Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Toe die Boerevolk se godsdiens verval, het ’n lugleegte ontstaan wat deur die heidendom gevul is. Satan het in die tagtigerjare van die vorige eeu ’n hewige aanslag op die Christendom aan die suidpunt van Afrika geloods. As ons kerke vasgestaan het, het hierdie land nie geval nie. Maar hulle het nie!
DIE CHARISMATIESE GEVAAR (6)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
ONVERANTWOORDELIK MET DIE BYBEL!
"Homoseksueles haal bv. graag Mt.19:12 aan: 'Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is...' Dit gaan nie hier oor homoseksualisme nie, maar oor oujongkêrels! "
“Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim.2:15).
Hermeneutiek is die wetenskap van Bybelverklaring en ‘n onmisbare bousteen in teologie. Die charismatiese beweging word aan ‘n gebrek aan verantwoordelike Bybeluitleg gekenmerk, maar ten spyte daarvan lof toegeswaai vir hul geesdrif en opkikkering van die kerk.
Die onverskillige wyse waarop baie charismate met die Bybel omgaan, getuig van ‘n ernstige gebrek aan verantwoordelike teksuitleg. Jesus sê by geleentheid vir die Skrifgeleerdes: “... Julle dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie....” (Mt.22:29). In plaas daarvan om die Skrif uit te lê, lê charismate eerder hul ervarings uit! Die subjektiewe verdring altyd die objektiewe.
By geleentheid het ‘n charismatiese leier wat in 1926 gebore is, aan sy gehoor gesê dat sy bediening op Mt.19:26 gegrond is: “....maar by God is alle dinge moontlik” In die gehoor was iemand wat in 1934 gebore is. Hy het opgewonde sy Bybel oopgemaak om te sien wat Mt.19:34 vir hom sê. Die hoofstuk het net 30 verse gehad het. Dit het hom nie afgeskrik nie en hy het na Luk.19:34 geblaai: “.... Die Here het hom nodig” Hy het opgewonde uitgeroep dat God ook vir hom ‘n teks gehad het, totdat sy vrou vir hom daarop gewys het dat diè woorde van ‘n donkie gesê word! Ja, ‘n mens lag daaroor, maar dis so sprekend van onverantwoordelike omgang met God se heilige Woord!
Sommige soek na ‘n woord van die Here, ander speel Bybelse roulette deur die Bybel meganies te laat oopval en te glo dat dit ‘n persoonlike teks-boodskap van God is. So word dit van ‘n man vertel wat lukraak na ‘n teks-boodskap gesoek het. Sy Bybel val toe by Mt.27 oop en sy oog val op vers 5 wat van Judas se selfmoord praat. Nee, dit kon darem nie op hom betrekking hê nie! Hy laat die Bybel ‘n tweede keer oopval; Luk.10:37 waar Jesus vir die aanwesiges sê: “...Gaan en doen jy net so” Nee, dit was ook nie vir hom nie! Hy laat die Bybel ‘n derde keer oopval; Joh.13:27: “...En Jesus sê vir hom: Wat jy doen, doen dit haastig” Nee, dis allermins die manier om met die Bybel om te gaan!
Moet nooit na die betekenis van ‘n teks buite sy geskiedkundige, taalkundige en logiese verband soek nie. Dis geen kuns om die Skrif te draai om ‘n sekere siening te pas nie. Dis waar dwaalleer vandaan kom. Homoseksueles haal bv. graag Mt.19:12 aan: “Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is....” Dit gaan nie hier oor homoseksualisme nie, maar oor oujongkêrels!
Met hermeneutiek word die werklike betekenis van ‘n Bybelteks vasgestel. Daarvoor is deeglike Bybelstudie nodig. Om die Bybel mis te verstaan, is net so sleg as om dit nie te glo nie! Jy mis God se waarheid en misverstand lei tot dwaling. Om dit reg te verstaan, is egter louter vreugde. In die teksvers praat Paulus van die woord wat reg gesny moet word. Dit vereis ‘n liefde vir die waarheid en ‘n ywer om daarna te soek.
Ten einde die Bybel reg te verstaan, moet ‘n teks nooit verdraai word om ‘n vreemde boodskap oor te dra nie. ‘n Treffende voorbeeld van so ‘n fout word in die Talmoed, die kommentaar op die Joodse OT, aangetref. ‘n Rabbi wil mense oortuig dat die primêre doel van die lewe is om vir mekaar om te gee en verwys na die stene waarmee die toring van Babel (Gen.11) gebou is. Volgens hom was die bouers ongelukkig omdat die opsigters meer oor die bouwerk as oor lewensverlies besorg was. Soos wat die toring gevorder het, het dit al moeiliker geword om stene tot bo te dra. Sommige van die bouers het gestruikel en hulle dood geval. Dit as sulks het die opsigters nie gepla nie, maar die stene wat in die proses gebreek het! Daarom het God hulle met ‘n spraakverwarring gestraf.
Dat menselewens belangriker as stene is, is waar, maar dis nie wat Gen.11 sê nie. Gen.11 leer ons dat God belangriker as afgode is en dat Hy afgodery veroordeel. Om ‘n sterk boodskap te hê, maar die ware betekenis van die Skrif te minag, deug nie. Dis iets waaraan charismatiese leraars hulle dikwels skuldig maak. Charismate is geneig om die vurige betoog van ‘n ekstrovert met besielende prediking te verwar!
Niemand kan met oppervlakkige studie die Bybel ooit reg verstaan nie. Noukeurige Bybelstudie is harde, maar heerlike werk. Alhoewel God sy waarheid nie vir ons verberg nie, is die betekenis daarvan nie altyd opsigtelik duidelik nie. Dit moet deeglik bestudeer word, veral deur ouderlinge. “Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer” (1 Tim.5:17).
