Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die wil van God is onafwendbaar: dit wat Hy gewil het, sal gebeur. Ons kan maar net bewende buig voor God se albestier.
DIE ONSE VADER(III)
Ds A.E. van den Berg
“...laat u koninkryk kom”(Mt.6:10).
Ons het al gesien dat gelowiges mense is wat God as ʼn hemelse Vader ken en ʼn begeerte het dat sy Naam onder alle omstandighede eerbiedig word. Ons blaai nou na die derde bladsy van die geestelike ID-boekie: Gelowiges beywer hul vir die uitbreiding van God se koninkryk.
Ongelowiges staan onverskillig teenoor hierdie bede omdat hulle God nie as hul hemelse Vader heilig en gevolglik nie sy Naam heilig nie. Eie belang voer die botoon in hul lewens. Gevolglik moet daar ʼn ingrypende ommekeer in sulke mense se lewens plaasvind voordat hulle hul vir God se saak op die aarde sal beywer. En dis net deur die wedergeboorte moontlik. Die wedergeboorte maak van mense nuwe skepsels wie se lewe in die teken van gehoorsaamheid aan God en ʼn ywer vir die uitbreiding van sy koninkryk staan.
Wat is hierdie koninkryk? Dis God se mag in die hemel en op die aarde. Hy gebruik gelowiges en die ware kerk as instrumente in sy hande om dit op die aarde te vestig en te laat groei. Vandaar die bede: “...laat u koninkryk kom”. Jy bid dat God jou en ander gelowiges kragtig daarvoor sal gebruik.
God as ons hemelse Koning het wonderlike eienskappe. In die Bybel leer ons Hom as die volmaakte heerlikheid ken: “Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan...” (Ps.24:1). Hy het ook die hoogste koninklike status: “Die HERE is Koning; Hy is met hoogheid bekleed....” (Ps.93:1). Hy is baie groot: “Want die Here is ʼn grote God, ja, ʼn groot Koning bo al die gode” (Ps.95:3).
Verder leer die leer ons dat God alsiende is en niemand vir Hom kan wegkruip nie: “Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? Spreek die Here. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? Spreek die Here” (Jer.23:24). Daarbenewens heers God vir ewig oor alles en almal deur Jesus Christus:“En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee” (Efes.1:22).
God is as Drie-enige tot alles in staat. Joh.21 vertel van Jesus se dissipels se vrugtelose visvangs een nag op die See van Galilea en die net vol vis wat hulle daardie oggend op Jesus se bevel getrek het. Johannes roep daar en dan in grootse verwondering uit: “.... Dit is die Here!....” (vers 7).
Alles is vir God moontlik, selfs om heidene te red. Dis waarom daar Sending en Evangelisasiewerk gedoen word ten einde verlore mense met die Evangelie van redding te bereik sodat hulle hul bekeer en God se koninkryk op die aarde uitbrei. En dis net moontlik as mense werklik ʼn begeerte het dat verlorenes Jesus as hul Verlosser leer ken. Ongelukkig ontbreek sulke hartstog vir verloregaande siele vandag in baie gelowiges en selfs in kerke.
Gelowiges se harte verskil 100% van ongelowiges s’n. Jesus sê in Mt.6 dat ongelowiges na aardse dinge smag – kos, klere, besittings ens. Gelowiges daarenteen beywer hulle vir dinge van ewigheidswaarde. By geleentheid vra God vir Salomo wat hy as koning begeer. God sou hom alles gee wat hy wou hê. Hy vra een ding: “Here skenk aan my gehoorsaamheid aan U en wysheid hoe om oor u volk te regeer.” Dis mos hoe ʼn gelowige se hart moet klop!
In Mt.6:33 sê Jesus in sy Bergpredikasie dat gelowiges eerstens na die koninkryk van God moet soek en sodoende skatte in die hemel bymekaar maak. God sal al die ander noodsaaklikhede byvoeg. Dis ʼn goddelike belofte.
“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mt.6:19-21). Ongelukkig neem mense God nie op sy woord nie en sloof hul eerder vir stoflike dinge af.
Hoe lyk ons geestelike behoeftes? Is dit iets soos persoonlike heiligheid, ʼn opregte wandel met God, geestelike mikpunte en die opregte verlange dat mense wat sonder God en sonder hoop in duisternis leef tot bekering kom? Of lê ons eerder snags wakker en bekommer ons oor die sorge van die lewe?
Baie gelowiges is bang vir die toekoms en wat dit vir hulle en hul kinders gaan inhou. In hierdie opsig verskil hulle niks van ongelowiges nie. Hulle lewe staan in die teken van wantroue in God se voorsienigheid. Luister wat sê Jesus:
“As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:30-33). Gelowiges kom niks kort nie.
Dis ook ʼn OT waarheid. Behalwe Ps.23 wat sê dat niks die skape van God se kudde sal ontbreek nie, skryf Dawid in Ps.37:25: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie”. Jesus vra van gelowiges om hulle vir die uitbreiding van God se koninkryk te beywer en nie oor die toekoms te bekommer nie. Ons lewens is in God se hande en dis al wat saak maak. Die diere en die voëls swoeg en sweet nie en tog sorg God vir hulle. Is ons nie baie meer werd as hulle nie? Al wat ons moet doen, is om ons vir die uitbreiding van ons hemelse Vader se koninkryk te beywer. Hy sorg vir die res.
Kom ons bid Hom derhalwe vir 'n geestelike ontwaking onder ons volksgenote en ʼn nuwe ywer onder hulle vir die uitbreiding van sy koninkryk hier aan die suidpunt van Afrika.