Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, HERE. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.
WAT MAAK JY HIER?
Ds A.E. van den Berg
IN dié dae was daar geen koning in Israel nie; en in dié dae het die stam van die Daniete vir hom 'n erfdeel gesoek om in te woon, … En die kinders van Dan het uit al die dele van hulle geslag vyf man, ...gestuur om die land te verken en dit te deursoek. Toe hulle by die huis van Miga was en die stem van die jongman, die Leviet, herken, draai hulle daar af en sê vir hom: Wie het jou hierheen gebring, en wat maak jy hier, en wat soek jy hier?” (Rigters 18:1-3)
As jy iemand op 'n plek raakloop waar jy die persoon nie verwag het nie vra jy hom: “Wat op aarde maak jy hier?” Die Bybel het talle sulke voorbeelde. Op 'n skip op pad na Tarsus vra die beangste matrose vir Jona: “Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland en uit watter volk is jy” (Jona 1:8). Met ander woorde: Waarom is jy hier? Wat is jou doel met hierdie vaart?
Wanneer Elia vir koning Agab en sy vrou vlug, gaan lê hy moedeloos en uitgeput onder 'n besembos en wens om maar om liewers dood te gaan. Dan vra God hom: “Wat maak jy hier, Elia?” Wat is jou doel hiermee? Wanneer Juda Iskariot nader kom om Jesus te verraai, vra Jesus: ”Vriend, waarvoor is jy hier?” (Mat 26:50). Sulke vrae noop 'n mens tot rekenskap sowel as 'n selfondersoek soos wat die jong Leviet in Rigters 18 moes doen.
In hierdie hoofstuk het 'n geselskap uit die stam van Dan by die huis van 'n sekere Miga in die Efraim-berge aangekom en tot hul verbasing 'n jong Leviet in sy huis aangetref. Hulle het hom aan sy aksent herken en was verbaas dat hy in die huis van 'n volksvreemdeling was wat Israel nie goedgesind was nie. Vandaar die vraag:
“Wie het jou hierheen gebring, en wat maak jy hier, en wat soek jy hier?”
Hierdie vraag aan die jong Leviet is ook 'n vraag vir jou en my: Waarom is jy hier aan die suidpunt van Afrika? Wat maak jy hier?Wat is jou doel? Die Bybel sê dat ons bywoners en vreemdelinge op die aarde is. Daarom moet ons nooit so vas aan die wêreld raak dat ons vergeet dat ons eintlik na ons ewige woning op pad is nie. Ons is soos reisigers wat nog nie by ons werklike bestemming aangekom het nie.
Kom ons vra ons die vraag af: Wat maak ek hier in hierdie vreemde wêreld wat hemelsbreed van die een waarin ek en jy groot geword het verskil? Dis amper soos wat die Efraim-berge van die jong Leviet se land van herkoms verskil het. Is ek nog op die regte pad of is ek soos 'n eensame skaap in die onherbergsame Efraim-berge van die ou lewe met sy barre sorge?
Daar is 'n opvallende ooreenkoms tussen Israel in die tyd van die Rigters en ons eie volk se geskiedenis. Israel het op daardie stadium nog geen koning gehad nie. Elkeen het maar gedoen wat vir hom reg gelyk het. Die mense van Dan het bitter verkeerd geleef en by geleentheid selfs 'n gemeenskap in Sidon sonder rede aangeval en voor die voet uitgemoor. Dit het tot 'n toestand van wetteloosheid gelei waar niemand van sy lewe meer seker was nie.
Dis niks vreemd nie. Let op ons eie land waar beskawingspeile en goeie orde vir jare lank gehandhaaf is, in baie opsigte verdwyn het. Verraaiers het vrywillig daarvan afstand gedoen waarna 'n teelaarde vir die heidendom geskep is. Allen Peyton het baie jare gelede 'n boek “Cry, my beloved country” geskryf. Vandag kan daar na regte 'n regstellings boek geskryf word: “Cry my disrupted country”.
Alles het net soos in die tyd van Rigters 18 onseker, onstabiel en oppervlakkig geword – van die politiek tot by die kerklike lewe. In hierdie tyd vra die Heilige Gees ons ook: Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Waarom is jy hier? Sal ons soos die Leviet antwoord dat ons net ten brode hier is? Net om te oorleef?
Soos wat daardie Leviet hom destyds in 'n huis van geestelike verval en verdwaalde vroomheid bevind het, bevind ons vir ons in 'n land wat geografies nog dieselfde maar ideologies geheel anders is. Wat doen ons in sulke omstandighede? Ek glo dat ons teenwoordigheid hier aan die suidpunt van Afrika 'n goddelike beskikking is. Dis amper soos die heilsame invloed van die Joodse slavinnetjie op die huis van Naäman. Miskien het die Leviet iets positief vir die huis van Miga beteken.
Dis maar net genade om in 'n tyd van volksontwrigting God se plan met ons lewens raak te sien. Weet een ding – ons is nie toevallig hier nie. God het 'n doel met ons. Petrus skryf dat gelowiges in moeilike omstandighede 'n verskil moet maak: “Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet 2:9),
Toe Josef in die tronk beland, het hy gewonder wat hom in so 'n penarie laat beland het. Hy het mos niks verkeerd gedoen nie. Josef sou dit eers later verstaan toe die stukke van God se legkaart in mekaar gepas het en hy vir sy broers kon sê: “God het my voor julle uitgestuur om lewens te red” (Gen.45:5).
Daniël het seker ook gewonder waarom hy as 'n krygsgevangene onder 'n heidenkoning moes dien. Wat het hy as 'n gelowige in Babel, destyds 'n die kookpot van afgodery, gemaak? God het 'n doel met hom gehad; hy moes van God teenoor afgodsdienaars getuig. Hy sou nooit na Israel terugkeer nie en het op rype leeftyd in Babel gesterf. Maar wat 'n heilsame uitwerking het hy nie op die Babiloniërs gehad nie! Vyf eeue later kom drie wyse manne uit die Ooste op soek na Jesus in Bethlehem aan. Hoe het hulle van Jesus geweet? Daniël het dit voorspel!
In Hand 27 bevind Paulus hom tussen paniekbevange matrose op 'n skip in 'n storm ter see. Hulle staar die dood in die gesig. Dan bring Paulus 'n boodskap van troos; God sou nie een van hulle laat omkom nie. En Hy het nie. Almal het oorleef.
Uit die vyfde eeu na Christus kom die verhaal van die 16 jarige Patric wat deur 'n rowerbende uit sy huis in Engeland ontvoer en na die heidense Ierland weggevoer is. Daar het hy 'n geestelike verdieping beleef. Toe hy later vrygelaat en na Engeland teruggekeer het, het hy hom as leraar bekwaam en na Ierland teruggekeer en duisende Iere gekersten.
Waarom is jy hier aan die suidpunt van Afrika? Wat doen jy? Dit maak nie saak hoe goed of sleg jou lewensomstandighede is nie; God het 'n doel met jou. Jy moet vir jou volk gaan sê om hul verkeerde paaie te los en na God toe terug te keer. Jy moet soos Johannes die Doper, 'n stem in die politieke woestyn van jou volksgenote wees en hul oproep om die paaie van die Here reguit te maak.
Onthou Jesus se woorde: “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Mat 5:13-16)