Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal raak soms bang. Ps 108 nooi jou uit om veilig by die Here te voel selfs al verkeer jy in gevaar. Hierdie psalm praat van 'n geloof in dinge wat ons nie kan sien nie, 'n geloof wat jou staande hou selfs in die swartste nag. Die Here is altyd vir jou daar; daarom hoef jy nie bang te wees vir môre en oormôre nie: jy is veilig by God!
WAAR KOM DIE BYBEL VANDAAN?
Ds A.E. van den Berg
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is....terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe ...” (2 Pet.1: 19-21).
Is die Bybel soos ons dit ken werklik soos God dit wou hê? Is daar nie miskien boeke weggelaat wat daain opgeneem moes wees of boeke ingelaat wat uit moes wees? Hoe seker kan ons wees dat die Bybel wat ons lees wel reg is?
Daar was nooit ’n kerklike liggaam wat besluit het watter boeke moet in, en watter uit die Bybel gelaat moes word nie. Bybelse geskrifte is deur die eeue deur gelowiges ontvang en as begeesterde boeke herken. In die tyd van Jesus was al 39 OT boeke reeds bekend. Israel het nie daaroor besluit nie. God het dit so gewil.
Minstens 90% van die NT is onmiddellik as die Woord van God erken. Oor boeke soos Jakobus en Hebreërs was daar aanvanklik twyfel aangesien die naam van die skrywer by Hebreërs ontbreek en Jakobus met sy klem op goeie werke oënskynlik Paulus se klem op genade weerspreek. Desondanks was daar by die grootste deel van die vroeë kerk ooreenstemming dat dit wel in die Bybel hoort.
Daar was destyds ook baie valse geskrifte in omloop waarmee ketters hul dwaalleer wou regverdig. Geeneen daarvan het die paal gehaal nie en ’n duidelike bewys dat God die 27 boeke vir die NT voorsien het. Daarom het die Konsilie van Kartago in 397nC finale erkenning aan hierdie 27 boeke NT gegee. Wees verseker dat die kerk nie die Bybel saamgestel het nie maar van God ontvang het.
Die OT is oorspronklik in Hebreeus en die NT in Grieks geskryf. Hierdie oorspronklike tekste bestaan nie meer nie. Na die verwoesting van Jerusalem in 586vC het die Bondsvolk in ballingskap gegaan waarna OT tekste op verskillende plekke met die hand oorgeskryf is.
In Jesus se tyd is verskillende kopieë van die OT gebruik. Die Jode het toe al nie meer Hebreeus gepraat nie. Dit was slegs ’n Bybeltaal. Desondanks is Hebreeuse manuskripte steeds in Hebreeus gekopieer en gebruik. As Jesus uit die OT aanhaal, haal Hy nie die Hebreeuse teks aan nie, maar die Septuagint; 'n Griekse vertaling van die OT omdat daar destyds geen vasgestelde bronteks was nie. Die oudste volledige manuskrip van die OT is die Kodeks Lenningradensis (1008nC) wat dan ook die grondteks van die 1933/53 Afrikaanse vertaling is.
Die oudste NT manuskripte dateer om en by die einde van die 2de eeu n.C. Daar bestaan weereens geen oorspronklike teks nie, maar slegs kopieë van manuskripte. Ons is egter gelukkig om manuskripte te hê wat 100-150 jaar na die oorspronklikes gekopieer is. Die oudste volledige NT is Kodeks Sinaiticus (4de eeu) en Kodeks Vaticanus (5de eeu). Beide daarvan word as die betroubaarste tekse beskou en kom ons huidige Bybel van kopieë van hierdie oorspronklikes vandaan.
Hoe betroubaar is hierdie kopieë? Is daar nie dalk foute in nie? Nee, die Heilige Gees oortuig ons van die betroubaarheid daarvan. Neem maar net die oorspronklike manuskripte van Shakespeare se werke, wat 450 jaar gelede geskryf is. Dit bestaan nie meer nie. Desondanks bestudeer studente kopieë daarvan sonder om te twyfel. Hoeveel te meer sal ons dit nie met die Woord van God doen nie!
Die OT is in Hebreeus slegs met konsonante sonder vokale geskryf. Daar was ook geen spasies tussen woorde en sinne nie – alles was aaneen. Eers in 600nC het geleerde Jode (Masorete) die vokale ingevoeg en reëls neergelê oor hoe gekopieer moes word. Die getal woorde en letters van elke boek moes getel en die middelste letter vasgestel word om die kopieë tot op die letter te monitor.
