Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die hele lewe bestaan uit nederlae, oorwinning deur opstaan, weer val en weer probeer. Oorwinning lê dus nie daarin dat jy nooit mag struikel nie, maar wel daarin dat jy sal opstaan elke keer as jy geval het.
WIE IS DIE HEILIGES?
Ds A.E. van den Berg
“Wees heilig, want Ek is heilig”(1 Pet 1:1).
As daar vir mense gevra sou word of hulle heilig is, sal die meeste ontkennend antwoord omdat hulle glo dat hulle te sondig is. Dis ʼn wanopvatting. Heilig beteken nie sondeloos nie anders sou die oproep in die teksvers onbillik wees. Heilig beteken afgesonderd.w.s. opsy gesit te wees. En dis wat God van ons verwag - om anders as die wêreld te wees.
Waarom wil God dit hê? Omdat Hy soos ʼn goeie vader wil hê dat sy kinders sy voorbeeld moet navolg. Daarvoor is ʼn lewensverandering noodsaaklik:
“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ʼn spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:18).
Wanneer van heiliges gepraat word, dink baie mense aan ou Roomse skilderye van mense met stralekranse om die kop; dooies wat uiters godsdienstig geleef het. Protestante dink baie anders oor heiliges. Die Roomse leer oor heiliges is geheel en al vreemd aan die Bybel en onbeskaamd afgodies ingekleur.
In die vroeë Roomse Kerk is slegs martelare as heiliges vereer. Later in die Middeleeue is kerkvaders, godsdienskluisenaars en sekere biskoppe ook as heiliges beskou en in sommige gevalle feitlik afgodies vereer.
Die RK glo dat aangesien hierdie mense by God in die hemel is, hulle Hom kan beïnvloed en gelowiges op aarde se versoeke aan Hom bekend maak. Dis ʼn gruwelike mistasting want God is volmaak en kan nie beïnvloed word nie!
Tydens die vroeë Christendom het sekere mense ʼn behoefte aan 'n meer tasbare heiligheid gehad – iets wat gesien kon word amper soos oud-Israel se goue kalf-episode. En so het die dwaling van die verering van heiliges ontstaan. Dit het spoedig so handuit geruk dat die RK in die Middeleeue heiligverklaring met streng reëls vasgestel omdat fiktiewe persone en selfs diere as heiliges vereer is!
Wie kwalifiseer in die RK om as ʼn heilige verklaar te word? Slegs persone wat na dood amptelik deur die Vatikaan so verklaar is en net deur ʼn pous. Die kandidaat moet dan ook al minstens al 50 jaar dood wees.
Die RK het al die erkende heiliges met 'n kort lewensbeskrywing van hulle laat opteken. Dit maak deel van hul kategese uit. Voornemende lidmate weet dikwels meer van hierdie heiliges se lewe as van die verlossing in Jesus!
Die RK bid onbeskaamd tot hierdie heiliges en beskou sommige van hulle as beskermheiliges. Pous Gregorius I wat in 1295 tot heilige verklaar is, word bv. as die beskermheilige van kerkskole, koorsang, onderwysers, skoliere, studente, sangers, musikante, messelaars en knoopmakers vereer. Daar word ook tot hom vir die verlossing van jig of builepes gebid.
In die Vatikaanstad is die gebalsemde liggame van ’n aantal pouse in glaskaste te sien. So is pous Johannes XXIII wat in 1964 oorlede in 2000 opgegrawe en in ʼn glaskis in die Vatikaan geplaas. Mense kniel en bid voor sy kis en glo dat hy wonders laat gebeur!
Die Bybel verbied die aanbidding van mense. Petrus is ‘n sprekende voorbeeld hiervan:
“Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ‘n mens” (Hand.10:25,26).
In Hand.14 doen Paulus en Bárnabas dieselfde. Die aanbidding van dooies stel lewens vir demone oop.
Die Bybel praat ook van heiliges maar met dié verskil dat heiliges nie dooies is nie, maar leef. Dit was die gelowiges van destyds.
“Paulus, ʼn apostel van Jesus Christus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Efese is …” (Ef.1:1).
Sondaars het nie die bemiddeling van dooies of selfs engele vir hul redding nodig nie. Hulle het deur Jesus Christus ʼn direkte verbindingslyn met God. Daarom het die gordyn met Jesus se kruisiging in die tempel middeldeur geskeur.
Om redding uit die hande van Jesus te neem en in die hande van mense te plaas, skreeu ten hemel. Om mense-middelaars tussen Jesus en sondaars in te druk, pluk die hart uit die Evangelie. Jesus sê duidelik:
“Kom na My toe” (Mt.11:28).
Hoe durf ʼn kerk,van alle instansies, dit wil verander!
Luther en Calvyn het die gedagte dat dooies vereer mag wordmet veragting verwerp omdat dit nie met die volmaaktheid van God gestrook het nie en die aandag van die verering van die Opperwese weggeneem het. Die Roomse verering van beelde is afgodery. Eertydse Protestante het so ʼn afsku daarin gehad dat hulle aan die begin van die Hervorming van die beelde verwoes het.
Ons bely dat ons in die gemeenskap van die heiliges glo - ʼn heilige samesyn waartoe God gelowiges oproep. Paulus noem die gelowiges in Korinte dan ook geroepe heiliges. Om dit reg te verstaan, moet ons twee dinge weet; ons is eerstens heilig God se oë. Hy kyk na ons deur die oë van Jesus. Daarom omskryf Paulus die heiligheid waarvan hy praat as “geheiligdes in Christus Jesus”. Dit leer ons om met ander oë na onsself en na ander te kyk; as heiliges.
Tweedens word gelowiges voortdurend tot heiligheid opgeroep en mag nooit in enige onheiligheid berus nie. Jesus sê: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet 1:16).
Gelowiges leef in ’n amperse teenstrydigheid - as onheilige heiliges. God wil hê dat alle onheiligheid in gelowiges se lewe kleiner en heiligheid groter word sodat mense kan sien dat gelowiges anders as wêreldlinge is.
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).
Die ellende en spanning wat ons in ons land beleef, is die gevolg van onheilige lewens. Haat is aan die orde van die dag en maak mense bitter teenoor mekaar. Wie se lewe onheilig is, se ore en oë is min werd. Die toenemende geestelike duister weerspieël die geestelike duister in mense se harte en maak dat mense soos grotdiertjies aan hierdie donker gewoond raak!
Wat wil Jesus van ons in sulke omstandighede hê? Om anders te leef. Hier is Henog waarvan ons in Gen.5 lees ʼn wonderlike voorbeeld. In sy tyd het sonde so toegeneem dat God besluit het om die mensdom op agt na almal uit te wis. En wat doen Henog? Hy wandel met God. Wat van jou? Word ʼn boom se wortels nie juis deur ʼn storm getoets nie?
Heilige lewens het trefkrag. Petrus skryf aan die eerste gelowiges:
“...en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon....” (1 Pet.2:12).
Hoeveel te meer is dit nie vandag nodig nie! Heilige lewens bring kragtige geloofsgemeenskappe tot stand. Dis die gemeenskap van die heiliges wat ons Sondae bely. Jesus moet deur ons heilige lewens in ʼn verlore wêreld bemark word.
Is jy in of is jy uit?