Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe lyk iemand wat die Here opreg dien? Ps 112 vertel ons: sy kinders en kleinkinders is ook Godvresend; sy besittings is altyd genoeg al is dit ook min; hy doen uit liefde barmhartigheidswerk; hy is altyd eerlik; sy vertroue op God laat hom alle storms moedig hanteer; hy deel God se liefde met ander; ander mense sien en praat oor sy liefde vir God.
CHRISTENE EN DIE WET VAN GOD
Ds. A.E van den Berg
“...aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie....” (Rom.3:20).
Inleiding
Hoe moet Christene die Wet van God beskou? Is die onderhouding daarvan enigsins bepalend vir saligheidsverwerwing? Nee, gewis nie. Talle van hierdie wette het oor die offersisteem gehandel wat met die kruisiging van Jesus ten einde gekom het. Is van die ander wette nie dalk steeds bindend nie?
Dieselfde vraag het in vroeë NT kerk opgeduik waarna ʼn raad van apostels en ouderlinge byeengekom het om dit te bespreek. Die strydvraag het oor die besnydenis gegaan. Het God van nie-Joodse bekeerdes verwag om hulle eers te laat besny alvorens hulle in die nuwe verbond kon deel? Nee, beslis nie.
Paulus het bv. geen druk op nie-Joodse bekeerdes geplaas om hul te laat besny ten einde as medebroeders in die geloof aanvaar te word nie. Sommige Joodse Christene het weer vas geglo dat wetsonderhouding (wat die besnydenis insluit) steeds vir saligheidsverwerwing nodig was:
“Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê: Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou” (Hand.15:5).
Dit blyk dat die besnydenisse destyds gedoen is sonder om die apostels daarvan in kennis te stel.
“Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou” (:24).
Hierdie Christene het geglo dat die geloof in Jesus alleen nie genoegsaam vir saligheidsverwerwing is nie en wou die evangelie van Jesus Christus met die Joodse wetsonderhouding verenig en is Judaïseerders genoem. Hulle het op ketterse wyse die vroeë kerk binnegesypel en groot onmin veroorsaak.
” ... ingesmokkelde valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid te bespied wat ons in Christus Jesus het, sodat hulle ons in diensbaarheid kon bring” (Gal.2:4).
Die insypelaars het in der waarheid ʼn vreemde Evangelie verkondig:
“Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe” (Gal.1:6).
“Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!” (Gal.1:8).
Paulus het die Judaïseerders sterk teengestaan. Alhoewel hulle grootliks klem op die besnydenis gelê het, kan dit aanvaar word dat talle ander OT wette ook betrek is. Die Wet van Moses was immers ʼn volledige eenheid. Mense kon nie selektief daaraan gehoorsaam wees nie. Wie die een gehoorsaam moes almal gehoorsaam:
“En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou” (Gal.5:3).
Paulus het lesers daarop gewys dat die ou verbond met ʼn nuwe een vervang is en dat die oue in geheel ophou bestaan het. Christene was nie deur die reëls en regulasies van die ou verbond gebonde nie. Hulle is slegs deur die geloof in Jesus geregverdig en niks meer nie. Die ou verbond het Israel met kennis van God bedien totdat Jesus gekom en hul verder onderrig het:
“En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mt.7:28.29).
Paulus se optrede het die Judaïseerders egter nie gestuit nie. Daarom is hy later Jerusalem toe om die saak met die kerkleiers uit te klaar. Na bespreking is besluit dat geen beperking op nie-Joodse bekeerlinge geplaas word nie. Die geloof in Jesus Christus was voldoende vir saligheidsverwerwing.
Die nuwe verbond
Met die nuwe verbond is Christene se verhouding met die OT wette verander maar nooit opsy geskuif nie. Paulus verduidelik dat Christene nie meer onder die wet is nie, maar onder die genade:
“ ... julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade”... “So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan 'n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra” (Rom.6:14; 7:4).
Christene is van die bindinge van die OT wet bevry en dien God op ʼn ander manier:
“Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie” (Rom.7:6).
Gelowiges het ʼn nuwe verbond ontvang wat hulle nie deur wette nie, maar deur die Heilige Gees lei. Hulle dien God op ʼn nuwe manier – die weg van die Gees wat die ou geskrewe kode vervang het. Laasgenoemde moes beëindig word omdat dit ʼn tydelike sisteem was wat God vir Israel as ʼn geestelike beskermer ontwerp het totdat die Messias sou kom:
“Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom.10:4).
Gelowiges se verhouding met God was ná Jesus se koms na die aarde nie langer deur ʼn geskrewe wet gereguleer nie, maar is op die geloof in Jesus Christus gegrond. Daarom sê Jesus:
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Christus het deur sy kruisdood aan al die vereistes van die wet voldoen en dit so vervul:
“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Mt.5:17).
Die mens se geestelike verhouding met God is op ʼn persoonlike verhouding met Christus gegrond en nie die nakoming van ʼn lys van reëls nie. In 1 Kor.9:20,21 sien Paulus homself as een wat nie onder die ou verbond is nie. Die Mosaïese wet was God se wet vir Israel onder die ou verbond. Paulus ag hom onder die nuwe wet van Christus met liefde as ʼn vervulling daarvan..
