Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom wil ons gedurig ander beïndruk met allerhande ingewikkeldhede? Probeer 'n keer eenvoudig leef, praat, lag, doen, en jy sal vind hoe bevrydend dit is, hoeveel vreugde en balans dit vir jou bring.
DIE SIN VAN DIE LEWE
Ds A.E. van den Berg
“Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Pred.12:13).
Baie mense glo dat die wêreld hom uiteindelik self gaan vernietig. Beskawings kom en gaan, natuurrampe, pessiektes, hongersnode en mense-slagtings neem toe. Al hierdie dinge maak van die moderne mens ʼn onsekere wese. Hy leef in ʼn wêreld wat lengte, maar nie diepte het nie. En die rede hiervoor is dat mense aan nietighede vasklou wat net so lank hou as wat hul leef. Gevolglik bly die mens t.s.v. al die lig wat kennis en tegnologie bring, steeds in die duisternis.
ʼn Paar jaar gelede is ʼn inboorlingstam in die hart van die Amasone ontdek wat nog nooit met die beskawing in kontak was nie. Benewens ʼn filmspan wat hulle vanuit ʼn helikopter gaan afneem het, het die Brasiliaanse owerheid enige verdere kontak met hulle verbied ten einde hul eiesoortigheid te bewaar. ʼn Kameraman vertel dat die inboorlinge selfs spiese na die helikopter gegooi het.
Wat ʼn kontras – ʼn stuk wêreld wat te midde van die beskawing in die tyd stilstaan. Een groep mense gooi nog spiese terwyl ʼn ander groep die buitenste ruimte verken. Alhoewel die afstand tussen die kameraspan en die inboorlinge net buite die bereik van die spiese was, was die kulturele afstand tussen hulle duisende jare verwyderd!
Maar, wie was die beste daaraan toe? Die ruimtetegnoloë of die inboorlinge? George Bernard Shaw het gesê dat verstandige mense hul by hul wêreld aanpas. Onverstandiges probeer weer die wêreld by hulle te laat aanpas. Genoemde inboorlinge het hul by die wêreld van hul omgewing aangepas.
Die moderne mens is ʼn soeker. Wie is ek? Waar pas ek in? Is ek veronderstel om iewers in te pas? Wat is my doel in die lewe? Ons bevind ons op ʼn onsekere planeet met geologiese plate wat gedurig verskuif met aardbewings, gety-golwe en aardverwarming wat ʼn veiligheidsrisiko skep. Watter werklike sekerheid is daar op hierdie wankelbare planeet van ons?
Die mensdom weet dat as hy nie reg te werk gaan nie, gaan hy homself vernietig. Daarom sing Boney M “Don’t kill the World”. Ja, die ganse mensdom is oor omgewingbesoedeling besorg wat ʼn gevoel van doelloosheid en verlorenheid by baie mense laat ontstaan. Hoe lank nog voordat alles tot niet gaan?
Dis nie ʼn nuwe probleem nie. 3000 jaar gelede het Salomo ook gesukkel om die sin van die lewe te vind. Hy het aardse drome nagejaag. En telkens as dit hom genot verskaf het, was dit van korte duur en was hy terug waar hy begin het. Genot was na alles nie die sin van die lewe nie: “...watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan” (Pred.1:3,4).
Salomo was gefrustreerd. Die somtotaal van sy drome, prestasies en genot het hom koud gelaat. Dit het nie sy lewe verander, soos wat hy gehoop het nie: “En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek vir geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid...Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het....en kyk, dit was alles tevergeefs en ʼn gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie” (Pred.2:10,11).
