Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wil jy 'n sterk volk sien? Sorg dat die gesins- en familielewe moraal en moreel sterk is. Nou mag ons vra waarom ons volk vandag in hierdie verknegte, moreel en moraal verdrukte toestand is...
BESLUITNEMING
Wat is God se wil?
Ds A.E. van den Berg
“Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Heb.5:14).
Gelowiges kom soms in omstandighede waar hulle nie baie seker van God se wil is nie. Om dan maar net ʼn besluit te neem en te hoop vir die beste, kan die teenoorgestelde gevolge hê. Gelowiges moet eerder biddend en geduldig na die wil van God soek waarvoor grondige kennis van die Bybel noodsaaklik is.
Geloof is om God op sy Woord te neem, sy beloftes daarin te vertrou en baie geduldig op die nodige antwoorde te wag.
“...omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Fil.1:6).
God antwoord gelowiges soms anders as wat hulle verwag en selfs bo hul verwagting:
“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink ...” (Efes.3:20).
Geloofsvertroue laat gelowiges in tye van onsekerheid met God ʼn pad loop:
“Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.... En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Heb.11:1,6).
Om God se wil te leer ken en die regte besluite te neem, moet gelowiges soos Jesus te dink. Hoe meer die Bybel bestudeer word, hoe meer leer gelowiges om soos Hy te dink:
“Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus” (1 Kor.2:16).
Goddelike insig en regte besluite is altyd op vaste Bybelse beginsels gegrond.
“Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Heb.5:14).
God gee wysheid aan gelowiges wat daarna vra:
“En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word” (Jak.1:5,6).
Daar moet egter baie versigtig met wêreldse wysheid omgegaan word omdat dit soms goed op die oor klink en goddelike wysheid na dwaasheid:
“Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?” (1 Kor.1:18-20).
Om goddelike wysheid van dié van die wêreld te onderskei, moet daar biddend na God se Woord geluister word:
”My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (Joh.10:27).
Die Heilige Gees help gelowiges daarmee:
“Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor.2:12-14).
Gevolglik is geloof en wysheid sleutelelemente in regte besluitneming.
“In die weg van die wysheid onderrig ek jou, ek laat jou die spore van opregtheid betree; as jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe” (Spr.4:11-13).
Wie die Bybel reg gebruik, leer God se wil ken. Die Skrif moet egter spreek en nie buikspreek (mensemenings) nie en altyd binne die betrokke verband gelees en verstaan word.
“Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim.2:15).
Wees ook baie versigtig vir tekens. Sommige mense getuig van situasies waarin hulle was, waarna hulle ʼn sekere teken gekry en toe ʼn besluit geneem het. Dit kan gevaarlik wees. Besluitneming mag nooit van tekens afhang nie. God bevestig sy wil nie met sondermeer tekensnie maar deur die Woord:
“Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie” (2 Kor.5:7).
Waar tekens tersprake kom, moet dit altyd aan die Bybel getoets word. Dit mag die Bybel nie weerspreek nie. Alle besluite het gevolge:
“Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Gal.6:7,8).
Die slotsom is dat die Bybel die fondament vir regte besluite is.
“U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Ps.119:105).
Dis onveranderbaar en verloor nooit diepte nie. Dit praat op verskillende maniere met verskillende mense deur die eeue sonder om enige betekenis daarvan af te staan. Soms lyk sekere dele nuut omdat daar met ander ervaringslense daarna gekyk word. Die Bybel moet egter nooit as ʼn toorboek gebruik word wat die gewenste antwoorde verskaf as die regte formule gebruik word nie!