Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie nie gely het nie, het nie gelewe nie; wie net gelag het, het net bestaan.
AS LERAARS MENSE MISLEI
Ds. A.E van den Berg
“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet”(Hos.4:6).
Inleiding
Mense verdrink vandag as’t ware in ʼn vloed van inligting tot hul beskikking maar gaan desondanks mank aan die kennis van God se Woord. ʼn Godsdiens wat bloot ʼn formele aanvaarding van sekere dogmas is, of om die as van emosionele belewenisse draai, is tevergeefs. Deeglike Bybelkennis en ʼn liefde vir die waarheid daarvan leer mense om die regte dinge in die lewe te doen en verkeerde dinge te vermy. Bybelkennis is bevrydend en gevolglik een van die grootste vreugdes in die lewe.
1. Predikers
God gebruik al eeue lank uitgesoekte manne (predikers) om hierdie kennis aan mense oor te dra.
“Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig” (Rom.10:14,15).
Prediking is ʼn groot verantwoordelikheid op die skouers van leraars. Valse prediking kan mense en volke laat ontspoor soos wat in die tyd van die profeet Hosea met Israel as volk gebeur het.
Soos wat ʼn plant nie kan oorleef as dit uit sonlig weggeneem en in ʼn donker kamer geplaas word nie, kan ʼn siel wat die lig van God se waarheid geniet en daarna in die donker beland het, nie oorleef nie.
Dit wat met Israel gebeur het, is ʼn ernstige waarskuwing aan alle volke wat eens die lig van God gesmaak en toe die duisternis bo die lig verkies het. Mense wat van beter weet, maar aanhou sondig, maak God kwaad. Hoeveel te meer leraars wat mense moet leer!
“En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie.... mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:28,32).
2. Onverskillig
Hosea het geweet wat die oorsprong van Israel se afvalligheid was - leraars wat God se lig vir die duisternis van afgodery verlaat het. Toe hulle begin afdwaal, het die meerderheid van die volk hul voorbeeld gevolg. Wie nie ʼn goeie voorbeeld is nie, word soos in Israel se geval ʼn wrede waarskuwing!
Wie aan God gehoorsaam was en daarna onverskillig geword het, is nooit gelukkig nie. ʼn Volk se vreugde is die hemelse vergoeding vir hul bewaring en verkondiging van die kennis van God. Daarom is die eerbare kerke vir ʼn land van onskatbare waarde en valse kerke ʼn dodelike ramp.
Afvalligheid begin by onverskilligheid. Soos wat blindheid sig wegneem, neem geestelike onverskilligheid die skoonheid van die siel weg. Dit maak God kwaad want Hy het die lig gegee en mense het blindheid oor hulself gebring.
Jesaja kla:
“Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het” (Jes.43:8).
3. Mislukte onderrig
Die primêre doel van geestelike onderrig is om mense met kennis van God te bedien. Die Bybel leer mense om ordelik en sedelik korrek te leef. Daarom is onderrig nutteloos as dit van die Bybelse leer losgemaak word.
Israel se afvalligheid was aan toenemende sedeloosheid gekenmerk en het van die Joodse volk ʼn tragiese voorbeeld gemaak. Die hele volk was ʼn skool en die Wet hul leermeester wat hulle na Christus sou lei. Israel het klaaglik misluk.
God het aan Israel ʼn wet gegee:
“Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag” (Hos.8:12).
God het die Leviete aangestel om die volk te onderrig.
“Hulle sal Jakob u verordeninge leer en Israel u wet....” (Deutr.33:10).
God het dieselfde verpligtinge ook op ouers gelê:
“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deut.6:6,7).
Waarom het hierdie kennis verlore gegaan? Leraars het hul roeping versaak en die volk laat ontspoor:
“Maar júlle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond met Levi verbreek, sê die HERE van die leërskare” (Mal.2:8).
Daarbenewens het die kerk hul nie verhinder nie,
“...omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Rom.1:21,28).
Hosea en talle van sy tydgenote lê die afvalligheid voor die deur van verloopte leraars wat hul nie in die studie van die Woord verdiep het nie en ʼn blinde oog na sedeloosheid gedraai:
“..... want ’n gees van hoerery het hulle verlei, en deur hulle hoerery het hulle van hul God afvallig geword..... Daarom pleeg julle dogters hoerery, en julle skoondogters bedryf owerspel... want die manne sonder hulleself af met die hoere en offer met die tempelhoere. So kom dan die volk wat geen verstand het nie, tot ’n val” (Hos. 4:12-14).
God het die leraars met die wegvoering in ballingskap hul amp ontneem en die volk hul voorreg as ʼn priesterlike volk ontsê.
“Hoe meer hulle vermenigvuldig het, des te meer het hulle teen My gesondig. Ek sal hulle heerlikheid in skande verander” (Hosea 4:7).
Slot
Hedendaagse prediking is dikwels baie oppervlakkigen ʼn bewustelike versaking van Bybelse waarhede. Die kerk help mense nie meer om regop in ʼn verworde wêreld te loop nie. Mense word selfs aangemoedig om daarby aan te pas. So word kerke wat veronderstel is om die lig van God in die donker wêreld te bring, hul volk se begrafnisondernemers!