Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het ons vry kom maak van alle onnodige aardse voorskrifte en rituele. Leef dan soos 'n bevryde mens in sy liefde en beskerming met dankbaarheid en gehoorsaamheid aan sy Gebooie.
GELOOFSGENESING
Ds A.E.van den Berg
“Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid bewerk”(Mt.7:22,23).
Charismatiese kerke maak baie van “geloofsgenesing”. In Amerika is daar selfs van hulle wat lidmate ontmoedig om mediese hulp te verkry, Hulle veroordeel dit as ʼn voortsetting van heksery en duiwelskuns. Alhoewel baie Charismate nie hierdie siening huldig nie, is sommige skepties oor die mediese wetenskap en vertrou eerder hul sg. geloofsgenesers. Die vraag is: Is daar so ʼn iets soos geloofsgenesing?
Die Bybel dui drie kategorieë geestelike gawes aan.
Daar is eerstens begaafde gelowiges soos die apostels, profete, evangeliste en leraars wat gawes van God genoem word (Efes.4).
Tweedens is daar permanente, opbouende gawes soos kennis, wysheid, profesie, onderrig, vermaning, gebed en barmhartigheid (Rom.12:3-8; 1 Kor.12:8-10,28).
Derdens is daar ook tydelike gawes wat in die tyd voordat die Bybel as geheel afgehandel was vir ʼn beperkte tyd aan sekere gelowiges gegee is om gesag aan die Skrif te verleen. Hierdie gawes het uit onthullende profesie, wonderwerke, genesing, tale en die uitleg daarvan bestaan om die gesag van die apostels te bevestig sodat as hulle gepraat het, mense kon weet dat dit van God was.
Nadat die Bybel voltooi is, was hierdie gawes nie meer nodig nie en het dit ten einde gekom. Daarom maak die kerkgeskiedenis nêrens van ʼn voortsetting van dié gawes melding nie. Oral waar Satan dit nageboots het, is die kerk geskaad.
Wonderwerke, tekens en genesing was buitengewone gawes van God aan sy boodskappers waarvan Jesus die grootste was. Hy het drie soorte wonders verrig.
Eerstens om deur wondergenesing siekes te genees en selfs mense uit die dood op te wek.
Tweedens het Hy deur duiweluitdrywing bose geeste uitgedryf,
Derdens het Hy deur natuurwonders brood vermeerder, op die see geloop en storms tot bedaring gebring.
Die doel van hierdie wonderwerke was om sy aanspraak dat Hy God was, te bevestig. Nadat sy aardse taak afgehandel is, was dit die apostels se taak om die Evangelie verder te neem en gebeure aan te teken. Daarvoor het Jesus hulle die vermoë gegee om genesingwonders te doen en bose geeste uit te dryf. Hulle kon egter geen natuurwonders verrig nie; net Jesus kon dit doen.
God het die gawe van wonderwerke nie aan alle gelowiges gegee nie, maar slegs aan die apostels en hul medewerkers. Hulle was immers die baanbrekers in die vestiging van die kerk. Ná hul dood het hierdie gawes verdwyn.
Die soeke na genesing word skaamteloos deur Charismatiese kerke uitgebuit. Die Amerikaanse TV wemel van netwerke wat net op “geloofsgenesing” ingestel is en waarmee die aanbieders jaarliks miljoene dollar verdien. Hul “geloofsgenesings” vind, vreemd genoeg, altyd net in beperkte ruimtes plaas. Waarom kom die aanspraakmakers nie uit hul tente en TV ateljees en gaan bv. na hospitale nie? Omdat die gawe nie meer bestaan nie!
Niemand kom tot bekering deur wonders te aanskou nie, maar deur die bekering tot Jesus (Rom.10:17). Satan boots egter God se wonders na en sy agente verrig soms opsienbarende wonders soos die Farao se towenaars in die tyd van Moses.
