Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Elkeen van ons wil graag 'n groot en edel taak hier op aarde aanpak, maar dit is ons belangrikste plig om klein takies te voltooi asof hulle groot en edel is.
WAARHEID EN LEUEN
Ds A.E. van den Berg
“.... as die woord van die profeet uitkom, sal die profeet bekend word wat die Here waarlik gestuur het” (Jer.28:9).
Jare gelede was die kerk en die plaaslike teater op ʼn Amerikaanse plattelandse dorpie reg oor mekaar. Toe die tyd vir die Pinksterbidure aanbreek, het die leraar ʼn reeks opwekkingspreke voorberei om sy gemeente meer betrokke by die kerk te kry. Dienste is oral geadverteer – plakkate, strooibiljette ens. Die eerste aand was daar baie mense in die kerk, die volgende aand minder en toe nog minder totdat net drie die laaste aand opgedaag het. Wat was fout?
Daardie selfde week het ʼn vermaaklikheidskunstenaar ʼn paar opvoerings in die teater gehad en net een plakkaat opgesit. Daar was elke aand meer mense as die vorige aand en die teater was met die laaste vertoning stampvol. Toe die dominee die kunstenaar daarna raakloop, vra hy hom hoe hy dit met slegs een plakkaat reggekry het? Hy sê: “Jy verkondig net fiksie en kyk hoe stroom die mense na jou! Ek verkondig die waarheid en kyk na die swak opkomste!” . Die akteur se antwoord het hom uitgeboul: “Ek verkondig fiksie asof dit die waarheid is, maar jy verkondig die waarheid asof dit fiksie is”.
Dis baie mense se probleem met predikers – is dit wat hulle preek werklik God se Woord soos wat Jeremia gepreek het of is dit eerder ʼn Hananja-boodskap? Wie praat die waarheid en wie lieg? Wat is waar en wat is fiksie?
Jeremia 28 skets ʼn spanningsveld tussen twee predikers – Jeremia en Hananja. Jeremia het ernstige probleme met die sg. heilsprofete van sy tyd gehad. God sê: “Julle moet dan nie luister na julle profete en na julle waarsêers en na julle dromers en na julle goëlaars en na julle towenaars nie, wat met julle spreek en se: Julle sal die koning van Babel nie dien nie. Want hulle profeteer leuens vir julle .... want Ek het hulle nie gestuur nie” (Jer.27:9,10,15).
In die gelese gedeelte ontmoet Jeremia een van die mooiweersprofete teen wie God die volk gewaarsku het. Al sy voorganger-profete het gewaarsku dat Juda weens afvalligheid in ballingskap sou gaan. Die heilsprofete het gesê dis onsin. Juda was dan deel van God se Bondsvolk. Hy sou hulle teen vyandelike magte beskerm. Hierdie uiteenlopende preke het mense verwar. Jeremia profeteer God se straf en Hananja se groep God se beskerming! Wie moes geglo word?
In plaas daarvan dat mense na Jeremia geluister en hul bekeer het, het Hananja se preke mense valse hoop gegee. Juda moes net vir twee jaar vasbyt waarna God die juk van Babel van hulle nek sou verwyder. En hoe is dit nie geniet nie! Dis die boodskap wat hulle wou hoor! Maar, wie was reg? Iewers het iemand gelieg. Die skadelikste van alle leuens is preke waarvan die handvatsel eg, maar die lem vals is. Dit kom van die kansel maar nie van God af nie!
Terwyl die skare in vervoering oor die Hananja-spul se preke was, het Jeremia nader gestaan. Dit het hom nie gepla dat mense nie van sy preke gehou het nie. Hy het ʼn taak gehad; God het hom geroep om Juda uit hul droomwêreld wakker te skud. Hananja het sy eie wense op God oorprojekteer en as ʼn Gods-woord verkondig – dit wat die volk wou hoor, maar nie wat God gesê het nie.
Jeremia wou nie sy volk ten gronde sien gaan met ʼn houding van: “Ek het julle mos gesê! “ nie. In vers 6 wens hy selfs dat hy ter wille van sy volk verkeerd en Hananja reg kon wees. Die geskiedenis sou bewys wie reg was. ʼn Leuen word nooit ʼn waarheid omdat baie mense dit glo nie. Nog minder word die waarheid ʼn leuen omdat baie mense dit verwerp.
