Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
“Here, ek bid nie vir ‘n algehele kalmte van gees of dat my swaarkry dadelik einde sal kry nie. In hierdie wêreld sal daar altyd pyn en probleme wees. Ek bid slegs dat u Gees, u liefde en u genade my met soveel uithouvermoë sal vul, dat ek enigiets wat oor my pad mag kom, sal kan geniet of verdra”.
TERUG NA JESUS
Ds A. E. Van den Berg
“..... en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het... En hy het in trane uitgebars” (Mark.14:72).
Daar was eenmaal ʼn wilde eend wat elke jaar in die lente saam met ander eende noordwaarts oor Europa gevlieg en in die herfs teruggekeer het. Een jaar het die spesifieke eend uitgeput vir ʼn wyle op ʼn Deense plaas tussen mak eende gaan sit. Hy was honger en het besluit om vir ʼn dag te vertoef voordat hy verder sou vlieg. Die dag het ʼn week en die week het ʼn maand geword. En so het hy die hele somer daar vertoef.
Toe dit herfs word en die swerms wilde eende weer suidwaarts oor die plaas vlieg, het hy opgewonde sy vlerke geklap om aan te sluit. Hy was te swaar en kon niks hoër as die skuur vlieg nie en toe maar besluit om te bly; veilig en kos volop. Maar elke lente en herfs as die swerms oor die plaas gevlieg het, was sy hart by hulle. Dan het sy oë geglinster en het hy met sy vlerke geklap asof hy nog kon aansluit. Hierdie verlange het stelselmatig afgeneem totdat hy, tevrede met sy gemaksone, geen aandag meer aan hulle gegee het nie.
Hierdie verhaal skets die verhaal van iemand wat sy hoë geestelike ideale en waardes verlaat en met minderwaardige dinge in die lewe tevrede geraak het. Wat van jou? Was daar miskien ʼn tyd wat jy op hoër geestelike grond beweeg het? Ons beweeg soos die Verlore Seun weg van die Vader en dink dat ons nie te sleg doen nie. Maar diep in ons hart is ons ontevrede want ons ploeter laag in die lewe terwyl God ons geskep het om hoog te vlieg!
In Mark.14 lees ons van ʼn man wat ʼn landingsplek in ʼn gemaksone gevind het; Simon Petrus. Hy was op die verkeerde plek, tussen die verkeerde mense en die verkeerde dinge gedoen; die drie vernietigende V’s in die lewe: Verkeerde plek, verkeerde mense, verkeerde dinge.
Maar hoe het hy hier beland? Deur geestelike verval. En dit was nie in ʼn oomblik van swakheid nie. Verval is ʼn geleidelike proses – eers die een gebied, dan ʼn volgende en so hou dit aan tot jy hoogstens net jou vlerke kan klap, maar nie geestelik kan vlieg nie!
Ps.1:1 skets hierdie agteruitgang. “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie”. Let op die werkwoorde: wandel, staan en sit. Die een volg op die ander. Die wilde eend was op die Deense plaas tussen eende wat nie geweet het hoe om te vlieg en nie daarin belang gestel het nie. Hulle was tevrede met hul gemaksone.
Kom ons volg die gebeure wat tot Petrus se val en herstel gelei het. Hy was ʼn gelowige en het Jesus as Verlosser geken. “En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Mt.16:16). In Mt. 10 staan sy naam staan eerste op die lys van Jesus se dissipels en in Joh.18 verdedig hy selfs Jesus se lewe met sy swaard. Desondanks beland hy in die verkeerde plek, tussen verkeerde mense en doen die verkeerde dinge; die drie vernietigende V’s
Ons sieleheil eindig nie die dag van ons bekering nie; dit begin daar! Ons word net eenmaal saligmakend gered wat ons in ʼn verhouding met Jesus plaas waarna die verhouding gevoed moet word. Dis net soos ʼn huwelik – jy trou waarna die huwelik gevoed moet word anders misluk dit.
Die liefde vir Jesus is opsigtelik: “En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken” (Hand.4:13). Mense kon die verhouding sien. Die teenoorgestelde is ook waar: As jy nie aan hierdie verhouding werk nie, sien mense dit ook verval. Geestelike verval is die gevolg van ʼn verhouding waaraan daar nie gewerk is nie.