Charismate was nog nooit vir getroue Skrifstudie of goeie teologie bekend nie. Baie glo dat hulle begeester genoeg is om die Bybel sonder enige studie te verstaan. Dis versluierde egoïsme, om die minste te sê! Kan ‘n mens die Bybel sonder die onuitputlik toegewyde werk van befaamde teoloë soos bv. Johannes Calvyn verstaan? C.H Spurgeon, ‘n Baptis, het gesê dat Calvyn die suiwerste vertolker van die Christelike geloof van alle tye was.
Charismate het maar baie min eerbied vir begaafde teoloë wat die Bybel jare lank bestudeer en verklaar het. Hulle stel basies net belang in dit wat mense sê die Gees aan hulle openbaar het. Daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen wispelturige verklarings en dit wat Bybelgeleerdes sê!
Talle charismate is openlik teen teologie gekant en glo selfs dat Skrifstudie ‘n teken van ongeloof is. Hulle beroep hulle op Luk.12:12: “want die Heilige Gees sal julle in daardie uur leer wat julle moet sê” Nodeloos om te sê geheel en al uit verband geruk! Te veel predikers staan vandag op kansels met min of geen voorbereiding nie. En dan wil hulle vir ander sê wat God sê!
Om die Skrif reg te verklaar, hoef ons maar net na die voorbeeld wat ons Here Jesus na sy opstanding op die pad na Emmaus self gegee het. Terwyl Hy saam met die twee verwarde manne teruggeloop het, het Hy hulle geleer: “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het” (Luk.24:27). Die Griekse woord wat hier vir uitlê gebruik word, is hermeneuo. Jesus het die Skrif vanuit die Skrif verklaar. En dit vereis deeglike studie. Om die Skrif los van die Skrif te probeer verklaar, is niks anders as knoeiery nie!
Verantwoordelike Bybelverklaring het vyf basiese beginsels:
1. Eerstens die letterlike beginsel. Verstaan die Skrif soos dit daar geskryf staan. Hou egter ook rekening met gelykenisse, metafore, hiperbole en simbole. Moenie na verborge of vergeestelike verklaring soek nie. Boeke soos Esegiël, Daniël, Sagaria en Openbaring bevat wel verborgenhede wat deeglik bestudeer moet word alvorens die boodskap daarvan verstaan kan word. Charismate hou nie baie van letterlike verklarings nie. Hulle probeer dit eerder dwing om te sê wat hulle glo!
2. Die tweede beginsel van verantwoordelike Bybeluitleg is die geskiedkundige beginsel. Die Bybel is nie buite die tyd geskryf nie, maar in die tyd. Daarom is dit belangrik om die geskiedenis waarin ‘n betrokke Bybelboek geskryf is, te verstaan.
3. Derdens is daar die taalkundige beginsel. ‘n Studie van die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is, is onontbeerlik vir teologiese opleiding. Let maar net op hoe dikwels ek nie bv. na die betekenis van die oorspronklike Griekse woord verwys nie.
4. Vierdens die sintese (samevattende) beginsel. Die Skrif verklaar die Skrif. Moeiliker Skrifgedeeltes word in die lig van makliker/duideliker gedeeltes verstaan. Die Bybel weerspreek nie homself nie. Dis alles geïnspireer en die Heilige Gees verskil nie van Homself nie.
5. Vyfdens is daar die praktiese beginsel. Die hele Skrif het op een of ander wyse op ons ganse lewe betrekking. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).
Lering dui van onderrig. Die Bybel onderrig ons in alle lewensfasette. Dink maar net aan die Skrifgedeeltes wat oor die huwelik en familielewe handel. Ons moet diè lering in ons lewens toepas. Weerlegging dui op verantwoordelikheid. Ons durf die leuen nie sondermeer laat voortwoed nie, maar met die waarheid blus. (Hierdie reeks leerdienste staan juis in die lig hiervan). Teregwysing dui op sonde wat versaak moet word. Die Bybel is soos ‘n spieël waarin ons al ons sonde sien. Onderwysing in die geregtigheid dui op die pad na bekering waarop enduit volhard moet word.
Die belangrikste van alles bly egter die verligting deur die Heilige Gees. Daarsonder is al vyf hierdie beginsels waardeloos. Onder verligting verstaan ons die werklike verstaan van wat daar in die Bybel geskryf staan. Paulus skryf in 1 Kor.2 daaroor. Sonder die Heilige Gees sal die Bybel nooit in ons harte indring nie. Die verligting is egter nie ‘n plaasvervanger vir deeglike Bybelstudie nie. Hulle werk saam. Om van die Heilige Gees te verwag om jou los van die Bybel te leer, is dwepery!
Charismate beroep hulle baie graag op 1 Joh.2:27: ”En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie....” Wat sê diè vers vir ons? Het ons dan geen leraars of onderwysig nodig om ons in God se weë te onderrig nie? Dit sou strydig met Efes.4:11 wees wat van die geestelike onderwysers praat wat God aan die gemeentes gegee het met die doel ”om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus”(:12). Johannes praat in 1 Joh.2:27 spesifiek van dwaalleraars wat mense met dwaallering mislei het. Hy sê dat gelowiges nie moet toelaat dat sulke mense hulle leer nie.
Dwaallering neem ontsettend toe. Dit gaan om eie verklarings van die Bybel, weg van die waarheid. Dis ‘n magtige stroom wat na die einde van die tyd al hoe sterker gaan vloei. Mag God ons help om nie daarin te trap nie, maar die Bybel reg te sny!