Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Woorde is 'n voorloper van dade, in staat om verandering te bewerk. Ons regeer die wêreld met ons woorde. Die eerste vuishou wat jy iemand toedien is dikwels maar net 'n woord. As 'n mens goedpraat van ander maak jy hulle beter en dit versterk vertroue. Here, lê woorde in my mond om tot U te bid sodat U sal vreugde hê om daarna te luister.
WIE IS 'N CHRISTEN?
Ds A.E. van den Berg
“En hulle het 'n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan 'n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem.” (Hand.11:26).
Daar word beweer dat Suid-Afrika nagenoeg 80% Chistene het. Niks is verder van die waarheid nie! Waarom? Omdat Christene nooit 'n Christen-grondwet met 'n wêreldse (sekulêre) grondwet sou vervang soos wat in 1996 in Suid-Afrika gebeur het nie. Daarbenewens sal Christene nie gruwels soos aborsie en homoseksualisme goedpraat nie en sal hulle bande met kerke wat enige gruwel goedpraat, verbreek.
Ons moet duidelikheid hê oor wie werklik 'n Christen is. Is dit iemand wat gedoop is en later lidmaatskap van 'n kerk verkry het? Is dit iemand wat gereeld kerktoe gaan en die sakramente gebruik? Wat leer die Bybel ons? Hand.11 vertel van gelowiges wat in Antiochië vir die eerste keer in die geskiedenis Christene genoem is.
Hierdie gelowiges is om vyf redes so genoem; eienskappe wat vandag nog geld. Hulle was eerstens onlosmaaklik aan Jesus verbind. Hulle geloof in Hom het soos met klinknaels aan hul siele vasgesit en het die poppe in Jerusalem begin dans toe hulle deur die Joodse kerk, medevolksgenote en Romeine begin vervolg is.
Hand.7 vertel van die steniging van Stefanus waarna die Joodse bloedhonde oral Christene vir vervolging gesoek het. Dit het hulle na Antiochië en ander plekke laat vlug; alles deel van God se heilsplan. Die Evangelie moes verder as Jerusalem uitgedra word: “...maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand.1:8).
Oral waar die vlugtende gelowiges gekom het, het hulle hul lig laat skyn en so 'n indruk op die mense gemaak, dat hulle vir hulle 'n eie benaming gegee het – mense van Christus (Christene). Dit wat van hulle Christene gemaak het, het ook van hulle voorbeeldige en wetsgehoorsame burgers gemaak.
Hulle gebondenheid aan Christus het hul van ongelowiges laat verskil. ”En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2). Hulle geloof was nie bloot woorde nie maar in hul ganse lewenswandel te bespeur. Hulle was n kolonie van God met vreemdelingstatus op aarde. Hulle het 'n ander kultuur, lewenswaardes en gevolglike ‘n eiesoortige leefstyl gehad wat hulle al te duidelik van nie-Christene onderskei het.
Hulle is tweedens Christene genoem omdat hulle met mense oor die verlossing van sonde in Jesus Christus gepraat het. Hulle het altyd eerste met die Jode gepraat omdat hulle die OT geken en die koms van die Messias, soos deur die profete voorspel, verwag het. Vervolgens het hulle ook teenoor Grieke, Romeine en van die ander volke getuig.
Derdens is die gelowiges in Antiochië Christene genoem omdat hulle 'n aanduibare eensgesinde groep was. Hulle het bymekaar gestaan, opofferings gemaak en mekaar se beproewings gedeel. Al hierdie dinge het hul as 'n hegte eenheid saaamgesnoer. Christene is saamgesnoerde gelowiges. Daarom bely ons deur die eeue dat ons in die gemeenskap van die heiliges glo.
Vierdens is die gelowiges in Antiochië Christene genoem omdat hulle van God se genade geleef het. Dit het Barnabas tydens sy besoek aan daardie stad baie duidelik opgeval. “Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly” (:23). Vir hierdie gelowiges was Christenskap nie 'n idee wat in die lug gehang het nie. Almal kon sien dat hulle onwrikbaar in die vaste geloof van hul redding in Jesus gestaan het.
God het vir hulle baie deure wat gesluit gelyk het daar in die vreemde, oopgemaak. Dink hier aan Jesus se bemoedigende boodskap aan die handvol gelowiges in Filadelfia: “En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie” (Openb.3:7).
Laastens is gelowiges in Antiochië, Christene genoem omdat hulle met die werk en opdrag van Jesus volhard het. Hand.13 maak van dieselfde gemeente melding, hierdie keer met vyf leraars waarvan twee spesifiek vir sendingwerk afgesonder was nl Paulus en Barnabas; hul bestes in die oesland van die Here.
Kom ons vra weer: Wat is ‘n Christen? Dieselfde eienskappe wat gelowiges destyds in Antiochië van die ander stadsbewoners onderskei het, geld nog steeds. Kom ons toets dit aan ons eie lewe en kyk hoeveel uit die vyf ons reg het.
- Moet ons kragtens ons wedergeboorte en bekering baie duidelik aan Jesus verbonde wees? Jy moet gered wees. “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3). Jy kan sonder gesondheid, rykdom, aansien of geleerdheid sterf, maar nie die ewige geluksaligheid sonder Jesus beërwe nie. Dis ‘n ononderhandelbare vereiste!
- Tweedens moet ons soos die Christene in Antiochië vrymoedig met mense oor geloofsekerheid kan praat:”Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dis ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo...” (Rom.1:16). Christene is die kragdraad waardeur God se elektriese stroom na mense vloei. Hulle waarde lê daarin dat daardie stroom van genade deur hulle kan vloei. Daarom swyg Christene nie as geleenthede opduik om te getuig of te vermaan nie. “Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele” (Mark.8:38). Christene word heiliges genoem vir hul heilige lewenswandel. Gelowiges word vir hul vaste geloof in Jesus so genoem en broeders en susters vir hul onderlinge liefde vir mekaar.
- Derdens moet ons soos die gelowiges in Antiochië eensgesind wees. Almal moet dit kan sien. “...maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin” (Fil.2:2). Christene is soos ‘n bondel stokke wat saamgebind is – as een aan die brand gesteek word, begin die ander ook te brand. Paulus skryf aan die Galasiërs: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus”. Christene is vir gemeenskapslewe bestem. Die MIER, daardie wonderlike klein diertjie waarvan ons in die Woord soveel voorbeelde kry oor hoe om te wees, kon goeie Christene uitgemaak het omdat hulle altyd gemeenskapsbelange bo hul eie stel!
- Vierdens moet ons in kinderlike afhanklikheid van God leef en op sy voorsiening vertrou: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.” (Mt.6). Geloof is kinderlike afhanklikheid van ons hemelse Vader. Die eerste Christene het geweet dat wat die toekoms ook al vir hulle inhou, God daar was om hulle te help. So ook vir ons.
- Vyfdens moet ons soos daardie eerste Christene in Antiochiȅ net ons beste vir Jesus gee. Net die beste is goed genoeg vir Hom. Het jy jouself getoets? Niemand wil weet hoeveel uit vyf jy gekry het nie. Dis ‘n saak tusen jou en God. Jy is net aan Hom jou uitslag verskuldig.