Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Verhoed dat jou liggaam en gees eenders lyk. Dis nie altyd die plooie op ons gesig wat ons lelik maak nie, maar dié op ons gemoed.
JESUS VERSLAAN BOSE GEESTE
Ds A.E. van den Berg
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes.6:12).
'n Paar jaar gelede is die vraag of die Satan werklik bestaan tydens 'n NG Sinode-sitting gevra en 'n debat daaroor gevoer. Dat dit enigsins bevraagteken kon word, wys juis hoe geslepe die Satan is dat selfs 'n kerk enigsins aan sy bestaan kan twyfel. Sy bestaan en sy bose geeste is 'n Bybelse gegewe. Wees egter versigtig teen 'n ongesonde belangstelling in die bose omdat dit baie gevaarlik kan wees!
Wat leer die Bybel oor Satan en sy bose trawante? Die Bybel is immers die finale woord oor hulle en die enigste geïnspireerde boek wat hul bestaan en doel duidelik maak. Desondanks maak sommige mense sekere gedeeltes van die Bybel as mites af net omdat dit vir sekere mense nie aanvaarbaar is nie.
Dat Bybelse waarhede al hoe meer betwyfel, dui op die godsdienstige verval aan die einde van die tyd – ook in kerke. Kerke se ontsondiging van homoseksualisme spreek boekdele hiervan. Daarbenewens glo talle teoloë dat die moderne samelewing die geloof in die bestaan van Satan en sy bose geeste ontgroei het.
Nee, gelowiges aanvaar die Bybel as die volle waarheid van God: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16,17).
Die Bybel vermeld etlike gevalle waar Jesus met bose geeste afgereken het. Die genesing van die besetene van Gadara staan myns insiens hier uit: “...en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke....En die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop....het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink” (Mark.5:12,13).
Bose geeste is 'n werklikheid en nie op die lees van enkele Bybel tekste geskoei nie maar op die strekking van die ganse Skrif. Die Bybel is duidelik oor die ontstaan van boosheid en skryf dit aan die werk van Satan en sy bose geeste toe (Gen 3:1-3).
Ons het pas Jesus se koms na die aarde herdenk. Een van die redes daarvoor was om die koms van die Koninkryk van God op aarde te vestig. ” Na daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mat.3:1,2). Dan sê Jesus iets baie belangrik: “....as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom” (Mat.12:28).
Die bevryding van bose geeste is 'n duidelike bewys dat die Koninkryk van God gekom het. Jesus stuur sy dissipels met 'n duidelike opdrag uit: "Gaan verkondig: 'Die koninkryk van die hemel het naby gekom'. Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf duiwels uit." (Mat10:7,8).
Daar kan nouliks 'n helderder prentjie van die heerskappy van God as dit wees. Oral waar mense van die mag van die bose bevry word, getuig dit van Jesus se oorwinning oor die Satan en sy bose heerskappy.
In 1 Joh 5:19 lees ons ook 'n groot waarheid: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê” en in Luk.11:22: “Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg” Dit verwys na Jesus, die sterk man wat Satan verslaan. Let op die belofte: “Toe sê die Here God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”(Gen 3:14,15)
Wie die bestaan van Satan en sy magte bevraagteken, minag 'n kern-waarheid rakende die koms van Jesus na die aarde: “Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek” (1 Joh 3:8). Johannes skyf: “ Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Open 11:15).
Gelowiges moet deeglik oor die bedreiging wat bose geeste inhou ingelig wees. Dinge soos spiritisme, fortuin vertel, astrologie en waarsêery neem sterk toe en uiters gevaarlik weens die risiko van demoniese invloed daardeur. Paulus waarsku: "Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens... ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie." (1 Kor 10). Die Here verbied die dien van ander gode om ons siele te beskerm. In Hand, 16 het Paulus selfs 'n waarsêende gees uit 'n meisie gedryf wat deur haar hanteerders vir geldelike gewin misbruik is.
Met hul poging om 'n wêreldbeskouing daar te stel wat die werklikheid van Satan en sy bose geeste minag, het ontspoorde geleerdes 'n grondliggende Bybelse waarheid probeer verander. Dit kom van Satan: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efes.2:1,2).
Dis waarom Jesus sy dissipels ook leer bid het: "...verlos ons van die Bose." As Satan en demone nie 'n werklikheid was nie, was hierdie gebed sinloos. Hoe verstaan ons dan 1 Pet 5:8: "Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind."
Nog 'n kenmerk van die bestaan van die bose is die ontsettende toename in dwaalleer: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris…” (1 Joh.4:1,3).
Mense raak deesdae toenemend by Oosterse afgodery en aanverwante dinge betrokke en ontwikkel sodoende ’n skadelike belangstelling in duiwelskunste. Gelowiges moet mense daarteen waarsku. Wie in Jesus glo, het vir Satan net een ding te sê: “Jesus het jou alreeds oorwin en sal met die oordeel jou mag finaal breek!”
Die wêreld is besig om met iets anders as die nag donker te word. Dis Satan se laaste aanslag net voor die wederkoms van Jesus Alles rondom ons word boos. Mense word toenemend gevangenes van die bose. Waar is hierdie bose magte? Paulus antwoord: ”.....teen die bose geeste in die lug” Hulle is rondom ons!
Kyk maar net hoeveel voorvader-aanbidders is daar nie in ons land nie - miljoene! Hierdie voorvader-geeste wat aanbid word, is bose geeste. Dan vra baie mense nog waarom dit so sleg met ons land gaan? Dis die werk van Satan en sy bose trawante!
Die goeie nuus is dat gelowiges nie aan bose magte uitgelewer is nie. Daarvoor het Jesus na die aarde gekom waarvoor ons Hom nie genoeg kan dank nie. Gelowiges het die wonderlike vertroosting: “Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser (Ps.91:3,4). Hou aan hierdie belofte vas..