Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons eie Sagmoedige Neelsie het gesê dat ouderdom die vervaldag is van die uitstel wat aan die jeug gegee is. Gebruik dan jou jeug so dat jy die vervaldag nie berou nie.
BEWAAR JOU GEESTELIKE ERFENIS
Ds A.E. van den Berg
“.... So het Esau dan sy eersgeboortereg verag” (Gen.25:34).
In die 60er jare koop 'n vrou op die Kaapse parade 'n ring vir R20 nadat die smous haar verseker het dat dit 'n egte diamant was. Sy was skepties maar dit tog gekoop. Toe sy dit laat waardeer, was dit 'n diamant van twee karaat! Ja, sommige mense het al bitter min vir 'n kosbaarheid betaal. Maar nog nooit is iets so kosbaars vir so min verkoop as dit waarvan die gelese gedeelte melding maak nie.
Die tragiese verhaal van Esau se geringskatting van dit wat vir hom kosbaar moes wees, is met 'n doel opgeteken sodat ons nie dieselfde fout maak nie. Paulus skryf: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons...” (1 Kor.10:11). Ook Esau se onverskilligheid.
Esau was ongelowig en het geen insig in geestelike sake gehad nie en die spoor byster geraak. Hy het baie potensiaal gehad om voluit vir God te lewe. Dink aan die talle beloftes aan grond en rykdom aan sy voorgeslag. So ook 'n geestelike erfporsie nl. God se besondere seën.
Waarom het hy al hierdie kosbaarhede verag? Omdat hy nie 'n saak daarmee gehad het nie. Dit het te ver in die toekoms gelê. Al wat gereed was, was die hier en die nou – die lensiesop voor hom. Dit kon hy nou geniet.
Esau se impulsiewe leef net vir nou houding het hom en sy nageslag bitter duur te staan gekom. Dis 'n waarskuwing: “en pas op dat niemand in die genade veragter nie... soos Esau wat vir een spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.... toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer” (Heb.12:15-17).
Die eersgeboortereg het vir 'n oudste kind baie beteken. Dit was 'n eenmalige aanbieding. Dit het geestelike sowel as fisiese beloftes bevat. En wat 'n wonderlike erfporsie het God nie aan die nageslag van Abraham bemaak nie – 'n eie land en 'n groot naam onder die volke. Sy nageslag sou soos sand van die see wees, die beloofde land Kanaän betrek en op pad daarheen oorwinnings oor die vyand behaal.
Uit sy nageslag sou die Messias gebore word en 'n mag van goedheid op aarde wees omdat die Messias uit hulle sou kom. Gevolglik sou Esau se naam onder sy nageslag, groot kon wees. Hy sou skatryk erf. Hoor wat sê 'n kneg van Abraham: “En die Here het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee” (Gen.24:35).
Wat het Esau besiel om met sulke wonderlike toeseggings sy eersgeboortereg te verkoop? Esau wou sy fisiese behoeftes onmiddellik bevredig. Hy was nie 'n man vir wag nie. Is dit nie maar dikwels ons se eie kwaal nie? Ons kan nie wag nie!
Esau het sy eersgeboortereg verwerp. Later sou talle mense ook n geboorte -reg in Jesus ontvang - 'n wedergeboorte-reg: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh.1:12). Die wedergeboorte is 'n eenmalige geestelike erfenis: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus...” (Rom.8:16,17).
Wat doen ons met ons eenmaal in 'n leeftyd erfenis? Eien ons dit persoonlik toe? Wie 'n erfporsie nie toeëien nie, verbeur dit. Paulus skryf dat baie mense aan die wedren deelneem, maar min van hulle nie goed hardloop nie omdat hulle nie dinge doen wat hulle kan laat wen nie. “.Hardloop so dat julle dit sekerlik kan behaal... Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie...” (1 Kor.9:24,26).
Om 'n wedergeboorte-reg te geniet, verg opoffering. Gelowiges moet soos Moses die genot van die hier en die nou bewustelik weier. “Deur die geloof het Moses, toe hy groot geword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ʼn tyd lank die genot van die sonde te hê... want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (Heb.11:24,25,27). Hy het God voor oë gehad en aan sy geestelike beloftes vasgeklou. Moses se hart was reg!
Met Esau was dit die teenoorgestelde. Sy hart was nie reg nie en het derhalwe sy erfenis nie bewaar nie. Jesus sê: “want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mt.6:21). Mense verkoop dikwels 'n item as hulle aan iets anders meer waarde heg. Esau het sy eersgeboortereg te laag geag en dit vir nietigheid verkwansel. Sy ongeërgdheid het hom na die onmiddellike versadiging van fisiese genot laat gryp.
Die onmiddellike versadiging van sy behoeftes het sy lewe oorheers en dit vir hom onmoontlik gemaak om in geloof te leef. Al wat vir Esau saak gemaak het, was die dinge wat hy nou onmiddellik wou hê. Hy wou geen opoffering maak om sy geestelike erfporsie te beskerm nie en het dit met een onbesonne daad verloor!
In Hebreeus is die woord verag (wat Moses in die teksvers gebruik) 'n baie sterk woord. nl om iets met minagting te behandel. Ons lees iets hiervan in die NT: “Laat niemand 'n hoereerder wees nie, of 'n onheilige soos Esau wat vir een spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het” (Heb.12:16). Esau se veragting van wat dit wat heilig moes wees, word op gelyke voet met hoerery geplaas!
Die Griekse woord wat hier gebruik word, beskryf iemand wat letterlik voor 'n tempel staan, maar nie ingaan om ware kennis op te doen nie. Dit wat waardevol is, word tot iets algemeen verlaag. En dis presies wat Esau gedoen het – iets wat heilig moes wees, is as iets algemeen behandel.
Esau se geestelike verval vind ook in sy keuse van volksvreemde vroue neerslag. “Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Judit, die dogter van Beeri, die Hetiet, vir hom as vrou geneem, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet. En hulle was vir Isak en Rebekka 'n bitter verdriet” (Gen.26:34,35). Hy was nie in die minste oor God, en die toekoms van sy volk gepla nie.
En dink daaraan – alles het by 'n bakkie lensiesop begin. Wat is jou bakkie lensiesop? Wat verruil jy vir God se beloftes aan jou? 'n Sondige lewensstyl? Iets waarmee jy nie wil breek nie? Is dit die moeite werd? “Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?” (Mt.16:26).
Enigiets wat ons toelaat om ons van ons geestelike erfenis te beroof, word ons bakkie lensiesop. Sommige mense steek hierdie bakkie baie goed weg. Maar dis alles tevergeefs: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie”.
Salomo skryf; “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder. Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy genade vind en 'n goeie insig in die oë van God en die mense. Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak. (Spr.3).
Bewaar jou geestelike erfenis!