Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons word nie beter of slegter namate ons ouer word nie. Ons word eerder meer onsself.
WAAROM KERKTOE GAAN?
Ds A.E. van den Berg
“En soos Hy gewoond was, gaan Hy op die Sabbatdag in die sinagoge (Luk.4:16).
“En laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim nie” (Hebr.10:25).
In die Twaalf Artikels bely gelowiges dat hulle in die gemeenskap van die gelowiges glo. God wil dat gelowiges Hom nie net as enkelinge dien nie maar ook gesamentlik. Dis hoe kerke ontstaan het - plekke waar mense op bepaalde tye bymekaar gekom het om God te aanbid en as 'n geestelike familie te geniet.
Exodus vertel van die oprigting van so ʼn vergaderplek; die tabernakel (tent van samekoms genoem) waar mense byeen gekom het en God op ʼn besondere manier daar teenwoordig was. God het behae in plekke vir geloofsamekomste: “En Ek sal my tabernakel onder julle oprig, en my siel sal van julle geen afsku hê nie” (Lev.26:11). Daar is ook ʼn goddelike belofte aan kerkgang: “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is ek in hulle midde” (Mt.18:20).
Na die tabernakel is die tempel as 'n vaste aandiddingstruktuur in Jerusalem gebou en gebruik. Almal kon egter nie op ʼn Sabbat Jerusalem toe reis nie en het daar sinagoges as 'n verlengstuk van die tempel in Jerusalem oral in Israel en buite die land se grense as gesamentlike aanbiddingsplekke ontstaan.
Kerkgang het van vroegs af ook ʼn goeie gewoonte geword; selfs vir Jesus: “En soos Hy gewoond was, gaan Hy op die Sabbatdag in die sinagoge” (Luk.4:16). Paulus het in Antiochië in ʼn sinagoge gepreek en groot aanklank gevind: “En op die volgende Sabbat het byna die hele stad saamgekom om die Woord van die Here te hoor” (Hand.13:44).
Paulus benadruk die noodsaaklikheid van Skrifgetroue prediking vir mense: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? Hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?” (Rom.10:14)
Gelowiges het sedert die OT tyd kerkgang geniet: “Hoe lieflik is u woninge, o Here van die leërskare! My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die Here; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God. Selfs vind die mossie 'n huis en die swaweltjie 'n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare.Here van die leërskare, my Koning en my God! Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis...” (Ps.84).
Waarom gaan mense al vir eeue kerk toe? Omdat dit een van die beste dinge is om te doen. Dit versterk ons nie net geestelik nie maar leer ons om verkeerde dinge in die lewe te vermy: “Want ʼn dag in U voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid” (Ps.84:11).
Daarbewnewens is kerkgang goeie oefening vir ons siele “Oefen jou in die godsaligheid” (1 Tim.4:7). Dit help jou om rein te leef en sodoende 'n getuienis te lewer: “Betoon jou in alles ʼn voortbeeld van goeie werke” (Tit.2:7)
Wanneer iemand lidmaat van ʼn kerk word, beloof hy o.a. om getrou kerk toe te gaan. Dis ʼn baie ou belofte. Ps.116:18 sê die Psalmdigter “Ek sal my geloftes aan die Here betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk”.
Wanneer gelowiges om een of ander rede vir ʼn tyd lank nie kerk toe kan gaan nie, is daar by hulle ʼn sielsverlange daarna. Jy mis dit omdat jy kind van God is en 'n geestelike familie het. “My siel verlang, ja smag na die voorhowe van die Here” (Ps.84:3). Toe koning Dawid tydens 'n burgeroorlog uit Jerusalem moes vlug en nie kerk toe kon gaan nie, wens hy “Dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here” (Ps.27:4).
Kerkgang verkwik die mense se siel en maak gelowiges bly. Nadat daar vrede in Jerusalem gekom het, skryf Dawid: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die Here gaan” (Ps.122:1).
Gelowiges mis dit om saam met medegelowiges na prediking te luister. Van Jesus se prediking word gesê: “En al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te luister” (Luk.15:1). Alle gelowiges het deur die werking van die Heilige Gees ʼn geestelike behoefte daaraan: “Wie ʼn oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Openb.3:6)
Min dinge voed ʼn gesinslewe soos kerkgang. Josua is ʼn sprekende voorbeeld hiervan: “Maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos.24:15).
Die skrywer van Hebeers sê:“En laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim nie soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebr.10:25).
Hieruit is dit duidelik dat die aanvanklike geesdrif vir kerkgang by sommige vervaag het. Dis vandag nog net so waar. Mense gaan tot op 'n punt kerk toe en maak dan spore. Die AP Kerk het duisende mense sien kom en gaan. Baie van die ander kerke toon ook skerp dalings in lidmaattalle, veral onder jongmense. Waarom? Baie van hulle wonder of die kerk van hul ouers nog die regte een vir hulle is. Moet ons bly of moet ons ry?
Wie erns met die Bybel maak, moet homself een vraag afvra: Verkondig my kerk die volle Bybelse waarheid? Jesus waarsku dat die waarheid aan die einde van die tyd versaak en mense mislei gaan word. Om die ware kerk in hierdie tyd te eien, sal ʼn liefde vir die waarheid en deeglike Bybelkennis onontbeerlik wees. Dis egter nie maklik om die ware kerk in ʼn wêreld vol kerkmisleiding te vind nie. Herken dit aan die drie kenmerke van 'n ware kerk.
Eerstens verkondig die ware kerk die Bybel suiwer. Gelowiges hoor die stem van Jesus: “Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie” (Joh.10:5). Suiwer prediking is al hoe skape die stem van die goeie Herder herken. Die doel van prediking is juis om geloof aan die hand van die Bybel te voed. As die geestelike voedsel giftig is, sal mense geestelik doodgaan!
Suiwere sakramentbediening is ʼn tweede kenmerk van die ware kerk. As die prediking nie suiwer is nie, vind dit ook sy weg na die sakramente. Die sg. inseën van kindertjies in Charismatiese kerke i.p.v. die klein-doop en die toelating van klein kindertjies tot die Nagmaal in die NG Kerk getuig van Roomse gedienstigheid en 'n ontheiliging van dit wat heilig moet wees. Die ware kerk doen dit nie.
Die suiwere toepassing van die kerklike tug is die derde kenmerk van 'n ware kerk. Dis noodsaaklik om ergerlike sondes liefdevol te bestraf sodat oortreders tot bekering kom. Opgesom: By suiwer prediking gaan dit oor die hoorbare Woord, by suiwere sakramentbediening oor die sigbare Woord en by die kerklike tug oor die tasbare Woord.
Die ware kerk maak geen vrede met sonde nie, maar beveg dit. Daarvoor is die suiwere toepassing van die kerklike tug onontbeerlik. ʼn Kerk wat sondes laat begaan, is vals. Gelowiges moet dit verlaat. Die behoud van die ware kerk is deel van gelowiges se stryd teen leuens en die moderne ontsondiging van gruwels. Gelowiges mag dit t.w.v. 'n liefde vir God nooit gelate aanvaar nie!