Omdat Christene nie onder die Mosaïese wet was nie maar onder dié van Christus, is daar van hulle verwag om as ʼn uiting van onderlinge liefde mekaar by te staan:
“Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus” (Gal.6:2).
Die wet van Christus is nie ʼn wet soos wat die Jode godsdienswette geken het nie maar ʼn lewensbeginsel wat op verhoudings ingestel was:
“’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh.13:34,35).
Onderlinge liefde getuig van dissipelskap. Die evangelies getuig feitlik op elke bladsy van Jesus se liefde. Gelowiges het die heerlike verpligting om ook lief te hê. Alle ander dinge was daaraan ondergeskik.
“Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk” (Gal.5:6).
Die wet van Christus is in die harte van gelowiges geskryf. Dis ʼn interne beginsel:
” Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie”(Gal.5:22,23).
Die Wet van Moses kan sonder liefde nagekom word, maar nie die wet van Christus nie. Daarom moet gelowiges nie na die Wet van Moses terugval en die evangelie tot ʼn wettiese sisteem verskraal nie. Want dan bestaan mense se geloof uit reëls en nie Christus nie en is hulle oor hul eie voortreflikheid en werke en nie met die verlossingswerk van Christus begaan nie:
“Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?” (Gal.3:5).
Wie na die Wet terugval, ervaar nie werklik die geestelike seëninge soos wat diegene wat volgens die wet van Christus leef, ervaar nie. Die teenoorgestelde kan selfs gebeur – hoe meer Christene op die wet vertrou om hulle te lei, hoe minder vertrou hulle op die Heilige Gees. Dis onmoontlik om op die Wet en die Gees gelyktydig te vertrou. Die een skakel die ander een uit.
“Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal.3:3).
Die Kolossense is ook deur wettisisme gepootjie:
“As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? – almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan – volgens die leringe van mense, wat, alhoewel dit ʼn skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees” (Kol.2:20-23).
Gehoorsaamheid aan die Wet van Moses kan selfs met die wet van Christus bots. Joh.8:3-11 vertel van ʼn vrou wat met egbreuk betrap is. Volgens die Wet van Moses moes sy gestenig word. Jesus betoon aan haar goedheid, genade en vergifnis. Dis hoe die wet van Christus in die praktyk lyk. Die ou reëls word tersyde gestel en liefdesbeginsels soos genade seëvier.
“Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid” (2 Kor.3:9).
Mt 12 vertel van ʼn ander geval. Fariseërs het met aantygings by Jesus gekom dat sy dissipels op die Sabbat graan langs die pad gepluk en daarmee die Sabbat ontheilig het. Jesus het hulle na die geval verwys waar Dawid van die heilige toonbrode in die tabernakel geëet het wat slegs vir die Leviete bedoel was. Omdat Dawid honger was en daar niks anders te ete was nie, het God dit nie as ʼn oortreding beskou nie.
Dawid se optrede was volgens die wet van Moses ontoelaatbaar maar is deur omstandighede geregverdig. Genade is belangriker as blinde gehoorsaamheid aan wettiese reëls en meegevoel ʼn beter gids vir goddelike gedrag.
Slot
Die neiging na ʼn meer wettiese godsdiensbeoefening steek vandag weer kop uit. Klem word soos in oud-Israel op die letter van wet gelê en glo dat dit God behaag. Dit is nie so nie. God het meer behae in liefde en gehoorsaamheid as in reëls en regulasies. Om ʼn verhouding met Jesus aan onderhouding van die wet te koppel, is om die genoegsame offer van Christus aan die kruis te ontken en aan die onvergeeflike sonde skuldig te wees.
Die Bybel roep gelowiges telkens tot ʼn heilige en gehoorsame lewenswandel in Christus op. Dis die Wet van Christus – nie ʼn geskrewe kode van wette en regulasies nie, maar liefdesbetoning op alle terreine van die lewe.
Het die OT-wette nog enigsins waarde? Kan dit maar gelaat word? Nee, daar is baie ooreenkomste tussen die Wet van Moses en dié van Christus. Benewens die vierde gebod word al die ander wette in die NT van nader uitgewerk. Dit maak die onderliggende beginsels van die Wet van Moses steeds waardevol. Die wet van Christus maak die wil van God net duideliker.
Gelowiges moet lig loop vir wettisisme. God spreek telkens sy misnoeë teen uiterlike vormgodsdiens uit – mense wat godsdienstige rituele aanhang sonder dat hulle hart daarin is.
“Bring nie meer skynheilige offergawes nie.... hulle is My ʼn oorlas. Ek is moeg om dit te dra” (Jes.1:13,14).
Die evangelie was die vervulling van God se belofte aan Abram eeue voor die Mosaïese wetgeskryf is. Laasgenoemde was ʼn tussentydse reëling wat ná die koms van Christus uitgedien geraak het. Christene deel nou met vreugde in die nuwe verbond. Niemand ontvang die ewige lewe deur Wetsonderhouding nie; slegs deur die bekering tot Jesus Christus.