Salomo kon sy krom wêreld nie reguit maak nie. Iets het ontbreek. “Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie” (1:15). Dat hy die nodige wysheid gehad het om te weet hoe dinge moet wees, maar niks daaraan kon doen nie, het hom ontstel. “Want by baie wysheid is baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder smart” (Pred.1:18)
Ek wonder wat Salomo van ons lewe sou sê? Daar is die afgelope 50 jaar meer tegnologiese ontdekkings as in die voorafgaande 5,000 jaar gemaak! Die mensdom het oneindig meer vermag as wat Salomo ooit van kon droom. Die tragedie is dat dit die mensdom nie gelukkiger maak nie. Ons drome het, soos Salomo s’n, ons meester geword. Dit besit ons! En ons grootste vrees? Om dit wat ons het, te verloor. Die wêreld blyk net te krom te wees om enigsins iets daaraan te kan doen. Hoe verskriklik om in so ʼn onsekere wêreld te leef wat jy eendag ook net so gaan verlaat!
God het Salomo die regte pad geleer deur hom eers die verkeerde pad te laat ervaar. Ons leer mos uit ons foute! God wys Salomo op ʼn groot waarheid wat elke gelowige moet insien om sinvol te leef – Salomo moes leer om tussen menslike planne en God se ewige ontwerp te onderskei; uiteenlopend.
Die mens se geskiedenis is ʼn tablo van prestasies en foute. Let op hoeveel beskawings het hulself nie vernietig nie deur verkeerd te werk te gaan en God te tart! God het ʼn verlossingsplan ontwerp wat by die verbond met Abraham begin en tot by die versoening deur sy Seun aan ʼn kruis deurloop.
Toe Salomo die troon by sy vader erf, het hy van God om wysheid gevra en dit verkry. Dit het hom die nodige mag, wysheid en geld besorg om al sy aardse drome te verwesentlik. Maar helaas, alles tydelike genot en niks betekenisvol nie.“Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en ʼn gejaag na wind” (Pred.2:17). God het dit toegelaat om Salomo die grootste les wat ʼn mens op aarde kan leer, te leer: ʼn Lewe sonder ʼn opregte geestelike verhouding met God is betekenisloos, al het jy al die geld, roem en mag soos ʼn koning!
Ons kan met ons verstand baie kennis verkry, selfs van die verste buiteruimtes van die heelal. Desondanks weet ons dat daar ʼn oneindig groot bron van onontdekte kennis is; iets wat al van die voortyd af bestaan het; iets wat ons nie geskep het nie en wat ons net van God kan ontvang.
Salomo se indirekte vraag aan God is ook ons vraag: “Here, waar pas ek in?” Ek weet dat ek nie soos ʼn dier gaan sterf, klaar en verby nie. Ek gaan van ʼn wankelbare planeet na God se ewige vaste woning verhuis. Daarom kan geen aardse genot die verlange na die ewige dinge vervang nie. Daarom het die lewe slegs sin as ek nie op wêreldse dinge hoop, maar op Jesus wat die reddingsboei na my uitgooi. “Ek het gekom dat julle lewe en oorvloed kan hê” (Joh.10:10).
God nooi ons deur Jesus om die ewigheid saam met Hom deur te bring. Daarom kan die wêreld maar vergaan. Danksy die bekering sal ons nie saam met die wêreld vergaan nie, maar vir ewig leef!
Al voel dit of jou wêreld omkeer, God is met jou. Jeremia se wêreld het met die ballingskap behoorlik omgekeer en hy was op moedverloor se vlakte totdat God met hom gepraat het: “ ... Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig... Ek is met jou om jou uit te red...” (Jer.1:4-8).
Toe God hom op sy godgegewe taak wys, het Jeremia se vrees vir dit wat mense kon doen, verdwyn. Nie mense-planne nie, maar God se ewige planne is al wat saak maak. Wie dit insien, is wys!
Al maak dinge op die aarde nie altyd sin nie, sal die ewigheid vol betekenis wees. Dit wat op aarde krom en skeef is, sal daar reguit wees. Dit wat op aarde ontbreek, sal daar in volheid voorsien wees. Daarom hoor ons Salomo in die laaste hoofstuk van Prediker baie anders as in die eerste hoofstuk praat en die grootste denkbare stuk wysheid meedeel: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense”.
Moenie die aardse probleme jou probleme maak nie. Streef eerder na ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde wat kom. Sorg dat jy deur jou bekering daar gaan wees. Jesus het deur sy lyding vir jou die pad daarheen moontlik gemaak.