Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dis nutteloos om met mense wat voortdurend strydlustig is iets te doen te hê. Paulus het aan Titus gesê om hom van sulke mense te onttrek na een en nie meer as 'n tweede vermaning nie. Sulke mense verwek partyskap, twis en haat, en is op die verkeerde pad met hierdie sonde waarin hulle selfveroordelend staan. Ons moet met hulle niks te doen hê nie.
SNELWEG OF AFDRAAIPAD?
Ds. A.E van den Berg
“.... Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel ....“ (Jer.6:16)
Ons land verkeer tans in ʼn gesag– en sedelikheidskrisis soos nog nooit tevore nie. Die stygende misdaadsyfer en die gewelddadige aard daarvan getuig van ʼn gees van eiegeregtigheid, onverdraagsaamheid, selfsug, materialisme en grootskaalse korrupsie wat ons land beetgepak het.
Bybelse opdragte oor seksualiteit, menswaardigheid, gesinsverhoudinge, opregtheid, eerlikheid, betroubaarheid en verantwoordelikheid word geminag. Mislukte huwelike engesinsverbrokkeling is aan die orde van die dag; die
wrange vrugte van 'n samelewing wat God se Woord verlaat het.
Die Bybelse riglyne vir sedelike gedrag word nie meer soos in die verlede as rigtinggewend beskou nie, terwyl dit juis daarin setel. Die Christendom bely immers dat die mens as ʼn skepsel van God 'n verantwoordelike wese is en sy Skepper uit liefde gehoorsaam moet wees:
“As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15).
Die gevolg van onverskilligheid is dat daar al hoe minder tussen aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag onderskei word. Hieraan is talle hoofstoomkerke wat afdraaipaaie vir snelweë voorhou, aandadig. Ontspoorde kerke glo dat afdraaipaaie groter openheid en verrykende denke bied.
Mense word mislei om anders oor die waarheid en deugde soos eerlikheid, opregtheid en gehoorsaamheid te dink. Verwronge idees word as teologiese vernuwing verwelkom en laat mense baie anders as voorheen dink. Dit maak mense individualisties, onbetrokke en selfs traak-my-nie-agtig. Ou beproefde waardes word op die altaar van vernuwing opgeoffer wat selfs die Bybelse onderskeid tussen die rolle van mans en vrouens in die samelewing laat vervaag.
Kerke wat veronderstel is om in tye van volksverval sterk Bybelse leiding, veral oor sedelikheid, te gee, heul saam met die aftakelaars. Alhoewel sedeleer nie die primêre taak van die kerk is nie, is dit ook nie daarvan uitgesluit nie. Godsdiens het immers sterk sedelike implikasies.
Kerke verloor in die proses die tradisionele waardigheid wat hulle altyd beklee het. Daar word minder na die kerk se standpunt oor sedelike aangeleenthede gevra. Sy wat God se verteenwoordiger op aarde moet wees, het ontrou aan haar opdrag geword!
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).
Kerkverval is die gevolg van sekere paradigmaverskuiwings, toegeeflikheid aan sonde en die versugting na ʼn byderwetse voorkoms. Leuens is geleidelik in godsdienstige taal geklee en as nuwe Bybelse insig bemark. Mense is laat glo dat daar vir hulle ʼn nuwe lig opgegaan het om hulle nuut en vars te laat dink. Die afdraaipaaie het geen lig gehad nie en mense lelik laat struikel.
Die kerk geniet die nuwe speelveld waarop sy haar tans bevind en besef nie dat sy die snelweg vir afdraaipaaie verlaat het nie. Dis soos die verhaal van Simson: “ .... Want hy het nie geweet dat die HERE van hom gewyk het nie...” (Rigt.16:20).
Dis moeilik om van dinge ontslae te raak wat jy gedink het goed is, maar jou mee misgis het. Dis wel met God se genade moontlik om na die ou wee terug te keer. Daarvoor moet gelowiges baie ernstig bid. Kerke het in die verlede altyd vir die bekering van mense gebid. Vandag moet ons vir die bekering van die kerk bid!