Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kry jou kop reg as jou liggaam uitmekaar wil val. Al is ons aan uiterlike aftakeling onderworpe, kan ons innerlik sterk bly. Jy kan nie die veroudering van jou liggaam keer nie, slegs die veroudering van jou gees.
DIE ONSE VADER (VI)
Ds A.E. van den Berg
“En vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (:12)
Gelowiges streef na 'n heilige lewe. Ongelukkig heers daar by talle 'n misverstand oor wat heiligheid beteken. Die Bybel sê baie duidelik dat alle wedergeborenes heilig is. Let gerus op diegene aan wie die meeste van die NT-skrywers briewe rig – aan die heiliges.
Wanneer mense die woord heilig hoor, dink baie aan hul sondigheid en diskwalifiseer hulle as't ware hulself en sê: “Hoe kan die Here my as heilig beskou, terwyl ek so vol sonde is?” Was die gelowiges van die NT dalk 'n geestelike trappie hoër as hedendaagse gelowiges? Nee, let op die gelowiges in Korinthe. Al was hulle redelik onkundig oor die werking van die Heilige Gees, word hulle nogtans as heiliges aangespreek.
Die Grieks vir heilig is hagios. Dit beteken nie om volmaak te wees nie, maar om opsygesit of eenkant geplaas te wees. Dis waarom God self die Heilige is, omdat Hy van alle sonde, onreg en onreinheid afgesonder is. Die rede waarom alle gelowiges ook in beginsel heilig is en heiliges genoem word, is omdat God hulle as beklee met Jesus sien.
Jesus het deur sy kruisdood vir ons heiligheid in ons plek geword (1 Kor.1:30). Daarom is 'n verloste mens letterlik met Christus geklee (ingesluit). 'n Christen is dus heilig vanuit die hoek waaruit God na hom kyk. Soos wat Jesus alle gelowiges aan die kruis met God versoen het, het Hy hulle ook aan die kruis geheilig en vir Hom opsygesit.
Volgens Heb. 10:10 is gelowiges deur Jesus se offer eens en vir altyd vir God afgesonder (geheilig). Desondanks word hulle telkens opgeroep om in die daaglikse lewe heilig te word (1 Pet.1:16). Gelowiges word opgeroep na dit te streef wat hulle in beginsel reeds ís. Watter sin maak dit? Dit wat ons reeds het, kan ons mos nie verloor nie omdat dit rotsvas in Christus staan. Hierdie oproep dui op die gelowige se verpligting tot voortdurende sondebelydenis. Dit word heiligmaking genoem; iets wat slegs sigbaar word in die gelowige se daaglikse oorwinning oor sonde.
Sommige mense sukkel om dit te verstaan. Hulle redeneer dat as Jesus jou deur sy bloed versoen het, is sondebelydenis mos nie meer nodig nie. Gelowiges is mos van die ewige lewe verseker. Om dan nog sondebelydenis te wil doen, is ʼn mosie van wantroue in die Here se vaste belofte dat die gelowige sy kind is! Nee, dis waar dat sonde in gelowiges nie maak dat hulle hul saligheid verloor nie. Sonde is egter vir God ʼn ernstige saak. Dit bedroef Hom en vertroebel gelowiges se verhouding met Hom.
Die versoening wat Christus deur sy bloed bewerk het, kan nooit deur sonde tot niet gemaak word nie. Jesus het gesweer dat Hy sy belofte in hierdie opsig gestand sal doen (Heb.6:17). Dit verskraal egter nie die erns van sonde nie. Omdat Hy so ʼn duur prys vir ons redding betaal het, maak sonde Hom hartseer. En omdat Hy van die begin af so naby ons kom staan het, is Hy hartseer as ons eiesinnig-ongehoorsaam is omdat sonde ons verhouding met Hom vertroebel. Let wel: dit verbreek nie die verhouding nie, maar vertroebel dit. Soos in enige ander vertroebelde verhouding word vertroebeling slegs deur berou en skuldbelydenis reggestel.
