Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Deur allerhande luiheid versak die balkwerk, en deur slapheid van die hande lek die huis – so waarsku Prediker 10: 18. Daarom lek ons land se balkwerk nou...
KOOP DIE TYD UIT
Ds A.E. van den Berg
“Wandel in wysheid teenoor die wat buite is en koop die tyd uit” (Kol.4:5)
Alexander die Grote is jonk oorlede. Toe hy sterwend was, het hy sy generaals ontbied om sy laaste wense aan te hoor en na sy dood uit te voer. Hulle moes eerstens toesien dat die beste dokters sy kis graf toe dra. Tweedens moes hulle al die skatte wat hy tydens sy lewe bymekaar gemaak het voor die stoet op pad na die begraafplaas op die grond uitgooi. Derdens moes sy hande by die kis uithang vir almal om te sien.
Die rede vir sy ietwat vreemde versoeke was as volg. Eerstens moes die beste dokters sy kis dra sodat almal kon sien dat nie eens een van hulle sy lewe kon red nie. Tweedens moes sy skatte voor die stoet op die grond gegooi word vir almal om te sien dat die dinge wat op aarde verkry is tydens dood op die aarde agterbly. Jy vat niks saam nie. Derdens moes sy hande los uit die kis hang vir almal om te sien dat mens met leë hande aarde toe kom en dit net so verlaat as tyd verby is.
Die les wat ons daaruit leer, is dat alleen ‘tyd ‘ ons waardevolste besitting is omdat dit beperk is. Jy kan altyd meer geld in die hande kry, maar nie meer tyd nie. Banke leen geld uit, maar geen instansie leen tyd nie. As jy dus vir iemand van jou tyd gee, gee jy hom in werklikheid iets van jou lewe.
Tyd is kosbaar en moenie verkwis word nie want dis waarvan die lewe gemaak is. Hoe jy tyd deurbring, wys hoe jy leef. Die Bybel sê dat ’n gelowige wat die waarde van tyd besef, soos iemand is wat uit ’n slaap wakker geword het: “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word…” (Rom.13:11).
Paulus skryf aan die gelowiges in Kolosse dat hulle anders as die heidene met hul tyd moet omgaan. Wie God met sy lewe wil verheerlik, moet Hom met sy tyd verheerlik: “...sodat julle waardiglik voor die HERE mag wandel en Hom in alles behaag…” (Kol.1:10).
Gelowiges se lewens moenie Sondae anders as die res van die week wees nie. Gelowiges se week het sewe Sondae – elke dag is die Here s’n! Hulle voorbeeld moet elke dag van God se inwonende Gees getuig: “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is… Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord” (Kol.4:5,6). Paulus skryf aan die Korintiërs: “Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense” (2 Kor.3:2).
In die dae van Paulus het die mense in Kolosse wysheid net as intellektuele bedrewenheid beskou. Bybelse wysheid verskil daarvan. Dis prakties en nie teoreties nie. Dis nie kopkennis nie, maar geestelike kennis en die getuienis van ’n Geesvervulde lewe.
Paulus koppel hierdie wysheid aan sinvolle benutting van tyd en herhaal dieselfde gedagte van die teksvers aan die Tessalonisense: “...sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is…” (1 Thess. 4:12). Geloof en sinvolle tydsbenutting gaan hand aan hand.
In Griekeland is daar ’n baie ou standbeeld van ’n man met vlerke aan sy voete, een haarlok op die voorkop maar geen hare op sy agterkop nie. Die bewoording onderaan lui: “My naam is GELEENTHEID. Die vlerke aan my voete is om vinnig weg te kom; die haarlok voorop my kop is vir mense om my vas te gryp as ek van voor af kom en my kaal agterkop sodat niemand my kan vasgryp as ek eers verby is nie”.
Die les wat daaruit geleer kan word, is dat geleenthede kom, maar nie vir lank bly nie. Groot geleenthede klop baie selde twee maal aan die selfde deur. Ongelukkig gaan so baie geleenthede by mense verby omdat dit na harde werk lyk. Moenie een daarvan ooit by jou laat verbygaan nie. Daarvoor is die lewe net te kort!
Luister na die volgende interessante berekening: As ’n mens 65 jaar oud is, het jy 600,000 ure tot jou beskikking gehad. Gestel jy was 18 toe jy skool verlaat het. Jy het toe 412,000 ure oorgehad om iets van jou lewe te maak. Indien jy agt ure per nag geslaap en agt ure per dag gewerk het, het jy net 137,333 ure van jou lewe oorgehad om iets vir die koninkryk van God te beteken.
Ja, hoe kort is tyd nie! Moses skryf: “Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons dae deur soos ’n gedagte. Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!” (Ps.90:9,12).
Die lewe is nie soos ’n permanente woning nie, maar eerder ’n gastehuis; tydelike verblyf. “Ek is ’n vreemdeling op die aarde, verberg u gebooie nie vir my nie” (Ps.119:19). Selfs ’n heiden soos Alexander het dit besef. Die mens het net ʼn sekere aantal hartslae. Ons durf nie een daarvan vermors nie!
Omdat tyd kosbaar is en deur God gegee is, wil Hy hê dat ons dit moet gebruik om Hom en ons medemens te dien en so sy koninkryk uit te brei. Daarom het Jesus ons leer bid: “Laat U koninkryk kom”. Daarvoor het ons tyd en die geleenthede nodig. God gee beide soos die huisbaas van die Gelykenis van die Talente. Hy deel uit, maar eis ook verantwoording van wat daarmee gedoen word.
Wat doen jy met jou tyd vir God? D.L Moody het gesê dat Bybels eintlik in skoenleer gebind behoort te word om dit wat jy lees jou in beweging te bring! Jy durf nie net Bybellees en verder niks vir die saak van die Here doen nie.
Dit bring gelowiges by ʼn groot verpligting – moenie onverskillig teenoor verlore siele staan nie. Dis liefdeloos! ’n Ou bekende Halleluja-lied begin met die woorde “ Bring hul in, die diep verlorenes” . Dis ons plig! Die buitestaanders waarvan Paulus in ons Skrifgedeelte skryf, beteken letterlik mense wat buite ’n deur staan waarby hulle graag wil ingaan. Hulle is soos die vyf dwase maagde wat voor ’n toe deur te staan gekom het.
Gelowiges kan sulke buitestaanders net inbring as hulle tyd daarvoor maak. Paulus skryf: “Koop die tyd uit”. Die Griekse woord wat hier gebruik word, beteken om die beste van ’n geleentheid te maak soos iemand wat in die ou antieke tyd op ’n mark kom, ’n goeie produk sien en die voorraad opkoop. Tyd is nie onbeperk soos geld nie; koop elke geleentheid daarmee uit!
Wie oor die kortstondigheid van die lewe kla, is dikwels mense wat tyd verkwis en dit soos ’n gemakstoel gebruik. Nee, tyd is nie ’n gemakstoel nie, maar eerder gereedskap wat God ons gee om ons lewens sinvol in te rig. Dit moet benut en nie vermors word nie.
Moenie oor die kortstondigheid van die lewe ontstel wees nie. Wees eerder daarop bedag dat ons uurglas vinnig uitloop terwyl ons nog so baie vir die Here kan doen. Mag ons eendag op ons doodsbed vir ons geliefdes sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Tim.4:7).