Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar kom ’n dag van afrekening:“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het…” (2 Kor.5:10). Daar is ’n verband tussen wat ons op aarde doen en ons hiernamaalse verblyf. ’n Mens kan nie ergerlik leef, maar verwag om op ’n verebed die hemel ingedra te word nie!
IN ‘N DOODLOOPSTRAAT
Ds A.E. van den Berg
“Bekeer ons tot U, Here, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd” (Klaagl.5:21).
Daar is niks so hartseer as om in tye van swaarkry na die goeie ou dae van die verlede te verlang nie; veral as jy weet dat die swaarkry jou eie skuld is. Dit het met Juda gebeur. God het Juda deur Jeremia 40 jaar lank gewaarsku dat hulle verkeerde paaie loop en dat Hy hulle gaan straf.
Hulle het nie luister nie waarna God vir Babilon, ʼn gedugte vyand, as ʼn karwats in sy hand gebruik om Juda ʼn loesing te gee. Dit het in Augustus 586vC gebeur toe Jerusalem ingeval, die tempel verwoes en die stadsmure platgeslaan is. Daarna is die inwoners in drie sarsies as ballinge na Babel weggevoer. In die boek Klaagliedere huil Jeremia oor wat hy sien – die verwoesting van die glorieryke stad wat deur die Jode as onvernietigbaar beskou is omdat dit God se aardse setel was.
Die val van Jerusalem is deur ongekende barbaarsheid gekenmerk. Mense is doodgemaak en vroue en dogters verkrag:
“Hulle het vroue in Sion onteer, jonkvroue in die stede van Juda” (Klaagl.5:11).
Jeremia brei in smartlike besonderhede op die trauma daarvan uit:
“My oë is gedaan van huil.... my moed is gebreek.... kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad. Hulle soek by hulle moeders iets om te eet en te drink. In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hul moeders blaas hulle die asem uit. Wat kan ek vir jou sê.. .. Wie se lyding kan ek vir jou noem dat ek jou daardeur kan troos, Sion?” (Klaagl.2:11-13).
Juda was met God geskok!
Hulle het vas geglo dat Hy hulle as volk sou beskerm. Hulle was dan God se volk! Juda het vas geglo dat God die tempel sou beskerm want dit was immers sy huis. Hulle het vas geglo dat God die stad sou beskerm want dit was immers sy stad; dit waaroor sy verbond met Abraham, Moses en Dawid gegaan het. En kyk waar sit hulle nou - geen volk, geen stad, geen vryheid, geen toekoms nie!
Die vroeë rabbi’s het Klaagliedere “ ʼn harde gehuil” genoem omdat Jeremia van die begin tot aan die einde huil:
” Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ʼn weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword” (1:1).
Hoofstuk 5 begin:“Dink, Here, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad” (:1).
Jeremia som Juda se smaad op: “Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders” (:2).
“Ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in” (:4).
“Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun word” (:5)
“Knegte heers oor ons...” (:8)
“Met lewensgevaar bring ons ons brood in...”(:9).
“... en seuns struikel onder die drag hout (:13).
“Die kroon van ons hoof het geval...” (:16).
Klink dit nie bekend nie? Die ooreenkom tussen ons eie volk en Juda is net te opvallend!
Jeremia het geweet dat sy volk nie self na God sou terugkeer nie. Daarom spreek hy in die teksvers ʼn versugting vir ʼn ingrypende volksommekeer uit:
“Bekeer ons tot U, Here, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd” (:21).
Hy bid God om die eerste skuif in Juda se bekering te maak. As gelowige het hy nie moed opgegee nie en God vir ʼn volksommekeer gebid. En dis waar my vertroue as geroepene van God ook lê; as God my volk nie tot Hom laat terugkeer nie, sal hulle dit nie uit hul eie doen nie.
Jeremia het geweet dat God die land aan Juda kon teruggee as sy haar bekeer.
“...en (as) my volk, oor Wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde wee, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron.7:14).