Waar sien ons dit duideliker as in die Gelykenis van die Verlore Seun? Hierdie jongman was altyd in sy pa se huis en het van kleins af in sy goedheid gedeel. En toe vertroebel hy willens en wetens hierdie verhouding. Let wel vertroebel. Hy het dit nie gebreek nie. Met sy terugkeer het hy nie na sy pa gaan soek nie. Sy pa het reeds vir hom gewag. Hy het geweet dat sy seun hom in sy dwaasheid sou vasloop en terugkeer. Sy skuldbelydenis was egter baie noodsaaklik om die verhouding te herstel. Sy pa het hom vergewe en daar is fees gevier.
God wonder nooit of Hy sy kind moet vergewe of nie. Die volle vergifnis van alle sondes het reeds op Golgota geskied. En telkens wanneer ons na Jesus kom, tree die vergifnis weer in werking. God huiwer nooit om te vergewe nie.
Ons moet ook so optree. Dis waarom Jesus ons leer bid het: “Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” Is God se vergifnis dan van ons menslike vergifnis afhanklik? Nee, die hele Bybel getuig van die teendeel. God vergeef uit vrye guns en nie weens mense se toedoen nie.
Vergifnis is belangrik vir God. Hy laat dit in die Onse Vader deurdring dat ons nie sy vergifnis moet verwag indien ons nie ons medemens wat verkeerd teenoor ons opgetree het, wil vergewe nie. Ons vonnis so ʼn oorteder as’t ware tot tronkstraf en weier om die tronk oop te sluit soos wat Jesus met sy kruisdood die tronkdeur van ewige verlorenheid vir óns oopgesluit het.
Onvergewensgesindheid vertroebel ons verhouding met God en ons medemens. Is dit die moeite werd? Is die lewe nie te kort vir negatiewe, afbrekende gesindhede nie? Omdat ons alreeds deur die bloed van Jesus vergewe is, moet ons heiligheid najaag. Ons moet geestelik wakkerlê oor vertroebelde verhoudings met God en medemens en, soos Jesus, onvoorwaardelik vergewe. Sulke vergifnis is 'n geloofswilsdaad. God was my barmhartig en het my sonder verdienste gered. Dit sal vermetel van my wees om nie ook te vergewe nie.
Die gevolge van vergifnis is sielsverrykend. Dis ʼn feestelike lewe soos die Verlore Seun ervaar het. God gebruik nie net een woord om hierdie vergifnis te beskryf nie, maar talle woorde omdat dit so belangrik is. God lig die las van ons af (Ps.38:4-6). Hy bedek ons sonde (Ps.85:2). Hy vee dit weg (Jes.43:25). Hy werp dit in die dieptes van die see (Miga 7:19). Hy dink nooit weer daaraan nie (Jer.31:34).
In Rom. 8:1 skryf Paulus dat God ons oortredings so ver van Hom verwyder soos die ooste en weste van mekaar verwyder is. Dieselfde gedagte word ook in Ps.103:12 gevind. Hy werp al ons sondes letterlik agter Hom weg waar sy oë nie sien nie (Jes.38:17). Hy hou geen beskuldiging teen ons nie (Hand.7:60). Dis soos 'n rekening wat gekanselleer is (Kol.2:13). Dis soos 'n reinigende waterbad (Eseg.36:25).
Daar is drie doodsvyande wat ons aanmoedig om nie te vergewe nie – Satan, die wêreld en ons sondige natuur. Hierdie drie wakker die eie-ek in ons aan. Weens die oorblyfsels van sonde en aanvalle van hierdie drie doodsvyande kan gelowiges nie in eie krag weerstand bied nie. Gelowiges kan ook moontlik val. Wie nie daagliks uit die geloof lewe nie, kán deur hierdie drie doodsvyande uitoorlê word. Bybelse voorbeelde is volop.
Die gebed “lei ons nie in versoeking” gee ons ʼn verantwoordelikheid om te waak en te bid dat ons nie in Satan se strikke soos bv. onvergewensgesindheid trap nie. Daar is slegs een manier om buite bereik van hierdie drie doodsvyande te bly: om altyd ons krag buite onsself te soek. As ons dit nie doen nie, wen hierdie drie!
God beloof uitkoms. Nogtans sukkel sommige gelowiges daarmee. Hulle probeer op eie bene staande teen aanslae bly. Daarom is baie van ons stryd teen ongeloof in God se beloftes. Mag Hy ons versterk en bemoedig in die najaag van 'n heilige lewenswandel en om groot erns met sondebelydenis en vergifnis te maak.