Na die ontdekking van die Dooie See-rolle in 1946 is duisende fragmente van die OT wat uit 100vC dateer bekom. Dit stem feitlik letter vir letter met die Masorete-teks ooreen; ’n goddelike bevestiging van die akkuraatheid waarmee daar gekopieer is!
Die NT boeke was teen 100nC klaar geskryf en as geïnspireerde woorde aanvaar. Die kopiëring van die NT geskrifte was egter nie so akkuraat soos die van die OT nie omdat dit dikwels, weens die Christen-vervolging, baie haastig geskryf moes word. Sommige kopieë is egter ook bewustelik deur dwaalleraars verander om hul dwaalleer te pas. Die aantal korrekte Griekse manuskripte waarvan daar meer as 4500 is, is egter oorweldigend eenders en dus maklik om as die oorspronklike teks te aanvaar. God het gesorg dat dit bewaar bly sodat ons ’n betroubare Bybel kon kry.
Ons moet met die regte oë na die Bybel kyk. God het mense direk opdrag gegee om te skryf. Die grootste deel is in Israel geskryf en dele in die buiteland. Die skrywers was egter almal deur die Heilige Gees geïnspireer: “Want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet.1:21). Een van hierdie heiliges was Moses wat die eerste vyf OT boeke geskryf het. Na die slag teen Amalek lees ons: “Toe sê die Here vir Moses: Skrywe dit as ’n aandenking in ’n boek…” (Ex.17:14).
Die Bybel is aanvanklik op klip geskryf. “Toe sê die Here vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar, dat Ek jou die kliptafels kan gee en die wet en die gebooie wat Ek geskryf het om hulle te onderrig” (Ex.24:12). “En Hy het aan Moses, toe Hy geëindig het om met hom te spreek op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God” (Ex.31:18). ’n Mens kan jou nie indink dat die eerste Bybeldele op klip was nie!
God het mense opdragte gegee om die Bybel te skryf. Hy sê vir Jeremia: “….Skryf vir jou in ’n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het” (Jer.30:2). Vir Habakkuk sê Hy:”….Skryf die gesig op en graveer dit op tafels…” (Hab.2:2).
Die Bybel vertel hoe die mens tot en met die sondeval in ’n godsalige staat geleef het. Daarna het God Hom in sy ontfermende liefde tot die mens neergebuig en later selfs ’n verbond met hom gesluit. Die Bybel vertel dat God sy Seun sou stuur om alles te herstel wat dan in die volheid van die tyd (Gal.4:4) gebeur het. Die Bybel verseker ons dat Heilige Gees Jesus se werk kom voortsit het.
Die Bybel vertel dat alles met die wederkoms en oordeelsdag ten einde kom: “Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt” (2 Pet.3:12). Al hierdie dinge is openbarings en val ver buite ons natuurlike waarneming.
Die Bybel is ’n wonderboek wat oor die 2000 jaar presies dieselfde gebly omdat God nooit verander nie. Hoe anders is die heidendom nie! Die oud-Grieke het later selfs met hul eie gode begin spot en die Romeine het hul gode met keiseraanbidding vervang. Israel se Godsbegrip het egter nooit verander nie; so ook nie God se plan met die mensdom nie. Hiervoor is daar net een verklaring – die Bybel kom waarlik van God en die skrywers is gelei om die geskiedenis van hul tyd suiwer te verklaar.
Gewoonlik speel mense se agtergrond ’n beduidende rol in hoe hulle dinge sien. Die Bybel vorm egter ’n eenheid ongeag die skrywers se agtergronde. Onder die skrywers was daar volksleiers soos Josua, boere soos Job en Amos, konings soos Salomo, vissers soos Petrus, wetgeleerdes soos Paulus, ’n dokter soos Lukas, ’n kroegman soos Nehemia (koning se skinker), ’n musikant soos Dawid, ’n premier soos Daniël en vele meer.
Groot dele van die Bybel is in Jerusalem geskryf. Sommige dele daarbuite. Moses skryf in Egipte, Jona in Nineve, Daniël in Babel, die apostels in Klein-Asië en Johannes op Patmos. Ons kan maar net verwonderd oor die Bybel staan:
“Die wet van die Here is volmaak; dit verkwik die siel; die getuienis van die Here is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige” (Ps.19:8).
“Vir ewig, o Here, staan U woord vas in die hemele” (Ps.119:89).