Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy die grysheid met 'n gesonde en fiks liggaam begroet en baie trots op jouself daaroor is, raak betrokke by siek en gestremde persone, beleef hulle seer en onmagtigheid sodat jou trots in dankbaarheid kan omskakel - dan wen ook jou siel daarby.
SOUT VAN DIE AARDE
Ds A.E. van den Berg
“Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie”(Mt.5:13).
In Jesus se tyd was sout klipsout wat van die Dooie See omgewing afkomstig was en het weens onsuiwerhede daarin dikwels ʼn slegte nasmaak gelaat. As dit nat geword en opgelos het, is van die onsuiwerhede vrygestel. Om dit dan weg te gooi, sou die grond waarop dit geval het onbruikbaar maak. Daarom is dit op paaie gegooi en deur mense vasgetrap om dit sodoende hard te maak.
Jesus gebruik die voorbeeld van die onmisbaarheid van sout om gelowiges en derhalwe ook die kerk op hul roeping in die wêreld te wys. Kos sonder sout is smaakloos. So ook die wêreld sonder gelowiges. Soos wat sout mense dors maak, moet gelowiges die wêreld dors vir die waarheid maak. Daarbenewens werk sout ook verrotting teen. So ook gelowiges se sondeverrotting.
Die ware kerk het net een bestanddeel – sout. Die valse kerk het net suiker. Leraars hou Jesus voor as die Een wat almal liefhet, alles vergeef en gruwels verdra. Hulle maak van soutkorrels suikerkorrels.
Die wêreld het ʼn soettand vir sonde. Daarom bars kerke wat mense daarmee voer, uit hul nate. Sout is egter ʼn suiwer element en het geen plaasvervanger nie. Sout raak egter onbruikbaar as dit met onsuiwerhede gemeng word. So ook kerke wat uitskotprodukte in plaas van meesterstukke word.
Geestelike suikersiekte neem onrusbarend toe. Kerke se ontstellende besluit oor homoseksualisme en selfde geslag huwelike is maar een voorbeeld van geestelike insulienweerstandigheid. Die goedpraat van gruwels waarteen die Skrif in geen onduidelike taal waarsku nie, getuig van geestelike krankheid en gedienstigheid aan die een-wêreld kerk wat vir die koms en heerskappy van die Antichris bymekaar gemaak word. Kerklidmate se stilswye oor hierdie “ontsondiging” van gruwels en sedelike verval kom op blindelingse goedkeuring neer!
Wêreldlikheid is een van die grootste vyande van die kerk. Dis egter belangrik om te weet wat wêreldlikheid is en wat nie. Sekere kerke verstaan dit skynbaar glad nie. Die Bybel sê: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh.2:15-17).
Twee kernwoorde staan hier uit – liefde en wêreld. Gelowiges kom in die versoeking om soos ʼn vis in ʼn net in wêreldse dinge verstrengel te raak. Wêreld beteken hier ʼn geordende wêreld-sisteem met Satan aan die spits, wat God en sy Woord verwerp en georkestreer teen Hom in opstand kom (Ps.2:2,3).
God verbied nie gelowiges om die lewe te geniet nie. Solank as wat hulle die dinge van die wêreld nie die fokuspunt van hul lewe maak nie. ʼn Kerk wat mense gee wat hulle wil hê in plaas van wat hulle benodig, word deur die wêreldstroom meegevoer. Om mense se sondige belangstellingsveld te gebruik om hulle vir die kerk te wen, laat ʼn kerk in iets wat ontsout is, ontaard!
Jesus se bediening was buite die kerk van sy tyd. Hulle het Hom nie ondersteun nie maar eerder laat kruisig omdat Hy geen kompromieë met die valse vertoon van die kerk van sy tyd aangegaan het nie. Alhoewel die Skrifgeleerdes deeglik in die Skrifte opgelei was, het hulle eerder menslike bepalings hoër geag.
“Toe het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie “ (Mt.23:1-3).
Jesus se lewe en bediening is ʼn teksboek voorbeeld van hoe die ware kerk in ʼn godvyandige wêreld moet optree. Sodra ʼn kerk van Skrifwaarhede afdwaal, moet gelowiges die Meester en nie die kerk volg nie!
Plaaslike kerke spoed in doodloopstrate voort met net een geneesmiddel – terug na die Bybel. Hulle moet soos ʼn Efese van ouds omdraai. “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openb.2:4,5). ʼn Doodloopstraat is vir ʼn kerk en mens die heel beste plek om om te draai.
Skrifgetroue kerke moet soos salms stroom-op swem om te verhoed dat die wêreld hulle in ʼn gietvorm druk en Satan hul wêreldbeskouing met sy bose filosofieë inkleur. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).
Die wêreld het ʼn nood aan kerke en lidmate met ʼn opregte liefde vir Jesus en wat die Evangelie van sy kruisdood en die wonder van verlossing vreesloos en duidelik aan sondaars oordra sodat hulle hul kan bekeer en heilig lewe.
Kerke moet sonde duidelik aanspreek en bewustelik daarteen optree. Jesus het by geleentheid selfs die tempel met ʼn sweep binnegegaan om dit te reinig. In sy getuienis voor die Joodse Raad het Stephanus die kerk nie heuning om die mond gesmeer nie. Hy het reguit daarteen gepraat al het dit sy lewe gekos.
As wêreldsheid in ʼn kerk se murg beland, word meesterstukke uitskotprodukte. Daarom durf kerke hul deur nie eers op ʼn skrefie vir die wêreld oop te maak nie. “en gee aan die duiwel geen plek nie...” (Efes.4:27). Dit beteken egter nie dat die kerk die wêreld geheel moet vermy nie. Dis juis haar roeping om die sondeverrotting met die genesende sout van die Woord teen te werk.
Die verval van kerke moet as een van die droewigste gebeure aan die suidpunt van Afrika aangeteken word. Agendas, Sinode-uitsprake en ontspoorde teoloë voer die botoon. Skrif en belydenisskrifte is nie meer ter sake nie. Die uiteinde is ʼn aanpassing in die belydenis en geloof wat ter selfde tyd ontsout word.
Hierdie toekomstige kerklike verval wat ons vandag beleef, is al eeue gelede voorspel: “… want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle wend tot fabels” (2 Tim 4:3,4).
Die ware kerk sal toenemend aangeval en sy kernboodskappe bevraagteken word. Dis ʼn duidelike teken dat daar net een waarheid is. En dit staan reg teenoor Satan se planne om kerke met ʼn nuwe gier en liturgie te ontsout. Die ware kerk daarenteen het Jesus lief, dien Hom alleen, leef suiwer volgens sy Woord en gaan geen kompromie met die wêreld aan nie. Hulle is sout! En jy? Suiker of sout?