Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit is weer naby Moedersdag. Dan moet ons moeders maar onthou: die beste wat jy vir jou kinders kan gee, is jou deernis, jou teenwoordigheid, jou liefde en vergifnis – kortom, jouself. En aan ons kinders: dít is al wat 'n moeder terugvra!
GOD GENEES GEBROKENES
Ds A.E. van den Berg
“Hy genees die wat gebroke is van hart en Hy verbind hul wonde” (Ps.147:3)
Die Franse skrywer Tagore skryf in een van sy boeke dat sy bediende een dag nie vir werk opgedaag het nie. Hy was vies omdat ’n besige dag vir hom voorgelê het. Toe die bediende die volgende dag opdaag, is hy summier afgedank. Terwyl die man sy persoonlike besittings bymekaar maak, sê hy vir Tagore: “Ek wil net vir u sê dat my dogtertjie laas nag oorlede is” Ja, hoe maklik kyk ons nie verby die gebrokenheid van mense by ons nie. Ons is te besig met eie belange en sien hulle nie raak nie.
Gees-gebrokenheid neem skerp toe. Dis om elke hoek en draai – straat op en straat af. Miskien selfs in ons eie gesinslewe. Sulke wonde neem verskeie vorms aan soos groot verdriet, onvervulde verlangens, eensaamheid ens. Elke huis het sy kruis. Die Kategismus sê tereg dat die lewe dikwels 'n jammerdal is wat God tot ons heil beskik. Wat word daarmee bedoel? Dat die mens se verleentheid dikwels God se geleentheid met hom is.
Die samelewing verag gebrokenheid. Mense wil nie gebrokenes en magteloses om hulle hê nie, maar gelukkiges. Let op baie van die TV-advertensies – hoe gelukkig lyk mense nie. As dit nie ’n gesin om die etenstafel is wat breed glimlag omdat die spesifieke sous die kos so lekker laat smaak nie, val ’n jong vrou 'n man om die hals omdat sy naskeermiddel onweerstaanbaar is. Dis mos hoe die lewe moet lyk – nie ’n tranedal nie, maar 'n nimmereindigende gelukkige saambestaan!
Die TV beeldsend egter nie net gunstige dinge nie. Daar is ook beelde van oorloë, slagoffers van natuurrampe ens. Mense vergeet dit betreklik gou omdat die samelewing al so afgestomp geraak het dat hulle die gebrokenes nie wil raaksien nie. Mense gee nie meer vir mekaar om nie. Jy in jou klein hoekie en ek in myne!
Daar is net Een wat altyd omgee – ons hemelse Vader. “Hy genees die wat gebroke is van hart en Hy verbind hul wonde” Wat ’n troos! Al gee niemand anders om nie, Hy gee wel om. Hy sien ook jou gebrokenheid raak. Mense stap 'n pad van beproewing soms net vir 'n wyle saam. God stap die volle pad en genees die wonde.
Ps.147 is ’n lofpsalm wat in ’n baie moeilike tyd geskryf is. Op daardie tydstip was die Bondsvolk in ballingskap en moes slawe-arbeid in ’n heidenland verrig. Hierdie tydperk is aan 'n diepgaande sonde-besef en groot onsekerheid oor die toekoms gekenmerk. Die bannelinge het geweet dat die ballingskap God se straf op hul sonde was. Hulle het egter nie geweet of hulle ooit na hul vaderland sou terugkeer nie. Dis soos om gevonnis te word, maar daar nie gesê word hoe lank die straf gaan duur nie.
Israel moes dit wat hul lewe fisies geanker het, verlaat – hul land, huis en tempel. Die ergste van alles, was om van God verlate te wees. Dit het hulle gebreek. Jeremia sê: “My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk…watter getuienis kan ek vir jou aflê, waarmee kan ek jou vergelyk dogter van Jerusalem? Want jou gebrokenheid is so groot soos die see – wie kan jou gesond maak “ (Klaag 2:11,13).
Sulke gebrokenheid maak ’n gees siek. Geen mens kan dit genees nie, net God alleen kan omdat Hy genadig is. In Ps.147 sien die digter ’n balans tussen God se optrede jeens die mens asook die skepping. Soos wat God in die natuur ingryp, gryp Hy ook in die lewens van mense en volke in. In vers 4 skryf hy van God wat so magtig is, dat Hy die getal van die sterre vasstel. Dieselfde God help ook gebrokenes wat hul toevlug na Hom neem om weer op te staan. In vers 8 skryf hy dat God die aarde met reën seën. So sal Hy ook weer sy seën oor Israel uitstort en verstrooides terugbring.
Dis mos hoe geloof moet praat! Hulle sit in droewige omstandighede, maar verheug hul solank oor die belofte dat hulle droefheid nie vir ewig sal duur nie. Hulle moet net aan God se beloftes vashou. Geloof is mos vertroue!
In vers 9 gaan hy voort – dieselfde God wat sorg dat diere weiding het, sorg ook vir genesing van gebrokenheid. Soos wat God vir sy skepping sorg, sal Hy ook na die mens as kroon van sy skepping omsien, genade betoon en lig in hul donkerte bring.
Dit kan soms baie donker in ons lewens word; 'n donkerte wat met dieptes gepaard gaan. In Ps.23 skryf Dawid van die dal van doodskaduwee. God is oral – in die diepste dieptes en op die hoogste kruine omdat Hy ’n genesende God is. Dit wat sonde stukkend gemaak het, maak Hy heel. Paulus skryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferming en die God van alle vertroosting….” (2 Kor.1:3).
Dieselfde God wat sy volk gestraf en deur ballingskap as te ware stukkend gesny het, het op sy tyd genesing gebring. Hy is ’n God vir gebrokenes. Die gebrokenheid van die mens het Hom ook geraak. Op Golgota het die gewig van sonde die lewe uit Jesus gepers. Toe Hy van die kruis afgehaal is, het Hy net soos enige slagoffer van ’n wrede wêreld gelyk – bebloed, gebroke en dood. Jesus ken gebrokenheid. Hy is ’n Gebrokene vir gebrokenes.
Omdat Hy dit vir ons gely het, verwag Hy van ons om verder as net ons eie klein hoekie raak te sien. Daarom het Hy die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan laat opteken. Ons sing graag van God se genade, maar ons sug ook oor die gebrokenheid van die mensdom; ’n gebrokenheid wat deur baie van ons volksgenote se huise loop.
Paulus skryf aan die Korintiërs: “Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard” (2 Kor 5:4). Ons aardse lewe is soos ’n tent – ons is net tydelik hier op aarde. Daarom sug ons ook aan die begin van 'n jaar oor die gebrokenheid van ons aardse bestel en verlang na ons woning in die hemel.
Laat ons wegkyk van onsself. God het verby Homself gekyk toe Hy sy Seun aan 'n kruis laat sterf het. Hy het die gebrokenes raakgesien. Wat van jou? Laat ons wegkyk van onsself en gebrokenes om ons raaksien en help. Onthou dat jy slegs deur genade heel en nie stukkend is nie. Dit kon so maklik anders-om gewees het!