Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Diegene wat deur God verwerp word verdien sy straf want Hy is nie partydig nie; en diegene wat gered word verdien NIE daardie genade nie maar is deur Hom uitverkies met 'n spesifieke rede.
AS GOD VERSKYN
Ds A.E. van den Berg
“En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar My aangesig kan nie gesien word nie” (Ex.33:23).
Jare gelede sit een van my diakensvroue en haar dogtertjie in die moederskamer toe sy haar vra: ” Mamma, waar is God?” Vir ʼn oomblik het sy nie geweet wat om te antwoord nie en sê toe: “Kyk daar voor, langs dominee is daar nog ʼn stoel op die kansel wat jy nie hiervandaan kan sien nie. God sit langs hom. Na die erediens hardloop sy reguit kansel toe om te gaan kyk en toe terug na haar ma toe: “Mamma, was reg. God was daar!” antwoord sy opgewonde. “Maar hoe weet jy dat Hy daar was?” vra sy . “Hy het sy jassie daar vergeet!” antwoord sy – my toga wat ek na die diens op die stoel langs my neersit!
Sou jy nie ook graag vir God wou sien nie? Ek sou, en dis nie sonde nie! Ons lees in die Bybel van verskeie mense wat God graag wou sien, veral in krisistye. Gelowiges durf egter nooit aan God se teenwoordigheid in sulke tye twyfel nie. Hy is altyd daar, maar so bo ons menslike verstand verhewe, dat ons Hom nie met die oog kan aanskou nie.
In die OT het mense geglo dat as jy God sien, sterf jy. In Jes.6 lees ons van die profeet se roeping: “In die sterfjaar van koning Ussia het ek die Here sien sit op ʼn hoë en verhewe troon ...” (:1) en sy reaksie: “ ... Wee my, ek is verlore! ... want my oë het die Koning, die Here van die leërskare, gesien!” (:5).
Ex.33 vertel ons egter van die eerste Godsverskyning aan ʼn mens toe God wat bo-tydelik en ewig is sy persoonlike teenwoordigheid aan Moses bekend gemaak het, al was dit net van agter. Soos reeds gesê, het die Godverskynings hoofsaaklik met krisistye verband gehou soos wat dit in Ex.33 die geval was. Die geval met die goue kalf was pas verby en 3000 Israeliete het as straf gesterf.
Toe God boonop vir Moses sê: “... Ek sal in jou midde nie optrek nie” (:3) was daar groot onrus in die kamp. Israel kry as’t ware amptelike kennis dat God hulle gaan verlaat. Daar in die bloedige warm woestyn het dit vir die volk van God helder oordag donker geword. Hulle sou nie op hul eie kon oorleef nie. God se kennisgewing was soos ʼn doodsvonnis!
Moses was verpletter. Was al sy opofferings en ontberings dan alles tevergeefs? Ex.33 skets die heel moeilikste tyd in sy lewe. Die pad tussen God en sy volk was aan die skei. Wat kon hy doen om die situasie te red? Kon sake enigsins omgekeer word? Alles het so verlore gelyk! Toe doen Moses die regte ding om met God in die geloof te worstel. En siedaar, God verskyn! Jakob het ook een nag met God geworstel waarna hy lewensrigting verkry het. Dieselfde het met Elia gebeur toe Israel in die tyd van koning Agab so afvallig van God geword het dat hy selfs ʼn tempel vir Baal langs dié van God opgerig het.
In al hierdie gevalle was Israel in ʼn voortbestaanskrisis gedompel en het die geestelike leiers nie gedink dat die son ooit weer vir die volk sou skyn nie. Maar dit het. God het telkens ingegryp en in sy onbegryplike liefde vir Israel sake omgekeer.
Dis egter nie net die OT wat daarvan getuig nie maar ook die NT. Let op twee gevalle – Paulus en Johannes (Evangelis). Paulus was ʼn groot gevaar vir die vroeë Christendom omdat hy gesag gehad het om lewens te beëindig. Mense was bang vir hierdie Jood met sy Romeinse burgerskap en hartstogtelike haat vir Christene. Toe hy by hulle geleentheid in Damaskus gevange wou gaan neem, het iets met hom gebeur: “En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ʼn lig van die hemel af en hy val op die grond en hoor ʼn stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy antwoord en sê: Wie is U Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg” (Hand.9:3-5).