Hoe het Petrus ten spyte van sy redding in so ʼn plek tussen heidene beland? Hy het in drie lewensareas gestruikel – in sy woorde, lewenswandel en optrede. By geleentheid het hy Jesus probeer teregwys en gestruikel: “Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie” (Mt.16:22). Petrus het ook Jesus se woorde nie geglo toe Hy vir sy dissipels gesê het dat almal aanstoot aan Hom sou neem: “Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie...” (Mt.26:35).
In beide gevalle het hy sy eie siening gehad. Sy opstandigheid het die bo-toon gevoer. Aan ʼn mens se praat kom jy gou agter of sy lewe met Jesus reg is of nie. Petrus het ook in sy lewenswandel gestruikel. In Getsemane was Jesus teleurgesteld om Petrus en die ander dissipels aan die slaap te vind. Hy sê: “So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?” (Mt.26:40).
Toe die poppe begin dans en Jesus gevangword, het Petrus afstand tussen hom en Jesus geskep: “En Petrus het Hom van ver af gevolg...” (Mt.26:58). Daarna het die droewige episode van die verloëning gevolg. Petrus het saam met die Romeinse soldate by ʼn vuur gaan sit en Jesus driemaal verloën.
Die selfde ding gebeur nog steeds; mense wat in die gees saam met Jesus geloop het en vir wie die Bybel kosbaar en rigtinggewend was, het dit op ʼn dag gemakliker gevind om Sondae eerder tuis te bly as om kerktoe te gaan, om TV te kyk as om Bybel te lees ens. Kortom: Hulle het anders begin beleef. Hy is vir hulle nie meer so werklik soos vantevore nie.
Voel jy miskien so? Wat het gebeur? Kyk mooi; bevind jy jou nie dalk by verkeerde vure nie? Geniet jy die geselskap van verkeerde mense? Verkwis jy jou tyd met verkeerde dinge? Weereens die vernietigende drie V’s – verkeerde plek, verkeerde mense en verkeerde dinge. Sulke dinge maak ons koud teenoor Jesus. Miskien wonder ons hoe het dit gebeur dat ons eens op ʼn tyd so vuur en vlam vir die saak van die Here was en daarna teruggegly het?
Die geestelike verval het in Petrus se lewe ʼn punt bereik waar hy vir ʼn wyle met sy ou lewe aangegaan het. Hy het sy geestelike wagpos verlaat asof dit die maklikste ding was en soos die wilde eend tevrede in sy gemaksone geraak. Ja, die mag van sonde laat mense tog so maklik dink dat hul verkeerde optrede die beste is. Medegelowiges sien dit egter raak.
Selferkenning is bitter moeilik. Alvorens dit nie gebeur nie, kan herstel nie plaasvind nie. Jy moet eerlik met jouself wees en dinge sien soos wat dit werklik is. Eers dan kan ʼn mens soos ʼn Petrus van ouds na Jesus terugkeer.
Dis egter goed dat die verhaal van Petrus nie by ʼn Romeinse vuur eindig nie. Sy terugkeer het die selfde nag nog begin “... en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het... En hy het in trane uitgebars”.
Berou is die pyn van sonde en is so pynlik soos die pik van ’n adder. Niemand maak jou seerder as jyself nie. Petrus het dit besef. Hy kon niemand anders as net homself vir sy struikeling blameer nie. Gelukkig dring berou gelowiges tot selfondersoek. Petrus het homself ondersoek en besef dat hy sake met Jesus moes regmaak en gedoen wat die Verlore Seun gedoen het om na die vaderhuis terug te keer en die verhouding te herstel.
In Joh.21 ontmoet Jesus vir Petrus op die strand, herinner hom aan sy liefde vir Hom en herstel sy roeping. Jesus het Petrus se misstap vergewe en hom weer in geestelike ere herstel. Jesus doen dit vandag nog steeds: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:9).
Net na Jesus se hemelvaart gebruik Hy vir Petrus kragtig toe hy op Pinksterdag, vervul met die Heilige Gees, in die tempel gepreek en 3000 mense tot bekering gekom het. Daarna het Petrus reuse baanbrekerswerk in die eerste Christelike gemeentes gedoen. Wat het dit moontlik gemaak? Drie dinge; hy was eerlik met homself, het na Jesus terugkeer en is met die Heilige Gees vervul. Die regte drie V’s
Jy is gemaak om geestelik hoog te vlieg. Onthou dat die altaar van God se genade 24 uur per dag oop is. Petrus het gestruikel maar die pad na Jesus teruggevind. Jy kan ook!