Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dankie Almagtige Vader, dat ek nie my brandstof van mense hoef te kry nie maar dit direk by U deur u liefde ontvang. U liefde dra my, maak my kragtig, soveel so dat ek dit ook aan my medemens kan uitdeel.
KERSFEES 2025
Ds A.E. van den Berg
“Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord omdat my oë U heil gesien het” (Luk.2:29.30).
Daar is min dinge so aangenaam as wanneer 'n groot belofte waar word. 'n Pa beloof sy kind 'n geskenk en die is opgewonde want hy weet dat sy pa sy woord hou. Dan breek die dag aan en die kind ontvang sy geskenk. Daar is vreugde in sy hart want hy weet dat sy pa se belofte was eg.
In die gelese gedeelte ontmoet ons so 'n vader – God self. En die kind – Simeon, 'n man diep in sy 80s. 'n Mens beweeg normaalweg van kind na volwassene. Kindskap van God word egter nie aan ouderdom gemeet nie. Joh.1:12 sê dat almal wat Jesus as Verlosser aangeneem het, kinders van God is – ook die bejaarde Simeon.
Simeon het in 'n moeilike tyd geleef Godsdiensafvalligheid was aan die orde van die dag. Baie mense het ophou eredienste bywoon en net vir eiebelang geleef. Die enigste godsdienstiges was meesal kalklig-soekers wat op strate gebid het om gesien te word. Jesus sê: “Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie. Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie 'n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg.” (Mat.6:1,2).
Die hoofprobleem in hul harte was dat die eie-ek op die troon was en nie God nie. Gevolglik het hulle die Satan as vader gehad – kinders van die duiwel. Kort voor sy inhegtenisneming berispe Jesus hulle baie ernstig:“Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?” (Mat.23:33).
Die skynheilige kerklui was in stryd met die opregtes van hart (kinders van God). Hulle was 'n klein groepie; opreg, sonder geveinsdheid en getrou in hul kerkgang. Simeon was een van hulle en baie anders as die meeste van die ander. Hy het geestelike verdieping in 'n tyd van godsdienstige vervlakking getoon. Simeon was anders; een van die opvallendste kenmerke van 'n gelowige – hy is anders. Hierdie anders-wees, geskied deur die werking van die Heilige Gees.
Iets wat oud was en nuut geword het, lyk mos anders. Sonde maak 'n mens oud. Bekering maak mense nuut. Paulus getuig daarvan: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17). Simeon was nuut in die gees al het sy liggaam uitmekaar begin val. Hy was vol van die Heilige Gees en het geweet dat God deur sy woord met mense praat en het daarna geleef omdat hy geweet het dat die aardse lewe net tydelik was en dat hy 'n ewigheid tegemoet gaan. Hy wou so opreg as moontlik leef. Daar was so 'n besondere band tussen hom en God dat as hy sy oë toegemaak het, hy aste ware aan Hom kon vat. Hy was by God en God by hom.
Simeon het die profete deeglik bestudeer en geweet dat die Messias sou kom; iets waarna hy hart en siel gehunker het. Dis reeds vroeg belowe: “Toe sê die Here God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.” (Gen.3:14,15). Gevolglik was daar by Simeon 'n lewende verwagting van die komende Jesus.
Luk 2 vertel die verhaal van Simeon se wonderlike ervaring. Op 'n dag was hy alleen in die tempel toe die Heilige Gees met hom gepraat het: “Simeon, vandag het jy genade in God se oog gevind. Jou wens om die Messias voor jou dood te aanskou, sal bewaarheid word. Jy sal Hom sien!” Dink jou vir 'n oomblik in hierdie man se vreugde in – 'n kersgeskenk so groot as kan kom! Onbegryplike genade!
Dan breek die dag van God se belofte aan. Simeon is eenkant in die tempel en sien hoe ouers hul pasgebore kinders volgens die Joodse seremoniële wet as 'n reiniging offer aan God kom toewy. So 'n dankie-sê vir hul hemelse gawe van God.
Dan val 'n man en vrou met 'n babaseuntjie Simeon se oog op. En die Heilige Gees praat met hom: “Simeon, daar is my belofte-vervulling aan jou. Daar is die lang verwagte Messias wat sondaars van die vloek van sonde kom bevry. Wat het nie alles in Simeon se gemoed aangegaan nie! Koorsagtig haas hy hom na Josef en Maria en neem die kindjie in sy arms; die Jesus-kind waarvan Jesaja voorspel het: “Want 'n kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee, en die heerskappy is op sy skouers, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors”.
Die oomblik was so groot dat Simeon 'n lofgebed uiter: “Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord omdat my oë U heil gesien het wat U berei het voor die oë van al die volke – 'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel”.
Simeon se eerste Kersfees was moontlik ook sy laaste want hy was baie oud. Ek kan nie glo dat iemand al 'n groter kersvreugde as Simeon gesmaak het nie. Ek kan my nouliks in sy posisie indink! Maar dis mos hoe Kersfees moet wees – vreugdevol.
Daar is 'n groot verskil tussen Kersvreugde en Kersjolyt. Die een het 'n geestelike onderbou en die ander een nie. Een vereer 'n hemelse Koning wat gee; 'n ander 'n Kersvader wat van mense miljoene oor die kerstyd neem. Een gee en die ander neem. Kyk maar net hoe skarrel mense vir kersgeskenke en alles wat daarmee gepaard gaan rond! Daar is nie geestelike vreugde te vind. Kersjolyt hou op 26 Desember op. Kersvreugde hou vir altyd.
Sal dit nie wonderlik wees om iets van Simeon se Kersvreugde te ervaar nie? Hy het aan God se belofte van die komende Messias vasgehou. Waaraan hou ons vandag vas? Die belofte van Jesus se tweede koms. Miskien is daar vanoggend Simeons onder ons wat dit nog lewend gaan beleef. Hoe wonderlik sal dit nie wees om hierdie tweede belofte te beleef nie!
Maar, terug na Kersfees. Hoe kan ons vandag ware kersvreugde smaak? Volg Simeon se voorbeeld. Hy het na aan God geleef. Van Henog word gesê dat hy met God gewandel het. So ook Simeon en daarom kersvreugde. Wie nie so leef nie beleef hoogstens Kersjolyt – tydelik en sonder enige geestelike waarde.
Wanneer dit by Kersfees kom, is daar 'n groot onderskeid wêreldwyd –mense wat Kersvreugde ervaar en ander wat slegs Kersjolyt met 'n kersvader en al die tierlantyntjies wat daarmee gepaard gaan, geniet.
God vra van gelowiges om anders as die wêreld se mense te wees. Ook met ons Kersfeesviering, Kom ons wys vandag vir 'n verlore-gaande wêreld hoe ware vreugde in Jesus gevier moet word.
Jesus sê: “ ...julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mat 5).