Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Onvergenoegdheid en ewige gefoutvindery met alles is soos gif in mens se gestel. Daar is net een entstof om dit weg te neem: dankbaarheid. Wanneer probleme oor ons pad kom het 'n gees van dankbaarheid 'n strelende antiseptiese uitwerking.
DIE SALIGE EINDE
Ds A.E. van den Berg
“Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam” (Openb.3:12).
Die benaming Nuwe Jerusalem word tweemaal in die Bybel vir die simboliese stad van die gelowiges in die hiernamaals gebruik. Dis na die oordeelsdag die ewige tuiste van alle gelowiges en nie die hemel soos wat baie dink nie. Die hemel is die uitsluitlike woonplek van God en sy engele. Jesus sê self: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Joh.3:13).
As van Henog en Elia gesê word dat hulle in die hemel opgeneem is, word na die Paradys as die wagkamer na die Nuwe Jerusalem verwys. Jesus sê vir die misdadiger aan die kruis op Golgota: ” .... Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luk.23:43).
In die Paradys ervaar gelowiges alreeds ongekende vreugde omdat hulle weet dat die Nuwe Jerusalem op hulle wag. Met ongelowiges is dit anders; hulle gaan na die doderyk - die wagkamer na die hel, waar geen vreugde of iets is om na uit te sien nie. Dis die teenoorgestelde van die Paradys.
Die Bybel skets die doderyk as ʼn plek van ʼn geween en ʼn gekners van tande wat die ergste berou beskryf. Wie daarin verkeer, weet dat hul lot verseël en dit te laat vir bekering is. “En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem” (Luk 16:23).
Die Bybel beskryf die uiteinde van die ongelowiges: “.... en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:13,14).
Die Nuwe Jerusalem daal uit die hemel neer waarna gelowiges die wagkamer van die Paradys vir hul ewige woning verlaat. Die stad het 12 fondamente waarop die name van die 12 apostels geskryf staan omdat gelowiges hul geloof op dit wat die apostels in opdrag van Jesus geleer het, bou: “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efes.2:20).
Gelowiges het al in die tyd van die OT van die komende ewige stad geweet. Twee van die profete het selfs toekomsgesigte daarvan ontvang nl. Jesaja en Esegiël. “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie..... (Jes.65:17).
Openb.21 gee ʼn kort beskrywing van die Nuwe Jerusalem om hulle wat ernstige geloofsvervolging ervaar het, te bemoedig: “ En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin” (:24).
Die stad lyk vir Johannes soos ʼn diamant wat die heerlikheid van God uitstraal en is net vir gelowiges toeganklik: “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam” (Openb.21:27) .
Wie nie gered is nie, bevind hul vir ewig buite God se genade:“Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen” (Openb.22:15).
Die Nuwe Jerusalem is slegs vir diegene wie se name in die boek van die lewe geskryf is bedoel.“Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openb.5:9).
Selfs Abraham het daarna uitgesien:“Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebr.11:10).
Die indrukwekkende mure wat Johannes van die ewige stad in sy gesig sien, dui op die heerlikheid van Jesus se teenwoordigheid daarin. Dis van die mooiste boumateriale en salig op die oog. Wat ʼn kontras met hulle wie se name nie in die boek van die lewe staan nie en die ewigheid in duisternis gaan deurbring!
Die stad is die vervulling van God se belofte: “Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet.3:12,13).
Wanneer God se hoogste goedheid in die stad verwerklik, is die ou aarde en ou dinge verby: “sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Pet.1:4). “En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut” (Openb.21:7).
Petrus skryf:“...julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet 3:11,12).
Die hartklop van Openb. 21 en 22 is ongetwyfeld die nuwe volmaakte en glorieryke teenwoordigheid van God in die Nuwe Jerusalem. Die ou wêreld is vir altyd verby. God het ʼn nuwe wêreld geskep en sy stempel daarop geplaas. “En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam” (:22).Dit sluit by Joh.8:12 aan: “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê”.
Ná die oordeelsdag word die deur van die wagkamer (Paradys) oopgemaak en gaan die gelowiges die Nuwe Jerusalem met groot blydskap binne. Die nuwe hemel en die nuwe aarde is nou een. God en die gelowiges is nie meer geskei nie en sy woonplek is by die gelowiges self: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openb.21:3).
Maak baie seker van jou redding. Moenie die fout maak wat die vyf dwase maagde in die bekende gelykenis gemaak het nie. “En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie” (Mt.25:11,12).
Mag elkeen die volgende woorde hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Mt.25:23).