Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
“... gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die naam van my God vergryp nie.” - Spreuke 30:8, 9
HUWELIKSVREUGDE (1)
Ds A.E. van den Berg
Inleiding
God eis van ons as gelowiges om aan Satan geen vatplek te gee nie, allermins nie in ons huwelik nie. Ongelukkig luister baie mense nie na God se raad nie en as dinge in hul huwelik skeefloop, raak hulle so maklik sinies daaroor.
Ek verluister my soms aan al die dinge wat mense oor die huwelik kwytraak. Die kruks van die saak is dat dit van groot hartseer in hul lewens getuig. En die ergste is dat hulle dit oor hulself bring. Huweliksmart is gewoonlik selfopgelegde smart. Desondanks kla mense steen en been oor die swaar lewenskruise wat hulle moet dra asof God hulle straf terwyl hierdie kruise niks anders as die maaksel van hul eie hande is nie.
Nie alle mislukte huwelike eindig in die skeihof nie. Baie mense leef maar daarmee saam totdat die dood hulle van hul hel op aarde verlos. Baie mense wat finansieel sterk staan, ervaar brandarm huwelike. Vir my is daar geen groter rykdom as goeie gesondheid en‘n voortreflike huweliksmaat nie!
1. Pittighede
Pittighede oor die huwelik is legio. Iemand het by geleentheid gesê dat die probleem met ‘n huwelikslisensie is dat dit nie soos ander lisensies jaarliks verval nie.
Die Arabiere sê weer dat ‘n huwelik soos ‘n beleërde stad is – diegene wat buite is, wil inkom en diegene wat binne is, wil uitkom!
Iemand het ook gesê dat gelukkige huwelike soos spoke is – almal praat daarvan maar niemand sien dit ooit nie.
‘n Verbitterde man het weer gesê: “Heeltemal te veel mans raak oor iets opgewonde wat nie die moeite werd is om oor opgewonde te raak nie en dan trou hulle ook nog daarmee!”
‘n Vrou het weer gesê: “Vrouens onthou altyd waar en wanneer hulle getroud is, maar nie altyd waarom nie!”
Helen Rowland kom nogal verrassend vir mans op as sy sê: “Om met ‘n man gelukkig te wees, moet jy hom baie verstaan en bietjie liefhê. Maar om met ‘n vrou gelukkig te wees, moet jy haar baie liefhê en glad nie probeer verstaan nie!”
Mense lag oor sulke pittighede, maar eintlik is dit tragies omdat dit van lewensteleurstellings getuig. Huweliksverbrokkeling neem geweldig toe, veral onder vooraanstaandes. Let op hoeveel mense wat naam maak, het swak huweliksverhoudings terwyl die wêreld se beste huweliksgenote maar selde naam maak. Ek sal eerder geen openbare aansien nie, maar ‘n gelukkige huwelik wil hê as andersom!
Huwelikspastoraat neem baie van leraars se tyd in beslag. Dit laat my dink aan die predikant wat baie later as gewoonlik by die huis opdaag: “Waar was jy? Jy is al twee ure laat!” vra sy bekommerde vrou.“Ek het mevrou Nel raakgeloop en haar gevra hoe dit met haar dogter se huwelik gaan… en toe vertel sy my!” sug die arme man. Ja, baie mense se huwelik is niks anders as ‘n eentonige hoofstuk van ongeluk op ongeluk nie!
2. Verkeerde redes
Een van die grootste redes vir mislukte huwelike is verkeerde keuses. Mense trou dikwels om verkeerde redes. Uiterlike skoonheid is een daarvan. Om ‘n vrou vir haar skoonheid te trou, is soos om ‘n huis te koop net omdat dit mooi geverf is. Verflae het al baie skete verberg!
Jare gelede sing Trini Lopez van die suurlemoenboom wat so mooi lyk en sê dan: ”But the fruit of the poor lemon is impossible to eat”. Wees bedag op uiterlike bekoring. Die liefde is blind, sê Shakespeare; dit sien so maklik dwaallig vir sterre aan. Nee wat, ʼn gewone, natuurlike gesig wat met innerlike, geestelike lig skyn, bly maar die mooiste!
