Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God is nie op soek na briljante mense nie. Hy is nie afhanklik van welsprekende mense nie. Hy is nie beperk tot talentvolle mense om sy evangelie na die wêreld uit te dra nie. God is op soek na gebroke mense wat hulleself in die lig van Christus se kruis ondersoek het. Wanneer Hy iets gedoen wil hê, maak Hy gebruik van mense wat die einde van hulle eie kragte bereik het, diegene wie se vertroue nie in hulleself is nie maar in God.
DIE BEDIENING VAN VERSOENING
HERVORMINGSSONDAG 31 OKTOBER
Ds A.E. van den Berg
“En dit alles is uit God wat ons met Hom versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor.5:18-20)
Ons leef net eenmaal op die aarde waarna ons sterf en ná die oordeel na een van twee plekke ewige eindbestemmings gaan – hemel of hel. Nie een daarvan word op ons afgedwing nie; ons kies self waarheen ons wil gaan. Die meeste mense kies die hel. Jesus sê self:
“....want breed is die poort en wys is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan” (Mt.7:13).
Hoe kom ʼn mens in die hemel? Is daar iets wat jou daarheen kan vat? As jy bv. Kaapstad toe wil gaan, maak jy van ʼn vervoermiddel gebruik om daar te kom. Werk dit ook so na die hemel? Nee; daar is geen vervoermiddel daarheen nie. Jy het Iemand nodig om jou daarheen te vat – Jesus Christus. Kan jy self iets doen? Nee, behalwe ʼn persoonlike, geestelike ontmoeting met Jesus wat die bekering genoem word, kan jy absoluut niks doen nie. Net Jesus kan jou natuurlike koers op pad hel toe na ʼn genadige koers op pad hemeltoe verander!
Joh.1 sê dat almal wat Jesus as Verlosser aangeneem het, kinders van God is (:14). Joh.14 sê dat die hemel ʼn Vaderhuis is – die plek vir God se kinders wat tot sterwe kom. Dis net vir hulle en geen ander toeganklik nie ongeag hoe goed sulke mense ook al was. Die bekering is die toegangskaartjie na die Vaderhuis.
Hoe en wanneer kom ʼn mens tot bekering? Sodra jy besef dat jy geestelik stukkend is. Sonde maak mense stukkend en stukkende mense gaan nie hemel toe nie, maar moet eers heelgemaak word; iets wat net Jesus kan doen. Hierdie heelmaak word versoening genoem – jy word deur Jesus met God versoen. Sonde maak ons wild en laat ons soos ʼn Adam en Eva van ouds van God af wegvlug. Versoening maak ons mak en nuwe mense (2 Kor.5:17).
Mense het van vroegs af al besef dat hulle stukkend is. Sommige het met God vrede gemaak soos Henog waarvan ons in Gen.5 lees dat hy met God gewandel het. So ook Noag wat regverdig bevind is en saam met sy gesin gespaar is. Ons lees ook in Heb.11 van al die Ou Testamentiese geloofshelde; almal stukkende mense wat deur God heelgemaak is.
Met verloop van tyd het God voltyd van mense gebruik gemaak om mense te help om heel te word – die priesters genoem. Die versoening met God het ʼn belangrike bediening geword. Lev.16 maak van die Groot Versoendag melding en vertel hoe hierdie bediening plaasgevind het. Diere is geslag en as ʼn versoening van sonde aan God geoffer. Hy het dit aangeneem waarna die priester kwytskelding van straf in God se Naam aangekondig het. God het deur die priester na die sondaar gewerk sodat stukkende mense heel kon word en van ʼn ewige hemelwoning verseker kon wees.
Nadat Christus aan die kruis vir ons sonde gesterf het, het die offers en priesteramp verval. Omdat Christus die volmaakte offer was, kon niemand op die ou manier meer die hemel beërwe nie. Hy was die Lam van God waarna mense slegs op grond van die bekering in die hemel kon kom.
Dit beteken egter nie dat die bediening van die versoening toe gestaak is nie. Dis in alle erns voortgesit, nie meer deur priesters nie, maar deur leraars. Daarom word ʼn leraar se werk bediening genoem; die bediening van versoening. Dis ʼn leraar se begeerte dat mense hulle met God versoen en geestelik heel word. Hoor hoe pleit Paulus as leraar:
“Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor.5:20).
Word heel!
Daarom het die kerk geen groter taak as om mense met God te versoen nie. ʼn Kerk wat dit nie doen nie, is vir God ʼn gruwel en vir mense ʼn struikelblok want dit beroof mense van die hemel! En daar is sulke kerke. Sommige het selfs miljoene lidmate soos bv. die Roomse Kerk (RK).
Die RK het teen die vierde eeu ontstaan toe die ou Babiloniese afgodsdiens onder die dekmantel van die Christendom voortgesit is. Teenstanders is erg vervolg, gemartel en op brandstapels verbrand, alles in die naam van kerk! Geen wonder dat die geskiedenis na hierdie tyd as die Donker Middeleeue verwys nie omdat die lig van Christus nie uit so ʼn kerk kon skyn sodat stukkende mense heel kon word nie. Die gevolg was dat ʼn sataniese duisternis vir eeue lank op die mensdom neergedaal het.
God laat vaar egter nooit die werk van sy hande nie en het Sondag 31 Oktober 1517, presies 504 jaar gelede, ʼn hervorming deur Martin Luther, ʼn 34 jarige Duitse priester begin. Dit was die begin van Protestantisme, die kerklike erfenis waarin ons kerk deel en ook duidelik in sy naam gehoor kan word. Die kerk het Babel afgeskud om weer kerk van Christus te word!
Wat het Luther daartoe gebring? Iets wat hom gehinder het en waarvan die teksverse melding maak – die bediening van die versoening. God het hierdie bediening van die begin af aan die kerk toevertrou en is dit die kerk se taak om mense te begelei om hul met God te versoen en heel te word. ʼn Kerk wat hieroor lieg, laat miljoene mense in die hel beland. En dis wat Luther gepla het; die RK het vir mense gelieg en siele die ewige verderf ingestuur!
Die probleem was en is vandag nog daar – die RK se valse bediening van die versoening. Hulle verkondig dat as jy gedoop is, aan die kerk behoort en goeie werke doen, jy gered is. Daarbenewens moet jy tot Maria bid, want sy is die eintlike middelaar en baie meer vergewensgesind as Jesus.
Daarbenewens het die RK met die priesteramp volhard – kerklui wat Jesus met ʼn weersinswekkende karikatuur van die nagmaal opnuut offer. Dis die evangelie van die hel! Sulke versoening is vals en het niks met Jesus se offer aan die kruis te maak nie. Nie Maria of enige ander sg. heilige nie, net Jesus kan dit bewerkstellig. Hy sê self:
“Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Daar word gesê dat alle paaie na Rome lei. Ek kan op grond van God se Woord vir u sê dat die pad na die hemel bitter ver by Rome verbyloop! Daarom kan ons God nie genoeg vir Protestantisme en die suiwere bediening van die versoening dank nie.
Maar dan moet ons geloofsekerheid hê, anders is ons in werklikheid niks beter as die Roomse Katoliek wat voor sy afgode kniel en glo dat die kerk hom ná sy dood die hemel sal indra nie. Ek tree as gesant van God op en pleit by elkeen wat Jesus nog nooit as Verlosser aangeneem het nie: Laat jou met God versoen en word heel vir die ewige lewe!