Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Swak volksleiers probeer altyd om eerbare burgers in die modderpoel van onreg te versmoor. Hulle word gedwing om parasiet-kulture te huisves wie se behoeftes groter is as hul vermoë om dit te bevredig. Mense word gedwing om voorregte waarvoor hulle hard gewerk het met ander te deel wat feitlik niks gedoen het. Dit laat ‘n gewoonte om iets vir niks te verwag ontstaan.
BEPROEF ALLE DINGE
Ds A.E. van den Berg
“Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thess.5:21)
Die OT leer ons dat God reguit houe met krom stokke slaan. Die NT leer ons om reguit tree op krom paaie te gee. Wie tot bekering kom, wil geestelik groei, die Bybel beter leer ken om sy geestelike vuur hoog laat brand.
Geloof is egter nie ’n voorafvervaardigde huis wat in ’n kits staangemaak word nie. Dis ’n groeiproses soos ’n baba wat geleidelik sterker word. Ongelukkig kwyn baie mense se geestelike vuur na ’n tyd omdat vreemde dinge hul belangstelling prikkel en in dwaalleer hul heil probeer vind.
Kan so ʼn iets voorkom word? Paulus gee etlike riglyne. Stel jou eerstens oop vir die werking van die Heilige Gees- “Blus die Gees nie uit nie” (:19). Daarna sê hy: “...verag die profesieë nie” Ken dus jou Bybel goed en waak teen leuens!
Sy woorde “Blus die Gees nie uit nie” beteken letterlik om ’n vuur uit te sit. Die Heilige Gees brand in alle gelowiges. Hulle kan dit egter uitblus deur God se opdragte te veronagsaam, onvergewensgesind teenoor mense en lui in God se diens te wees. Een van die grootste geestelike brandblussers is egter om aan sonde gewoond te raak.
In my eerste gemeente was die pastorie naby ’n boulevard met baie verkeer. Dit het my aanvanklik gepla, maar later het ek dit nie meer gehoor nie. Dit word in sielkunde adaptasie genoem; iets waarby jy mettertyd aanpas. Geen adaptasie is gevaarliker as sonde-adaptasie nie; dis ’n geestelike brandblusser!
Paulus sê verder: “...verag die profesieë nie”. Wat word met profesie bedoel? Nie toekomsvoorspelling soos so baie meen nie. Dit gaan hier oor die leer van die Bybel. Dinamies vertaal: “Moenie die Bybelse leer verdraai nie!” Paulus skryf aan gelowiges in Thessalonika wat erg onder dwaalleer deurgeloop het.
Gelowiges wat die geestelike vuur hoog in hul lewe wil laat brand, moet dit met die brandhout van die waarheid voed. Dis net moontlik as hulle dit wat hulle hoor, nougeset aan die Bybel toets.
Die teksvers lui: “Beproef alle dinge; behou die goeie” . Selfs op godsdienstige gebied is alles nie betroubaar is nie en moet soos die gelowiges in Berea getoets word: “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Hand.17:11).
Die eindtyd word aan ’n wêreld vol valse profete gekenmerk. “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim.4:1).
Leuens oorheers tans feitlik elke denkbare vorm van die media. Dit plaas mense op ’n dwaalweg omdat hulle dit wat hulle hoor nie aan die Bybel toets nie. Jesus waarsku: “Baie sal in daardie dag vir My sê Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mt.7:23,23).
Die Bybel vertel ons hoe om dwaalleer te herken. Luister ernstig na die stem van die Heilige Gees in jou siel: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh.16:13). “...en jou ore sal ’n woord agter jou hoor sê: Dit is die weg, wandel daarop!” (Jes.30:21).
Waak egter daarteen dat jy jou eie idees en begeertes op die Heilige Gees oorprojekteer en dan sê: “Die Here het vir my dit of dat gesê” . Laat God deur sy Woord in jou lewe spreek en nie buikspreek nie!
Wie na die stem van die Gees luister, sal altyd ongemaklik voel met iets wat nie waar is nie. “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Rom.8:14). Sodra jy ongemaklik met ’n boodskap of leerstelling voel, is dit ’n goeie teken dat jy dit aan die Bybelse leer toets.
“Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van mense… en nie volgens Christus nie” (Kol.2:8) Luister na die Heilige Gees wat jou waarsku as die waarheid in gedrang kom: “...en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Joh.16:8).
Vra jouself af of dit wat gesê word met die Bybelse leer ooreenstem? Wees versigtig vir mense wat tekste buite hul verband aanhaal om dwaalleer te staaf nie. Satan het dit ook tydens Jesus se versoeking gedoen. “Toe neem die duiwel Hom... en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen klip stamp nie. Jesus sê vir hom: Daar is ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie”(Mt.4).
Vra altyd wat leer die res van die Bybel oor ʼn betrokke onderwerp? Hier is ’n naslaan-Bybel of ʼn konkordansie ’n wonderlike hulp. Gaan ander tekste oor die betrokke onderwerp na en vra jouself af of die betrokke leerstelling dit wat die kerk deur die eeue glo verteenwoordig?
Om ware van valse leer te onderskei, is ’n basiese kennis van die Christelike geloof noodsaaklik. Wie dit nie het nie, val dikwels dwaalleer ten prooi. Ongelukkig het baie mense geen basiese kennis van Skrifwaarhede nie: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” (Hos.4:6).
Sodra ’n snaakse Bybelse aanspraak gemaak word, flikker die gevaarligte en noodsaak dit ondersoek. Weet een ding: Ware geloof verbreek nooit die eenvoudige reëls van logika nie. Neem bv. die sg. voorspoedteologie wat in talle charismatiese kerke verkondig word. Dwaalleraars verkondig: omdat God vir Abraham, Isak en Jakob ryk gemaak het, Hy jou ook ryk sal maak as jy soos hulle glo en natuurlik ook ruim vir hul kerk gee. Dis ʼn leuen! Daar is geen direkte verband tussen ons en die aartsvaders se stoflike rykdom nie!
Die goue reël is: Toets alles aan die Skrif.“Beproef alle dinge; behou die goeie”. Die Woord van God is die enigste maatstaf vir die waarheid: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim. 2:15).
Elke oortreding van die waarheid is ’n dolksteek in die siel van ons volk. Stel alles op die proef en onderskei duidelik tussen waarheid en leuen. Geen siekte is erger as dié van dwaling nie. Kyk hoe siek het duisende van ons volksgenote nie al daarvan geword nie en dit neem net toe.
Wat staan ons te doen? Paulus skryf: “Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!” (Gal.1:8). Hy waarsku ook: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie…” (6:10). Hou aan die waarheid vas!