Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nadat die Fariseërs Jesus probeer versoek het met die vraag of hulle belastings aan die keiser behoort te betaal, het Hy hulle geantwoord: 'Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom'. Want die keiser se kop was op die muntstuk en kon hy maar sy regverdige deel kry. Nou is die vraag of ons aan God betaal wat Hom toekom: nie net ons tiendes in geldvorm nie, maar Hy vra ook 'n tiende van ons tyd in diens van Hom. Maar in die lig daarvan dat alles aan God behoort, maak dit sin dat jy met dít wat Hy aan jou toevertrou het, sal doen wat Hy wil hê en nie wat jý wil hê nie.
DIE ONSE VADER (V)
Ds A.E. van den Berg
“ Gee ons vandag ons daaglikse brood”(Mt.6:11)
Gelowiges dink anders oor stoflike dinge as ongelowige mense. Hulle vra dit wat hulle nodig het van hul hemelse Vader. Waarom? Omdat Jesus ons so in die Onse Vader geleer het om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”
Met hierdie brood word nie letterlik brood bedoel nie, maar die nodige fisiese behoeftes om te kan leef. Sommige mense glo dat ons God nie met ons fisiese behoeftes lastig moet val nie en dat die brood in die modelgebed geestelik bedoel word – Jesus is hierdie brood. Dan is daar ook mense wat hierdie bede oorbodig ag omdat hulle genoeg geld vir eie benodighede het.
Beide hierdie sienings is verkeerd. Die Bybel verdeel nie ons lewens in twee kompartemente nl. 'n fisiese en 'n geestelike een of leer dat God slegs by die een kompartement betrokke is nie. Nee, God sien ons lewe as 'n eenheid sodat gelowiges, behoeftig of welgesteld, Hom vir hul daaglikse behoeftes moet vra.
Gevolglik benader gelowiges die fisiese lewe ook geestelik. Wie dit nie doen nie, mag dink dat hulle ʼn reg het om van God lewensonderhoud te eis. Nee, die omgekeerde is eerder reg – alles is genade. Salomo het by geleentheid gedink dat hy ʼn reg op alles gehad het. Hy was immers skatryk en het geen guns van iemand nodig gehad nie. Tog was hy soekend.
In Prediker skryf hy dat hy alles in lewe beproef het ten einde die sin van die lewe vas te stel. Hy kon alles wat hy wou hê, kry, selfs vroue by die dosyne! Hy skryf dat hy alles beproef het om geluk te probeer vind – wysheid, kennis, studies, wyn, eiendomme, wingerde, vee, silwer, goud, ja, alles. Hy skryf in Prediker 2:10: “Alles wat die oë begeer, het ek myself nie ontsê nie”. Dan bely hy dat alles net ʼn gejaag na wind is.
Salomo het gemeen dat hy ʼn reg op die lewe het maar een na die ander frustrasie en ontnugtering ervaar. God was egter deur al sy worstelings met sy gemoedstoestande heeltyd by hom om, op sy eie tyd, Salomo se oë vir die waarheid oop te maak sodat hy rus vir sy siel kon kry.
Pred.2:24,25 praat 'n ander taal en klink byna asof dit deur iemand anders geskryf is: “Dis nie ʼn goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat ..... Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God” Dan bely hy: “Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?”
Salomo sê daarmee dat hy geen reg op stoflike dinge het nie. God is nie verplig om hom, al is hy koning, van lewensonderhoud te voorsien nie. Dis alles genade. Daarom bid ons in die Onse Vader dat God in ons lewensonderhoud sal voorsien. Die Heilige Gees het Salomo op ʼn ander manier na sy daaglikse brood laat kyk en hom laat besef dat dit iets is waarvoor gebid moet word.
Hoe bid ʼn gelowige dit van God af? Is dit miskien met 'n gereelde tafelgebed of ʼn gebed dat alles wat jy vir jou lewensonderhoud benodig soos manna uit die hemel moet val? Hoe bid ʼn mens daarvoor as jy geld het om dit te koop?
Salomo se ontdekking leer ons wat dit beteken om vir ons daaglikse brood te bid. Ons moet leer om ook wat stoflike dinge betref uit die geloof te leef. Ons het geen regte nie maar slegs rentmeesters. Ons voedsel en alles wat daarmee gepaard gaan, is alles aan God se goedheid en genade in ons lewens te danke en bid ons voordat ons eet.
Gelowiges kyk met ʼn geloofsoog na stoflike dinge. Brood en botter staan nie meer voorop nie, maar Jesus. Ons eet uit genade en roem nie inkrag, geld, vermoëns of een of ander vindingrykheid nie. Ons geborgenheid lê nie in stewige bankbalanse en gerieflike eiendomme nie. Daarbenewens doen ons ook sake en transaksies op ʼn ander manier as ongelowiges. Ons is dankbaar vir die eenvoudigste dinge soos kos op ons tafel.
Gelowiges word nie deur gierigheid, hebsug of die sg. geluksgodin gedryf nie. Hulle weet dat hul hemelse Vader selfs ʼn tafel in die woestyn kan dek. Ons bid altyd vir daaglikse brood al het ons genoegsame voorsiening. Al kan ons alles wat nodig is koop, bly ons steeds God daarvoor bid omdat Hy ons die nodige krag daarvoor gegee het. Hy staan sentraal, nie die fisiese brood nie.
Die woorde daagliks en vandag is nie toevallig so opgeteken nie. In die Grieks beteken daagliks letterlik: dit wat ek werklik nodig het. Jesus wys vir ons op ʼn kenmerk van 'n gelowige lewe - tevredenheid en nederigheid. Ja, ons weet dat God dikwels ver bó dit wat ons nodig het, kan gee.
Dink hier aan die verlore seun wie se pa aan hom 'n feesmaal laat voorberei het. So ook 'n ring, nuwe skoene en sy ereplek teruggegee het. Dink aan God se verskyning aan Salomo waar Hy vir hom sê: “Ek sal jou ook gee dit wat jy nie gevra het nie.” As God oorskotte gee, is dit sý goedgunstigheid. Gelowiges is tevrede met dít wat ons uit sy hand ontvang.
Die woord vandag is ook betekenisvol. Waarom verwag ons nie van God bv. 'n jaar se voorraad soos die verlore seun wat, voordat hy die pad gevat het, sy hele erfenis onmiddellik wou hê nie? Sy vader was mos ryk en kon alles gee.
Nee, God werk vandag met ons net soos Hy toentertyd met die Israeliete in die woestyn gewerk het deur vir hulle elke dag se voorraad manna spesifiek in die oggend te laat optel en nie nog daarvan later in die dag nie.
Omdat dit nie opgegaar kon word nie, het God hom op 'n daaglikse basis aan Israel gebind, amper soos 'n ma wat vir haar kind slegs 'n toebroodjie skooltoe insit sodat hy elke keer weer vir nog kos na haar toe moes terugkom.
Een van die beste dinge wat God ons gee, is dankbare harte. Hierdie spesifieke gebed, die Onse Vader, leer ons om altyd dankbaar vir God se daaglikse versorging te wees. Dankbaarheid teenoor God is ʼn skuld wat ons nooit sal kan vereffen nie.
Wie sy dankbaarheid nie na God weerkaats nie, ken God nie as sy hemelse Vader nie. Al kry ons nie alles wat ons wil hê nie, moet ons ook dankbaar wees dat ons nie alles kry wat ons verdien nie. Omsoom altyd jou seëninge met dankbaarheid wat dan rafel God se goedheid in jou lewe nooit uit nie!