Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die woord 'salig' beteken om in 'n oortreffende staat van geluk te wees. Daar is net een ware 'saligheid', en dit is om te weet dat jou sondes vergewe is en jy die ewige lewe van God ontvang het. Niemand kan dit wegneem nie. Hierdie wete bring volkome blydskap en vrede in mens se gemoed.
VERKONDIG JOU LERAAR DIE WAARHEID?
Ds. A.E van den Berg
“Hoe durf julle sê: Ons is wys, en die wet van die HERE is by ons? Waarlik, kyk, bedrieglik werk die leuen-pen van die skrywers. Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?”(Jer.8:8).
Jeremia vertel van die oneindige skade wat valse woordverkondiging aan ʼn volk doen. Leraars van sy tyd het leuens verkondig en die straf van God met ʼn ballingskap oor Juda gehaal. Hulle het die Skrifte nie net met valse prediking nie, maar ook met dwaalgeskrifte besoedel. Mense het hulle egter geglo omdat hulle die Skrifte nie geken het nie.
Jeremia kla:
“Selfs ’n groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye, en ’n tortelduif en ’n swaweltjie en ’n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag; maar my volk ken die reg van die Here nie” (Jer.8:7).
Eeue daarna wys Jesus op ʼn soortgelyke probleem:
“Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29).
Mense het nie die moeite gedoen om hulself van die vereistes van die Skrifte te vergewis nie en alles geglo wat verkondig is. Wie met tweedehandse kennis van die woorde van God tevrede is, kan later nie meer tussen leuen en waarheid onderskei nie!
In die tyd van Paulus stel die gelowiges van Berea die regte voorbeeld:
“En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Hand.17:11).
Juda se probleem was ʼn toenemende ongehoorsaamheid aan God. Ten spyte van God se tug het sonde vererger:
“Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai. Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank” (Jes.1:4,5).
Ongelukkig word die verstand van kerkgangers maklik getiranniseer. Juda se leraars het ʼn valse veiligheid gepredik in plaas van die bekering van sondes. Hulle het mense laat glo dat solank as wat die tempel in Jerusalem was, God die stad teen vyande sou beskerm. Hierdie tempel teologie is as ʼn nuwe insig in die Skrifte aanvaar en geglo.
Intussen was God se oordeel voor die deur en het Jeremia sy misleide volksgenote ernstig teen hierdie dwaling gewaarsku:
“Vertrou nie op bedrieglike woorde nie — wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!” (Jer.7:4).
Jeremia kon nie glo dat sy volksgenote die dwaalleer so geredelik aanvaar het terwyl die waarheid eeue lank tot hul beskikking was nie. Die tempel-teologie het mense na die kerk laat stroom maar nie na God toe nie. Geen boosheid word egter so gelate aanvaar as wanneer dit uit godsdienstige oortuiging geneem word nie.
God se oordeel het Juda en Jerusalem kort hierna swaar getref:
“Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ’n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword” (Klaagl.1:1).
Onkunde oor die Skrifte het ʼn godsdienstige lugleegte laat ontstaan wat deur leuens gevul is. Juda het egter geen verskoning vir die onkunde gehad nie omdat hulle die Skrifte al eeue lank gehad het en deur opregte leraars gepredik is.
Jeremia het in reaksie op sy tempelpreek die wind baie sterk van voor gekry. Die valse leraars het aanstoot geneem aan Jeremia se veroordeling van hul Jerusalem-gesentreerde ideologie. Kerkgangers het hulle as ʼn uitsonderlike groep mense geag wat deur God groepe was om godsdiensleiding te gee. Hulle moes mense bv. leer om reg te offer en tussen rein en onrein te onderskei. Gevolglik is hul woord nie in twyfel getrek nie.
Net die teenoorgestelde was waar:
“En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie....” (Jer.14:14).
Jesaja spreek dieselfde probleem aan:
“Die die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op ’n dwaalweg gebring.Daarom sal die Here oor hulle jongmanne nie bly wees nie en Hom nie ontferm oor hulle wese en hulle weduwees nie; want hulle is almal roekelose mense en kwaaddoeners, en elke mond spreek goddeloosheid. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek” (Jes.9:15,16).
Die valse profete se skrifpeutery en kanselmanipulasie het die dood in die kerk se murg laat beland en ʼn leë dop laat oorbly. Dis vandag weer die geval. Jeremia se hartseerervaring moet vir teoloë en leraars ʼn waarskuwing wees. Kerke wat die waarheid nie beskerm nie, het geen bestaansreg nie en predikers wat nie na God luister nie, het niks om vir mense te sê nie!