Om sy woorde te bekragtig het Hananja die houtjuk wat Jeremia as teken van sy volk se swaarkry gedra het voor die oë van die aanwesiges gebreek. Dit was so indrukwekkend dat Jeremia niks verder kon sê nie en soos die Amerikaanse dominee maar padgegee het. God het hom egter laat omdraai om nog straf aan te kondig – in plaas van houtjukke sal Hananja en die volk ysterjukke dra. Dit was die teken dat God se oordeel nie verdwyn het soos Hananja voorspel het nie, maar eerder skerp sou toeneem. Om God se oordeel te bevestig sou Hananja voor die einde van daardie jaar sterf.
Ek glo dat jy ʼn speld in die tempelhof kon hoor val. Wie moes hulle glo? Hananja of Jeremia, want elkeen sê: So spreek die Here! Wat is waarheid en wat is leuen? Dat Hananja daardie jaar oorlede en die ballingskap plaasgevind het, was bewys dat hy die valse profeet was.
Wat het die ontnugterde mense wat aan Hananja se preek van hoop vasgeklou het toe gedink? Hulle het mos nie vermoed dat hy vals was nie. Dit lei tot die vraag: Hoe weet ʼn mens of ʼn prediker die waarheid praat? Die antwoord is eenvoudig – meet dit wat hy sê aan Bybels se Waarheid.
By geleentheid vra die kerkleiers vir Jesus:”... Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U die gesag gegee om dit te doen?” (Mark.11:28). Mense het nie geweet wie om te glo nie; Jesus of die Fariseërs? Soos ʼn Jeremia van ouds het Jesus ook dinge gesê wat met die opvattings van die kerkleiers van sy tyd gebots het.
Hoe moes mense weet watter profesie eg en watter een vals is? Die antwoord is eenvoudig – dit wat ʼn profeet profeteer, moes bewaarheid word. “... as die woord van die profeet uitkom, sal die profeet bekend word wat die Here waarlik gestuur het” . Jesus het sy eie dood en opstanding aangekondig en dit het gebeur. Dit wat Jesus verkondig het, is die waarheid. Al sy beloftes wat nog nie vervul is nie sal nog almal bewaarheid word.
Elke prediker moet soos Paulus op Jesus se beloftes voortbou. “...want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor.2:2). Wie dit doen se prediking klink nooit na fiksie nie. Lidmate sal nie na lekker kerke wegloop om hulle in leuens vas te loop nie.
Wees dus versigtig wat jy hoor. Mense is geneig om net te hoor wat hulle wil. Ons moet na die volle waarheid van die Skrif luister. Die vraag moenie wees of ’n leerstelling mooi klink nie, maar of dit eg Bybels is? Mense verwar so maklik die vurige betoog van ekstroverte op kansels met die krag van die Gees.
Juda het hul blind en doof vir die waarheid gehou, iets wat vandag nog gebeur. Mense hou hul doof vir die verlossingsboodskap dat jy alleenlik die ewige heerlikheid deur die bekering tot Jesus sal beërwe. Ongelukkig gaan daar al hoe meer stemme vir godsdienstige verdraagsaamheid op; kerklui wat verkondig dat die pad na die ewige heerlikheid nie net oor Jesus loop nie, maar daar ook ander paaie is. En dis ʼn leuen! “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
In Mt.24 waarsku Jesus dat daar groot misleiding net voor sy wederkoms sal wees. Valse kerke sal groter en skadeliker word. Ware kerke sal kleiner maar suiwerder word. Mense sal dit wat die ware kerk verkondig as bog afmaak omdat hulle nie vir hulself dink nie en gemakliker met die leuen sal wees.
Niks prikkel die vel van leuenaars soos harde waarhede nie. Gelukkig is ʼn waarheid wat seermaak dikwels een wat genees. Maak iemand eerder met die waarheid seer as om hom met ʼn leuen valslik gelukkig te hou.
Wie hom in Jesus verbly, is om jou in die waarheid te verbly. Hou aan die waarheid soos ʼn drenkeling aan ʼn plank vas. Laat ons liefde vir die waarheid met onsigbare klinknaels aan ons siele vassit en die prys vir die stryd om die waarheid nooit vir enigeen van ons te hoog word nie.