker ter hand neem, gebeur daar iets. Ook met God. Hy sê van Eljakim: “En Ek sal hom inslaan soos ’n pen in ’n vaste plek…” (Jes.22:23).
God gebruik gelowiges om stewigheid aan ’n volk se geestelike lewe te bring as dit lendelam word, selfs bejaardes soos Josua wat op ’n ouderdom van 110 jaar sy volk tot ’n beslissing gedwing het. “Toe sê die volk vir Josua: Nee, maar ons sal die Here dien” (Jos.24:21). Hy was ’n spyker in God se hand!
Nadat die ballinge na Jerusalem teruggekeer het, was daar baie teenstand met die herbou van die stadsmure. By geleentheid het dit vir hulle gevoel asof hul toekoms tot niet is waarna God ingegryp en die bouers so begeester het, dat hulle dit in ʼn rekordtyd voltooi het: “En nou was daar vir ’n klein oomblik genade van die kant van die Here onse God, om vrygeraaktes vir ons te laat oorbly en ons ’n pen te gee in sy heilige plek…” (Esra 9:8).
God slaan dit wat sy koninkryk raak en uitmekaarval met geestelike spykers vas en gebruik ook gelowiges om ander gelowiges te help. Wanneer dit vir jou voel asof jou lewe uitmekaarval, beskik God iemand om jou te bemoedig, selfs engele, soos vir Elia om die moedelose profeet onder ’n besembos uit te haal.
Dit het gebeur nadat Elia vuur uit die hemel laat val en die Baäl-afgodsdienaars laat ombring het. Daarna moes hy met Isebel op sy spoor, vir sy lewe vlug. Sy lewe het spoedig so uitmekaargeval, dat hy gebid het om te sterf en God ʼn engel gestuur het om hom te versterk. Daarna het Elia vir 40 dae tot Horeb geloop.
God gebruik deur die eeue mense as spykers in sy diens om aan gelowiges vastigheid te gee as hul lewe dreig om uitmekaar te val. Het jy ondervinding hiervan? Was jy al so ’n spyker in God se hand? Ons het ʼn Bybelse opdrag daartoe: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van God” (Gal.6:2).
Ons leef in ’n wêreld waar dinge veral op kerklike gebied uit mekaar val. Die geestelike spykers van weleer is ter wille van vermaak uitgetrek. In plaas van spykers het mense boorpunte geword wat eerder gate boor en lamlendigheid veroorsaak. Gevolglik is die nood aan geestelike spykers hoog. Verstewiging kom slegs deur aan die waarheid van God se Woord gehoor te gee. Ons moet vir misleide volksgenote en hul dominees gaan sê: “Hoor die Woord van die Here!”God help ons daarmee: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet.1:19).
Om ʼn spyker in God se bouwerk te wees, gee sin aan die lewe. Jy hoef nie ’n grote te wees nie. Jy kan maar klein wees. In God se hand word jy groot. Neem Levi die tollenaar as voorbeeld. Hy het nie geleerdheid of openbare aansien gehad nie. Hy het vir die Romeine tolgeld geïn en is daarvoor deur sy volksgenote daarvoor verag. Sy lewe was sinloos en saai totdat Jesus by sy tollenaars-hokkie verbygekom en hom geroep het. Hierdie klein, veragtelike spykertjie het in God se hand ’n groot spyker geword en vir ons iets kosbaars nagelaat – die Evangelie van Mattheus.
In God se hand word jy groot. Jou grootte hang nie van jou af nie, maar van Hom. Hy is op stuk van sake die Bouer en nie jy nie. Dit maak nie saak hoe groot of gering jy in die lewe is nie. Vir God is jy waardevol genoeg, ja goud werd, soos die spykers wat vir die bou van die tempel gebruik is. ’n Spyker moet egter byderhand wees vir die bouer om te kan gebruik.
Kom ons reageer soos Jesaja toe God hom in ʼn tyd van geestelike verval as ʼn spyker benodig het: “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my” (Jes.6:8).