Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons leef in 'n tyd waarin die waarheid nie meer hoog geag word nie maar die enkeles wat nog graag in die waarheid wil leef kan saam met Dawid sê: "Toets my HERE, want... ek wandel in u waarheid, Ek sit nie by valse mense nie, en met slinkse mense gaan ek nie om nie. Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie... my voet staan op gelyk grond; ek sal die HERE loof in die vergaderings."
SOOS IN DIE DAE VAN NOAG
Ds. A. E. van den Berg
“Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mat.24;37).
Die Bybel vertel ons van die grootste natuurramp wat die aarde ooit getref het nl. die Sondvloed. Al die natuurrampe wat daarna gevolg het, was plaaslik. Die Sondvloed was wêreldwyd en het die hele aarde met water oordek en was God se straf op sonde. Hy het besluit om die uitwis-knoppie te druk en alle mense op die aarde uit te wis. Net Noag en sy gesin (agt mense in totaal) is gespaar.
Watter sonde het God dit laat doen? Die antwoord lê in Jesus se woorde in Mat 24 as Hy die einde van die wêreld met die dae van Noag vergelyk. Hy vertel sy dissipels dat die verlede die sleutel vir die toekoms is.
”Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mat 24:38,39.
Dit wat in die tyd van Noag gebeur het, sal aan die einde van die tyd weer gebeur. Die onverskilligheid van die mensdom in Noag se tyd sal kort voor die wederkoms net so herhaal word.
Maar, hoe het die mense destyds geleef? Hulle het geëet, gedrink, getrou, handel gedryf, geplant en geoes; nie dat daar fout mee was nie. Hulle het egter God uit hul lewe gelaat en sondig geleef. Daarom het hulle Noag se waarskuwings in die wind geslaan. Vir hulle was hy maar net 'n ouman wat om 'n reuse skip honderde kilometer van die see af gebou het. Daar moes by hom iewers 'n skroef los gewees het; nie in die skip nie maar in sy kop!
Wat mense ook al gesê het, het Noag nie afgesit nie. Hy het hulle gereeld gewaarsku dat God hul sonde gaan straf. Hulle het hul daaraan afgevee. Toe God se sandglas van genade op 'n dag leegloop, was dit te laat. Daarna het dit begin reën en alles op die aarde oordek. Ek kan my indink hoe mense aan die deur van die ark kom hamer het “Maak oop, maak oop!” Maar dit was te laat!
Mense was destyds baie slim, maar het, soos vandag, geen tyd vir geestelike sake gehad nie – slim in hul eie oë maar dwaas in God s'n. Daarom het hulle geen tyd vir God gehad totdat dit te laat was nie. As hulle maar net na Noag se waarskuwings geluister het!
Die rede vir die uitwissing was dat sonde na die sondeval soos 'n aggressiewe kanker begin versprei het. Sodra sonde in die geestelike bloedstroom beland, versprei dit totdat dit die hele mens verteer. Sonde het destyds so ernstig toegeneem, dat God besluit het om 'n nuwe begin met mense te maak. Tot op daardie tydstip het God die sondaars van selfvernietiging beskerm. Toe Hy egter sy hand terugtrek, het hulle die gevolge van hul bose lewenswyse gedra.
Paulus skryf: “Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer, hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. (Romeine1).
God is tot op 'n punt geduldig met mense, maar nie vir altyd nie. Laat dit 'n waarskuwing wees vir almal wat in sonde leef. As jy dink dat God jou nie sien nie, gaan jy na jou dood 'n lelike verrassing kry!
“Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was...” (Gen.6:5). Nêrens in die Bybel vind ons 'n duideliker prentjie van totale geestelike verval soos hier nie. Dit was soos wat God die mensdom gesien het – geheel en al van Hom verwyder.
In Gen 1 lees ons telkens dat dit wat God gemaak het, goed was. Teen die tyd van Gen 6 kyk God na sy skepping en sien dat dit 'n vuil maalstroom van boosheid was en sy oordeel regverdig het:
“...het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart. En die Here sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het”.(Gen.6:6.7).
God het berou gehad. Sy hart breek oor die wrakstukke wat die aarde in 'n reuse vullishoop van pyn, hartseer, skande en skuldgevoelens omgekeer het. Daarom het God besluit om die skepping te “ontskep”.
Geen mens kan die omvang hiervan nooit bedink nie. Stede, dorpe, geboue, mense en diere is alles onder water. Elke aanduiding van menslike beskawing is weggespoel. Net een mens en sy gesin het genade in God se oog gevind en is gespaar.
Uit hierdie kataklismiese gebeure leer ons as gelowiges twee groot waarhede. Eerstens dat genade ook in die donkerste uur te vinde is. Al was die wêreld op die rand van vernietiging, het Noag genade in God se oog gevind. Al is 'n put ook hoe diep, is God se genade steeds dieper as dit.
Tweedens leer gelowiges dat genade al manier is om God se oordeel te ontsnap. “Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin...” (Hebr.11:7).
Enige mens kan in sy donkerste lewensomstandighede gered word. God doen in Christus vir ons wat ons nie vir onsself kan doen nie. Hy kom na ons toe. “Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op 'n rots gestel....” (Ps.40:2,3).
God kom na ons toe. So het Hy in die volheid van die tyd in Jesus na ons toe gekom om ons van die ewige verderf te red. Die water van oordeel was besig om teen ons op te stoot. Daar was niks wat ons daaraan kon doen nie. As Iemand nie van bo gekom het nie, het ons almal omgekom. Sy naam is Jesus, God se reddingsboei.
Terug by die teksvers:“Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees”. Dit wat destyds gebeur het, sal net voor die wederkoms weer gebeur. Wie dus wil weet wat in die toekoms gaan gebeur, moet na die verlede terugkyk. Die dae van Noag is die sleutel om die toekoms te verstaan.
Aan watter kentekens moet ons die einde verwag? Daar is net een sleutel – kyk terug in die verlede. Soos in die dae van Noag sal die mensdom totaal onvoorbereid vir die eindoordeel wees. Daar sal weer 'n ongehoorde morele verval wees. Gesinne sal verbrokkel asook 'n skerp toename in sataniese aktiwiteit wees. So ook skokkende verraad van mense wat hul as leiers voordoen maar eerder misleiers is; veral in kerke.
Dis alles dinge wat vandag wêreldwyd gebeur. Wat sê dit? Dat ons waarlik in die pylvak van Jesus se wederkoms is. Moet egter nie verskrik wees nie. As jy Jesus as jou Verlosser ken, is jy op die ark van God se genade. “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Al wat jy moet doen, is om al hoe sterker in die geloof te staan, die waarheid onbevrees te verkondig en soos 'n Noag van ouds mense dringend te waarsku. Want as jy gaan ophou om 'n profeet vir jou volk te wees, word jy die argitek van sy lot. Maak werk daarvan want ons is al 'n jaar nader aan die wederkoms en die tyd min!