Wees versigtig met jou keuse. Die Grieke sê goeie vroue is soos waatlemoene; moeilik om die regte een uit te soek. ‘n Oud-generaal het gesê: “Bid eenmaal voordat jy oorlog toe gaan; bid tweemaal voordat jy op see gaan en bid drie maal voordat jy trou”. ‘n Siniese akteur het onlangs gesê: “Alle tragedies eindig by die dood en alle komedies begin by ‘n huwelik”.
3. Ware liefde
As ‘n mens na al die ongelukkige huwelike kyk, wil ‘n mens vra of huweliks-geluk nog enigsins moontlik is? Ja, dit is en begin met ware liefde. Ware liefde is die waarborg vir huweliksgeluk. Maar hoe lyk dit? Laat ek begin deur te sê dat dit nie iets is wat ‘n mens op ‘n goeie dag soos ‘n blits uit ‘n onweerswolk klits nie.
Ware liefde is soos ‘n geboorte. Dit begin by bevrugting wanneer twee paar oë mekaar ontmoet, hande wat aan mekaar raak, woorde wat uitborrel en die begeerte om saam te wees. Dis ʼn nuwe soort bewondering en verwondering. Ware liefde lei gewoonlik tot ʼn huwelik. Dis soos die bekende Engelse liedjie sê: “Love and marriage, love and marriage, go together like horse and carriage”. En dis so waar!
Liefde is soos ʼn dief wat skielik by ʼn agterdeur inkom wat jy niksvermoedend oopgelaat het. Daarna word dit die hekwag wat vir jou die poort na lewensgeluk oopsluit. Die oumense het mos gesê dat ware liefde soos rumatiek is – mense glo nie daaraan nie totdat hulle die eerste aanval kry!
Ware liefde word gevoed deur die vreugde om mekaar te sien en die drang om bymekaar te wees. Dit eindig in ʼn onvermoë om van mekaar geskei te wees. Iemand het eenkeer gesê: “Geen klankinstrument kan ʼn geluid voortbring wat so duidelik tot in die verste hoeke van die hemel gehoor kan word soos die klop van ʼn verliefde hart nie”.
Ware liefde stel verliefdes volkome daarop in om mekaar gelukkig te maak. Dis om nou al reeds op aarde ʼn stukkie van die hemel te beleef. Dis in werklikheid nie die lippe nie, maar die oë wat die eerste kus gee. Daarna word liefde nie gemeet aan die aantal kere dat verliefdes aan mekaar raak nie, maar aan die kere wat hulle harte mekaar bereik.
Ware liefde hunker na drie dinge: Na mekaar se wese (sielkundige aspek), na mekaar se teenwoordigheid (kameraadskap) asook na mekaar se liggaam (seksualiteit). Laasgenoemde bereik sy hoogtepunt in die huwelik.
So anders as ʼn wellustige saamwonery, bied die huwelik wonderlike sekerheid. Dis die kalm hawe van geluk waarbinne egpare hul lewensbootjie teen die wind en rowwe lewenssee kan vasmeer. Huweliksvreugde is die kaggel wat ons in die winter van ons lewens warm en ons verstande helder hou. Ja, huweliksvreugde is ʼn gawe van God. Daarom lees ons in Spr.18:22: “Wie ʼn vrou gevind het, het iets goeds gevind en ʼn welgevalle van die Here verkry”.
4. Een vlees
Die Bybel meld dat man en vrou een vlees in die huwelik word. Let op hoe God die vrou geskape het. Nie uit die hoof van die man sodat sy oor hom moet heers nie. Nog minder uit sy voete om sy slaaf te wees. God het haar uit sy ribbetjie gemaak sodat sy naby aan sy hart kan wees. En as sy nie daar is nie, is sy op die verkeerde plek!
