Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Ou Testament leer ons dat God reguit houe met krom stokke slaan. Die Nuwe Testament leer ons dat God gelowiges help om reguit tree op krom paaie te gee. Sodra ’n mens tot bekering kom, wil jy geestelik groei, die Bybel leer ken en diensbaar in God se koninkryk wees – en daarvoor moet jou geestelike vuur hoog brand.
ERVAAR JY WARE GELUK?
Ds A.E. van den Berg
“Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele”(Mt.5:3).
ʼn Leraar se intreepreek sê baie van sy voornemende prediking in ʼn gemeente. Jesus het ook so ʼn preek gehadwat die basis van sy bediening gevorm het nl. die Bergrede. Hy begin die preek met die woorde:
“Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele”.
Wat beteken arm van gees? Om tot die besef te kom dat jy volkome afhanklik van God is. Die woord arm beteken meer as om bloot hulpbehoewend te wees. Dit dui op 100% afhanklikheid van God.
Jesus gebruik ook hierdie woord vir mense wat so met gestremdhede leef, dat hulle op die sorg of welwillendheid van ander mense aangewese is. Dink aan die Bybelse verhale van blindes, kreupeles en melaatses wat geheel op die aalmoese van verbygangers aangewese was. So moet die mens wat werklik gelukkig wil wees, van God afhanklik wees.
Vir ongelowiges maak dit geen sin nie. Hulle glo eerder hoe minder hulle van iemand afhanklik is, hoe gelukkiger is hulle. Om ten volle van God afhanklik te wees, is eintlik baie logies want hoe kan enige mens werklik in volle beheer van sy omstandighede wees? Niks is werklik onder sy beheer nie; nie gesondheid, welvaart of eie lewe nie. Dinge kan in ʼn oogwink verander!
Ons is nie die eienaars van ons eie lewe nie. God is die Eienaar daarvan. Hy leen dit vir ons solank as wat dit Hom behaag; niks is vanselfsprekend of toevallig nie. Ons is voortdurend voor die oë van God. Hy ken nie net ons woorde nie maar ook ons gedagtes. Dawid skryf:
“U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, HERE, U ken dit geheel en al” (Ps.139:2-4).
Met die oordeelsdag sal elke mens voor die groot wit troon rekenskap van sy woorde en dade gee.
“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Jesus vertel by geleentheid van ʼn ryk boer wat geglo het dat hy 100% in beheer van sy lewe was. Hy het skure gebou om sy oeste vir ʼn sorgelose toekoms op te gaar waarna hy een nag skielik oorlede is. God het sy siel opgeëis, iets waaraan ons niks kon doen nie.Salomo skryf:
“En die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Pred.12:5).
Die grootste fout wat die boer gemaak het, was om hom vir stoflike dinge af te sloof terwyl hy vir beter dinge kon leef. Geen donkerte is so skadelik vir die siel soos onverskilligheid nie. Dit verhaas die dood. Hierdie boer is deur die stormwind van sy eie onverskilligheid weggewaai.
Hy het nie besef dat die lewe nie ʼn besitting was nie maar ʼn lening van God. Dit het hom armer gemaak as enige rampspoed wat hom ooit kon tref. Jesus waarsku:
“Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal’n mens gee as losprys vir sy siel? “ (Mt.16:26).
Wie alles verloor maar God vind, is ryker as hy wat alles besit, maar God verloor.
Mense wil graag gelukkig wees, maar soek geluk dikwels op die verkeerde plekke. Hulle maak een groot fout – hulle glo dat geluk iewers buite hulle lê en dat hulle daarna moet gaan soek al moet hulle hul daarvoor afsloof. Dis alles net skyngeluk wat nie ware vrede bring nie. Ware geluk lê nie buite nie maar binne in die mens en begin by ʼn hartsverandering – die bekering.
Wie bloot op stoflike gewin ingetel is, word telkens wreed ontnugter en laat miljoene siele in die verderf beland. Rykdom is soos seewater; hoe meer jy daarvan drink, hoe dorser word jy. Hoe ryker mense word, hoe duurder word die valse geluk waarna hulle hunker.
Hebsug maak van mense slawe. Goue boeie verskil in werklikheid nie van ysterboeie nie; dis maar net ʼn ander kleur. So van kleur gepraat – baie mense se lewens is soos ʼn verkleurmannetjie; dit neem die kleur van hul geld aan.
Ons volk vergaan onder hebsug. Mense trap t.w.v. stoflike gewin op mekaar en besef nie dat hulle naak in die wêreld lewe gekom en dit naak gaan verlaat nie. As rykdom werklik ons s’n was, sou ons dit in die hiernamaals kon saamneem.
Rykdom is een van die minderwaardigste besittings en minderwaardig teenoor die gawes van God soos gesondheid, inbors, wysheid en bevoegdheid ens. Nietemin sloof mense hul daarvoor af. Baie mense spit so diep om by die skatkis van rykdom te kom, dat hulle nie agterkom dat hulle, soos die boer waarvan Jesus praat, hul eie graf grawe nie. ʼn Mens wonder of die sug na rykdom nie al meer mense doodgemaak het as vuurwapens nie?
Rykdom is ʼn paspoort na enige bestemming in die lewe behalwe na die hemel. Dis ʼn kredietkaart waarmee alles behalwe geluk gekoop kan word. Daarom staan God se resep vir geluk nie op geldnote geskryf nie.
Wat is die resep van ware geluk? Jesus antwoord:
“Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele”.
Wie in volle afhanklikheid van God leef, vind nie net blywende geluk nie, maar maak ook daardie skatte bymekaar wat mot en roes nie kan verniel nie. Ware geluk is in werklikheid nie duur nie. Die namaaksels is bitter duur!
Ons leef nie om geld te maak nie maar om ’n lewe te maak. Die lewe is te kort om dit op geldmaak te mors. Wie sonder geld is, is nou wel arm. Wie net geld het, is nog armer.
“Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie” (Rom.8:5-8).
Wie niks anders as Jesus benodig om gelukkig te leef nie, is waarlik gelukkig. So ʼn mens se geluk is nie ʼn bestemming wat bereik of ʼn besitting wat verkry is nie, maar die heerlike ervaring om elke minuut deur God se liefde, genade en dankbaarheid omring en gedra te word.
“Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele”.
Ons het pas ʼn nuwe jaar betree. Laat ons elke dag geestelike wiskunde doen deur ons seëninge te tel. Elke lewensles het seëninge en elke seëning het ʼn les. Moenie negatief wees nie - tel jou reënboë en nie jou donderstorms nie. En wanneer jy jou seëninge tel, maak seker dat jy jou geliefdes dubbeld tel.
Ons ontvang baie meer seëninge as wat ons dink. As ons dit tel, het ons genoeg om ons lewenslank gelukkig te hou.
“Die seën van die HERE — dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie” (Spr.10:22).
Kyk terug op jou foute en sê vir jouself dat dit die laaste keer is dat jy daarna gaan kyk. Laat die wêreld weet waarvoor jy leef en nie waarvoor jy geswig het nie. Wees soos ʼn hoenderhaan wat die dagbreek nooit kop omlaag aankondig nie omdat hy weet Wie die son laat opkom. Mag God ons hierdie jaar van daardie dinge in die lewe weerhou wat geen blywende vreugde bied nie maar net trane besorg!