Die klem val net soos die teksvers op die woord bekeer:
“Bekeer ons tot U, Here, dan sal ons ons bekeer....”
Bekeer beteken om ingrypend te verander. Het jy al gewens dat jy jouself kon verander? Dit sou wonderlik wees om jou soos ʼn sywurm in ʼn kokon te kon toespin totdat ʼn pragtige vlinder daaruit kom. Dis egter onmoontlik. Jeremia sê dat net so min as wat ʼn luiperd sy kolle kan verander, kan ʼn mens sy natuur verander (Jer.13:23). Net God kan ʼn individu of volk verander. Jesus sê vir Nikodemus:
”.... Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3).
Bekering is ʼn geestelike herontwerp van ʼn mens se lewe wat met ʼn verandering van die menslike aard begin. Die Heidelbergse Kategismus leer dat die mens van nature geneig is om God en sy medemens te haat. Met so ʼn aard kan geen mens reg sterf nie. Daardie aard moet verander word en is net moontlik deur uit die kokon van sonde breeksodat die wurm ʼn vlinderkan word – geestelike metamorfose!
“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
Ons is soos Juda geneig om te oppervlakkig oor sonde te dink en as dinge verkeerd loop, die rede op ander plekke as by onsselfte soek. Nee, wees eerlik; die wortel van sonde is selfsugtige begeertes; die beheptheid om eie begeertes te wil bevredig. Dit was Juda se probleem en die rede waarom sy haar nie aan God se waarskuwings oor sondes in haar volkslewe gesteur het nie totdat dit te laat was en sy haar vryheid verloor het. Het dit nie met ons eie volk gebeur nie?
Die mens het nie beheer oor sy eie natuur nie al is hy ook hoe ryk, beroemd of geleerd. Kyk maar na rolprentsterre wie se verhoudings ten spyte van duur plastiese chirurgie uit mekaar val. Ons kan nie onsself verander nie! Ons het ʼn ingebore bose aard en het uit onsself geen plan of raad daarmee nie.
God het wel ʼn plan; iets wat net Hy kan doen. Hy tree op eie inisiatief op om die mens van sy selfsugtige begeertes en bose aard te bevry. Daarom het Hy vir Abraham geroep en in hom die nasies van die aarde geseën. Die Bybel vertel hoe God hierdie verbond telkens vernuwe het totdat Hy op laas sy eniggebore Seun as liefdesoffer gegee het.
Wat die kerklike jaar betref, verkeer ons in die Lydenstyd. Ons dink daaraan hoe die allerhoogste God sy allerkosbaarste gegee het om die allerlaagste dood aan ʼn kruis te sterf. Met die kruisiging het God ons menslike selfsug aan bande gelê en ons die kans op ʼn nuwe lewe en ewige toekoms gegee.
Desondanks is ons nie tot die engelestand verhewe nie en moet ons God bid om ons sondige aard opnuut te kruisig:
“Bekeer my Here sodat ek my tot U kan bekeer” .
Dit wat Jeremia vir sy volk bid. As God nie na verloop van jare in Juda se lotgevalle ingegryp het nie, sou hulle nooit uit Babel teruggekeer het nie. Die Boerevolk kan homself nie uit hierdie politieke en kerklike ramp bevry nie. God wel.
Ons moes in ‘n doodloopstraat beland want dis die beste plek vir omdraai. Jeremia kon hom in Juda se ellende verlustig het: “Ja, ek het mos vir julle gesê, maar julle wou nie hoor nie. Nou kan julle maar self uit hierdie gemors kom”. Nee, hierdie man van God se gees was te edel om sy volk te verwyt en sy liefde vir hulle te groot om hulle te verdoem. Wat ʼn voorbeeld is Jeremia vir ons!
Kom ons bid baie ernstig tot God dat Hy, soos met Juda van ouds, in ons volk se lotgevalle sal ingryp en ʼn einde aan die “ballingskap” van onreg, korrupsie en geweld wat ons jare lank teister, maak. Ons het soos Jeremia geen ander begeerte as om God op ʼn vrye volksbodem te dien nie!