Die huwelik is soos ʼn paar skoene – twee wat pas. Dis ook soos slot en sleutel. Egpare is die sleutels wat op mekaar se slotte pas en alvorens dit nie gebeur nie, sal hulle nooit sielsgenote wees nie. Die huwelik is die begin van ʼn baie opwindende pad wat soos ʼn spinwiel die drade van die liefde in ʼn ingewikkelde dog interessante patroon verweef. Daarna word die geweefde drade tot ʼn tapisserie van gedeelde lewens uitgewerk.
Die huwelik is ʼn deelgenootskap. Wat ʼn voorreg het ons nie om ons diepste verlangens met mekaar te kan deel nie! Die feit dat ons lewens met mekaar deel en van mekaar afhanklik is, moet ons nooit bedreig laat voel nie. Ons huwelik moet soos ʼn eenvoudige som wees. Voeg alles moontlik by jou huweliksmaat se geluk. Trek alles af wat hom ongelukkig kan maak. Vermenigvuldig sy genot en deel alles met hom. Die antwoord sal ons nooit teleurstel nie!
5. Niemand is volmaak nie
Ons weet dat huwelike nie vir altyd op die wolke sweef nie en aarde toe kom. Dis dan dat dit so emosioneel belaai raak, dat ons nie altyd logies dink en reg optree nie. Moenie dat dit jou afskrik nie. Geen mens is die bloudruk van volmaaktheid nie.
Ons kan bv.die beste voornemens hê om ons huweliksmaat gelukkig te maak, maar as ons daarop aandring dat hy/sy dieselfde emosionele behoeftes as ons moet hê, word engeltjies met klapvlerkies duiweltjies met krulstertjies! Dit laat my dink aan die man wat gesê het dat hy vir die perfekte vrou wag alvorens hy trou. Hy wag nog steeds!
Onthou dat die huwelik ʼn verbintenis tussen twee onvolmaakte mense is. Maak dus vrede met jou beperkings en moenie bang wees om teenoor jou huweliksmaat te erken dat jy verkeerd was nie. Beskou mislukkings eerder as gulde geleenthede om van voor af te begin; hierdie keer net baie wyser!
Daar is min dinge wat ʼn huwelik so skaad soos egpare wat mekaar gedurig probeer verander. ʼn Nartjieboom kan nie ʼn koejawelboom word nie. Moenie mekaar probeer verander nie. As daar te verander is, sal God dit doen. Dis sy taak; nie ons s’n nie!
Al wat God van ons vra, is om mekaar lief te hê en as onvolmaakte mense te aanvaar. Trouens, wanneer egpare mekaar so aanvaar, motiveer dit hulle juis om ten goede te verander. Dis heerlik om te weet dat iemand jou ten spyte van al jou tekortkominge steeds liefhet!
Die wyse Benjamin Franklin het gesê: “Hou jou oë wyd oop voor die huwelik en halfpad toe daarna!” As mense hul oë maar net gereeld halfpad wil toemaak, sal dit beter met huwelike gaan. Gooi die vergrootglase van foutvindery weg. Dit bou geen huwelik nie!
6. Verskille
Huweliksmaats moenie vergeet dat al word hulle in die huwelik fisies, psigies en geestelik een, hulle altyd van mekaar sal verskil nie. Geeneen leef in volle ooreenstemming met mekaar nie. God het ons so gemaak. Ja, aanvanklik raak ons op ‘n persoonlikheid verlief, maar moet daarna leer om met ʼn andersoortige karakter saam te leef.
God verwag nie van lewensmaats om eenders nie, maar om saam te dink. In die huwelik verskil ons van mekaar. Die vraag is: Hoe hanteer ons sulke verskille? Op ʼn volwasse of kinderagtige wyse? Huweliksmaats moet mekaar se beperkings aanvaar, anders begin hulle aan mekaar eise te stel waaraan nie voldoen kan word nie. En dit lei tot spanning.
Iemand het eenkeer spottend gesê: ʼn Vrou sal enigiets vir die man wat sy liefhet doen, behalwe om haar pogings om hom te hervorm prys te gee! Nee, die gelowige vrou sal nooit van haar man verwag om soos iemand anders te wees nie.