Paulus het ʼn Godsverskyning beleef wat sy hele lewe omgekeer en van hom wat 'n Satansagent was 'n Jesusvolgeling gemaak het. In hul krisisuur het God in die voortbestaan van die jong kerk ingegryp en van ʼn vyand ʼn vriend gemaak. En met wat ʼn oorgawe het hierdie man nie vir Jesus gewerk nie! In ʼn skrywe aan die Korintiërs som hy sy lyding en opoffering vir die Evangelie as volg op:
“Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Driemaal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ʼn nag en ʼn dag het ek op die diepe water deurgebring – dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op die see, in gevare onder valse broeders, in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles, my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes” (2 Kor.11:24-28).
Ons bely saam met miljoene gelowiges oor die wêreld heen dat Christus aan die regterhand van God sit vanwaar Hy sy kerk bewaar en regeer. Dit het dan ook op die Damaskuspad gebeur toe Hy deur ʼn verskyning ingegryp het en een van die gevaarlikste mense in die grootste sendeling op aarde verander het.
In Openbaring lees ons van nog ʼn Godsverskyning. Johannes was 90 jaar oud toe hy in hegtenis geneem is omdat hy die Evangelie van Jesus Christus in Efese verkondig het. Die Romeinse owerheid het hom aan die verkondiging van dwaalleer skuldig bevind en na die eensame eiland Patmos verban.
Let vervolgens op Johannes. Op die eiland Patmos het alles vir hom donker geword. Sou hy maar eensaam in die vreemde sterf ? Dit was ʼn krisisuur in sy lewe. Toe gebeur iets wonderliks – ʼn Godsopenbaring: “Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ʼn groot stem gehoor soos van ʼn basuin...” (Openb.1:10). Johannes ontvang ʼn opdrag – skryf die laaste boek van die Bybel.
Wanneer die pad vir die gelowige baie moeilik raak, tel God hom op. “Soos ʼn vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees” (Ps.103:13). God dra sy kinders in krisisse. In Deutr.1:31 herinner God Moses daaraan dat Hy hulle deur die woestyn dra “soos ʼn man sy seun dra”.
Die pad wat God met ons stap, is dikwels anders as wat ons verwag. Dinge gebeur teen ons verwagting in andersom. En as dit lyk asof dinge doodloop, bring God op sy tyd ʼn ommekeer soos Israel ook destyds in die woestyn ervaar het. Wanneer die nood op sy hoogste is, is God die naaste aan sy kinders.
Kyk maar wat in Babel gebeur het. Eers beland Daniel se drie vriende in ʼn vuuroond en hyself daarna in ʼn leeuhok. As God nie ingegryp het nie, was dit klaar met kees. God was in hul nood so naby aan hulle dat selfs Nebukadneser die godsverskyning in die vuuroond waargeneem het!
Ons kan God nie met aardse oë sien nie. Hy is egter in al ons beproewings teenwoordig. In krisistye laat Hy hom ken en ons weet dat God met ons is: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here jou God.....” (Jes.43:2,3).
Kyk wat mense in krisistye doen – hulle lees baie meer Bybel, gaan meer kerktoe gaan, bid meer ens. En as daar niks gebeur nie, sê hulle: “Maar ek het dan so hard probeer!” Nee, geloof is nie ʼn towerformule of resep waar jy ʼn bietjie meer Bybel lees, genoeg gebed byvoeg en dit deeglik in die bak van skyngeloof roer en met gereelde kerkgang geur nie. Dis ʼn persoonlike verhouding met Jesus. Geloof is nie daar om in 'n krisis ʼn salige haas uit ʼn benoude hoed te trek nie want dan is jy nie ʼn gelowige nie maar ʼn towenaar!
Al kan ons God nie met ons fisiese oë in krisisse sien nie, weet ons dat Hy daar is: “... Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie, want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Jos.1:9). Ons het egter die wonderlike versekering dat ons Hom wel eendag sal sien: “Geliefdes, nou is ons kinders van God ... maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Joh.3:2). Dan sien ons Hom nie van agter soos ʼn Moses van ouds nie, maar van voor, soos ʼn kind sy vader.
Wanneer daardie dag aanbreek, sal ons met geloofsoë moet wandel, hetsy in die dal van doodskaduwee of op die pieke van die berge. As jy ʼn bitter moeilike pad moet stap en dit raak vir jou te veel, sal God jou optel en verder dra.
Ons land, volk en kerke is in ʼn groot krisis wat al hoe groter word. Heidene, verraaiers en dwaalleraars maai onder ons Boerevolk. Moenie moedeloos word nie. God is en bly steeds in beheer. Sy weë is nie ons weë nie. Laat ons geloof nooit afneem nie maar eerder teen alle verwagting in groei!