Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die voordeel van pyn en lyding is dat dit ons leer om meegevoel met ander lydendes te hê. Wie al pyn en lyding ervaar het, kan nooit ongevoelig teenoor ander se pyn en lyding staan nie.
GOEIE LEWENS RED GEEN MENS
Ds A.E. van den Berg
“... Menere, wat moet ek doen om gered te word?Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word....” (Hand.16:30,31).
“En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen... En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:12,15).
Omdat die lewe relatief kort is, smag elke eerbare mens na ʼn goeie lewe wat met goeie dade gevul is. Goeie dade verskaf lewensvreugde maar slegte dade nie, vra maar vir enige gevangene! Goeie dade maak die lewe vir onsself sowel as vir ander mense beter, ongeag of ons ’n vragmotor of ʼn besigheid bestuur.
Maar, wat is die heel beste ding wat jy vir jouself kan doen? Om sekerheid van ʼn ewige saligheid na jou dood te verkry terwyl jy leef. Hoe kry jy dit? Moet jy iets doen om hierdie saligheid te beërwe? Die tronkbewaarder van Filippi vra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”
As hierdie vraag tydens ʼn meningsopname aan mense gevra sou word, sal die meerderheid se antwoorde met die goeie dade te doen hê. Leef net baie mooi op aarde en jy sal die saligheid beërwe. Dis soos met ʼn eksamen; leer net hard en jy sal slaag.
Gevolglik hoor ʼn mens dikwels dat daar van ʼn oorledene gesê word: “Hy was darem so ʼn goeie mens. Hy moet in die hemel wees”. Goeie lewens word gewoonlik aan getroue kerkgang, gereelde Bybellees, gemeentebetrokkenheid en goeie menseverhoudings, veral goeie gesinsverhoudings, toegeskryf. “Hy was so ʼn goeie man vir sy vrou” of “hy was so ʼn goeie pa vir sy kinders”.
So ʼn persoon moet mos ʼn plek in die hemel verdien, nie waar nie? Verkeerd! Dis die dodelikste misgissing wat enige mens kan maak! Dit het al miljoene mense die ewige verderf na hul dood ingestuur. Die ergste is dat mense nie besef dat dit ʼn dodelike misgissing is nie.
As die verkryging van ʼn ewige geluksaligheid dan nie van goeie lewens afhang nie, waarvan dan? Dis baie belangrik om te weet.. Wat moet jy doen om gered te word? Mense sê, leef net mooi. God sê in sy Woord, jy moet betyds tot bekering kom. Alleen die bekering plaas jou naam in die boek van die lewe en niks anders nie. “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp”(Openb.20:15).
In Hand.16 lees ons van ʼn tronkbewaarder wat in die aangesig van die dood besef het dat sy siel verlore is. As tronkbewaarders se gevangenes destyds ontsnap het, is hulle tereggestel. Daarom wou die man selfmoord pleeg. Hy was op die drumpel van die dood en ʼn ewigheid: “... Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word...”
Wat beteken hierdie glo in die Here Jesus? Om in ʼn persoonlike verhouding met Jesus te tree. Dis bekering. Die tronkbewaarder was ʼn Griek en derhalwe ʼn heiden. Wat ʼn ommekeer sou hy nie in sy lewe moes maak nie! Goeie dade sou hom nie red nie, slegs ʼn lewensommekeer; ʼn geestelike metamorfose soos wat ʼn lelike wurm in ʼn mooi skoenlapper verander. Toe hy dit doen, het sy siel met nuwe lewe in Christus opgebruis wat sy hele huisgesin tot bekering laat kom het.
Bekering beteken nie bloot om oor die sonde van die verlede te ween nie, maar om soos die bewaarder tot ʼn nuwe lewe in Jesus te ontwaak. Dis die enigste manier waarop ʼn onwaardige siel vir God waardig word.
Wie tot bekering kom, breek met sy ou meester (Satan) om ʼn nuwe Een (Jesus) aan te hang. Dit maak van die bekering ʼn rewolusionêre daad soos wat met die bewaarder gebeur het. Een enkele besluit het vir hom en sy gesin die verskil tussen hemel en hel gemaak en groot vreugde gebring: “ ... en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.” (:34). Sielevreugde is die bewys van bekeerde lewens. Paulus skryf: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle” (Fil.4:4).
Bekering is om in ʼn persoonlike geestesverhouding met Jesus te tree. ʼn Jongman vra my by geleentheid hoe weet ʼn mens dat jy in ʼn verhouding met Jesus is? Ek vra hom toe hoe weet hy dat hy in ʼn liefdesverhouding met sy meisie is? “Ek geniet dit en mense kan dit sien” antwoord hy. So ook die bekering tot Jesus. Jy het geestesvreugde en sielevrede en mense sien dit in jou lewe.
Moenie jouself mislei en glo dat ʼn goeie lewe voldoende vir ʼn geluksaligheid na die dood is nie. Jy verdien nie krediete met goeie werke nie! Daar is net een pad na ʼn ewige geluksaligheid - die bekering.“ Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Bekering maak van mense wat deur sonde oud geword het nuwe mense. Paulus skryf: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17). Wie in Jesus nuut word, is vir ewig gered. Wie nie nuut word nie, is vir ewig verlore.
God wil hê dat elke mens tot bekering kom: “Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Eseg.33:11).
Bekering moet egter eg wees – daar is baie namaaksels. Jesus maak in die Gelykenis van die Saaier melding daarvan. Daarom waarsku Hy: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Mt.7:21).
Pasop vir selfbedrog. Die maklikste mens om te bedrieg, is jyself. Dit wat jy glo, is vir jou die waarheid terwyl dit dikwels nie die geval is nie. Mense dra graag maskers, veral godsdiensmaskers. Dink maar aan die Fariseërs in die tyd van Jesus. Skynheilige mense sal enigiets, hoe vreemd ook al, doen net om te verhoed dat mense in hul siele inkyk en hulle ontmasker. Ek het talle nare ervarings daarvan in my bediening gehad!
Die tronkbewaarder vra: “ .... wat moet ek doen om gered te word?” Hierdie vraag is ʼn universele vraag: wat moet ʼn mens doen om gered te word? Daar is net een antwoord – jy moet deur die bekering in ʼn geestesverhouding met Jesus kom. Jy kan niks belangriker in jou lewe as dit doen nie. Dit besorg aan jou die onmiddellike, ewige geluksalige lewe na die dood.
Bekering is eenvoudig en maklik. Waarom wil mense so ʼn duur prys betaal om verlore te gaan, as verlossing binne hul bereik en boonop gratis is? Wat maak jy met jou lewe? Onthou, niemand kan die lewe van vooraf begin nie. Jy kan wel deur die bekering ʼn ander eindbestemming bereik. En dis nie moeilik nie. Om dit moontlik te maak het God sy Kind mens laat word sodat mense God se kinders kan word!