Dis belangrik om eers te dink alvorens jy praat. In die huwelik moet ons die Here bid om altyd ʼn wag voor ons mond te plaas. Daar word mos gesê dat die ontoombaarste dier sy lêplek reg agter die tande het! Baie twis kon vermy gewees het indien egpare eers gedink en glad nie gepraat het nie! Ons maak dieselfde fout as visse. As visse hulle bekke toehou, sal geeneen van hulle gevang word nie! Ja, die tong is die enigste instrument wat met gebruik al hoe skerper word. Tonge het al menige huwelik keelaf gesny!
7. Geen groter geluk nie
Ware geluk is om vir ander tot nut te wees. Daarvoor gee God aan ons gawes sodat sy beste geskenke aan ons nie dinge is nie, maar geleenthede. Ons is nie almal in die wieg gelê om ryk, sterk of magtig te wees nie, maar wel om gelukkig te kan wees. Ons is soos ʼn rugbyspeler met ʼn bal in sy hande. Ons kan daarmee punte aanteken of punte afstaan. Dis ons keuse.
ʼn Fout wat baie mense maak, is om te meen dat geluk buite hulle lê en slegs deur harde werk of toeval nader gehark kan word. Die gevolg is dat hulle sukses met die vermoë om geld te kan maak verwar. Nee, geluk lê nie iewers buite nie, maar binne-in ons.
Huweliksvreugde is soos ʼn skip vol skatte wat enige huwelikspaar te water kan laat. Dis ook ʼn Bybelse opdrag. Wie dit minag, is onverskillig. Deur die huwelik beskik die hemelse Vader vir sy kinders die hoogste aardse geluk denkbaar. Gevolglik is ʼn liefdelose huwelik niks anders as ʼn vroeë dood nie!
Die huwelik is nie ʼn voorafvervaardigde huis wat op ʼn gegewe dag soos ’n geskenk van bo op ʼn huwelikspaar neerdaal nie. Dis eerder ʼn fondasie waarop daar lewenslank baksteen vir baksteen met die sement van die liefde gebou word.
Die huwelik maak minder en meer – dit halveer ons probleme en verdubbel ons vreugde. Die man wat sy vreugde met sy vrou deel, verdubbel dit en sy wat haar hartseer met haar man deel, halveer dit. Daarom is dit onmoontlik om lief te hê en ongelukkig te wees.
ʼn Man se eerste verantwoordelikheid teenoor sy vrou is om haar lief te hê; so ook sy laaste. Dieselfde geld ook vir die vrou. Iemand het eenkeer gesê: ʼn Gelukkige man is getroud met die vrou wat hy liefhet, maar die heel gelukkigste man is hy wat die vrou waarmee hy getrou het altyd liefhet.
ʼn Suksesvolle huwelik is die hysbak wat jou tot by die hoogste verdieping van menslike geluk voer. Shakespeare het gesê: “ʼn Gelukkige hart reis ver, maar ‘n treurige een raak gou moeg.” ʼn Ander Engelsman het weer gesê: Daar is slegs een geluk in die lewe nl. om lief te hê en liefgehê te word. Ja, ʼn vrolike hart skep ʼn vrolike lewe!
Die huwelik verander dinge. Pligte word voorregte en verantwoordelikhede vreugdes. Dis ook baie belangrik om jou huweliksmaat gereeld van jou liefde te verseker. Niemand wil slegs in die stilligheid bemin word nie, maar dit ook hoor. Niks maak ʼn mens sterker as die wete dat jy bemin word nie. Moenie dat die persoon vir wie jy die liefste is dit die minste hoor nie.
Moet nooit jou huwelik as vanselfsprekend aanvaar nie. Miskien verwaarloos ons die huwelik omdat dit nie geld kos nie? Kyk maar net hoe mooi versorg mense hul motors omdat dit baie geld kos. Is die huwelik nie kosbaarder nie?
Vervolg...