Die charismatiese beweging wemel van towenaars en nabootsers. Dit wat in hul genesingsdienste gebeur, strook geensins met die Skif nie. Mense val om, korter bene word langer en invalides staan uit rolstoele op. Is dit geloofsgenesing? Nee, dis eerder die krag van verbeelding.
As iemand nie genesing ontvang nie, sê Charismate baie gou dat die persoon se geloof nie sterk genoeg is nie of dat daar sonde in sy lewe is wat nog nie bely is nie. Die probleem lê nooit by die geloofsgeneser self nie. En dis juis waar die probleem lê! Toneelspelers mislei liggelowiges deur voor te gee om ʼn gawe te hê wat hulle nie het nie. Jare gelede het ʼn pastoor Wolmarans aangebied om ʼn genesing oor die TV te doen. Hy kon nie!
Genees God siekes? Ja, maar slegs as ʼn antwoord op gebed. “... Die vurige gebed van ʼn regverdige het groot krag” (Jak.5:16). Met hul aanspraak op geloofsgenesing laat Charismate die kalklig op die mens en nie op God val nie. Gebedsverhoring daarenteen laat die lig uitsluitlik op God val. Gelowiges moet altyd soos Jesus bid: “ Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied! (Luk 22:42). As dit ontbreek, word gebede nie verhoor nie.
Charismate glo strydig met die Skrif dat pyn en lyding uit die bose is en dat God alle gelowiges gesond wil hê. Dis onwaar! Gelowiges is steeds aan die gevolge van sonde onderworpe. Sondaars neem nie hul toevlug tot Jesus om genesing vir hul siekte te kry nie maar om redding vir siele te verkry!
Waarom word gelowiges ook siek? Benewens dat hulle soos almal in ʼn gebroke bestel leef, het God ook ʼn doel daarmee: “... Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek die Here nie? “ (Ex.4:11). Daar is wel siektes wat deur die teistering van Satan geskied. Luk.13 vertel van ʼn vrou wat 18 jaar lank deur ʼn bose gees verlam was en toe deur Jesus genees is. God is daardeur verheerlik. Dieselfde met Job. Sommige siektes is wel die direkte gevolg van ergerlike sonde. Gehasi het weens hebsug melaats geraak.
Wanneer gelowiges siek word, moet hulle biddend seker maak dat daar nie iets met hul geestelike lewe skort nie. In Ps.139:24 bid Dawid tot God om hom te help kyk of daar nie ʼn weg van smart by hom is nie – sonde wat nie bely is nie.
Dit gebeur soms dat gelowiges deur God getug en siek word sodat hulle van hul sondes ontslae kan raak. Dis nie altyd die geval nie. Wanneer Charismate sê dat siekte die gevolg van persoonlike sonde is, maak hulle dieselfde fout as Job se vriende wat geglo het dat Job se ellende aan sonde te wyte was.
Daar is geen Bybelse grond om te glo dat God elke gelowige gesond wil maak nie. Elke kind van God mag egter na sy hemelse Vader vir genesing opsien.
Eerstens omdat Hy ʼn Geneser is: “... want Ek is die Here wat jou gesond maak” (Ex.15:26).
Tweedens omdat Hy beloftes hou: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh.5:14).
Derdens omdat God in Christus meegevoel met siekes het: “Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra” (Mt.8:17).
Die Bybel leer siekes om na ʼn dokter te gaan. Jes.38 vertel van koning Hiskia wat ernstig siek geword en tot God gebid het. “... Laat hulle ʼn vyekoek neem en dit op die sweer sit, dat hy gesond kan word” (:21). Waarom was dit nodig as God hom daar en dan kon genees? God lê hier ʼn belangrike beginsel neer. Siekes moet vir genesing bid, maar mag ook van medici gebruik maak. Charismate hou egter aan ʼn gawe vas wat al eeue lank glad nie meer bestaan nie.
Onthou Jesus se woorde: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid bewerk” (Mt.7:22,23).
Bid om genesing, maar aanvaar God se wil as dit nie gebeur nie. “Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken,...”(1 Kor.13:12).