Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het ons nie die lewe gegee om dit so ver as moontlik uit te rek nie. Hy het ons die lewe gegee as ʼn geleentheid om vir die ewigheid voor te berei.
DIE CHARISMATIESE GEVAAR (8)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
DOEN GOD VANDAG NOG WONDERWERKE?
“Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê” (Mt.24:24,25).
Wat is ‘n wonderwerk? Is dit wanneer jy bv. in geldelike nood verkeer en jy ontvang ‘n anonieme koevert met ‘n paar duisend rand in jou posbus? Nee, dis ‘n bestiering wat van God se werking in ons lewe en antwoord op gebed getuig. Wonderwerke is uitsonderlike gebeure wat op bevel van ‘n geestelike leier op so ‘n wyse geskied dat diegene wat dit aanskou, besef dat dit van God kom.
Wonderwerke getuig ook van ‘n boodskapper se Goddelike sending. God stuur ‘n persoon en laat hom wonderwerke verrig sodat mense kan glo dat hy deur God gestuur is. In die OT is Moses en in die NT ons Here Jesus treffende voorbeelde.
Wonderwerke word ook tekens en wonders in die Bybel genoem en hou spesifiek met God se boodskappers verband. Dis nie bloot vreemde gebeure, toevallighede of natuurlike onreëlmatighede nie. Daarom is die skepping, sondvloed en natuurrampe as sulks nie wonderwerke nie. Dit dui op God se ingryping in die geskiedenis van die mens en getuig van sy oordeel oor opstandiges en seën van opregtes.
Mense stel vandag, meer as ooit tevore, in bonatuurlike dinge belang. Hulle sal soms eenvoudige gebeure as bonatuurlike wonders beskou. Hierdie honger na vreemde en geheimsinnige dinge word wêreldwyd in die charismatiese beweging gevind en ‘n ernstige bedreiging vir die Christendom. Jesus waarsku ons in die teksverse dat die tyd net voor sy wederkoms deur valse wonderwerke gekenmerk gaan word. Dit gaan ‘n magtige instrument in die hand van die Satan wees om baie mense te mislei.
Moet vir geen oomblik dink dat ek nie aan wonderwerke glo nie. Ek glo dat elke wonderwerk waarvan die Bybel melding maak werklik gebeur het. Ek glo dat Moses en die Israeliete werklik deur die Rooisee geloop het en dat Elia vuur uit die hemel laat daal asook ‘n weduwee se seun uit die dood laat opstaan het. Ek glo dat Elisa ‘n byl op die water laat dryf het. So ook al die wonderwerke wat Jesus en die apostels gedoen het.
Ek glo dat God ook op bonatuurlike wyse in die natuur kan ingryp, rampe afweer en siek mense gesond kan maak. Een ding glo ek egter nie - dat God nog steeds mense gebruik om soos ‘n Moses, Elia, Jesus of die apostels wonderwerke te doen. Ek is 100% daarvan oortuig dat daar geen ooreenkoms tussen die charismatiese beweging en die apostels se gawes en wonderwerke bestaan nie. Die Skrif sowel as die kerkgeskiedenis oortuig my daarvan. Daarom is die charismatiese beweging gevaarlik. Dit waarteen die Skrif ons in ons teksgedeelte waarsku, gebeur vandag voor ons oë. Satan verbloem hom soos ‘n engel van die lig!
Desondanks die Skrif se waarskuwings, maak charismate asemrowende aansprake, selfs van mense wat uit die dood opgewek is. Sodra jy die name en adresse van sulke mense vra, sit hulle turf. Nie een geval kon ooit bo alle twyfel bevestig word nie. Liggelowiges word uiteraard maklik bedrieg!
Die wonderwerke wat vandag in charismatiese kringe plaasvind, rym glad nie met diè van die NT nie! Jesus en die apostels het onmiddellik genees. Charismatiese wonders is altyd gedeeltelik, geleidelik of tydelik.
Is die era van wonderwerke verby? Gereformeerdes sê, ja, dit is. Charismate nie. Hulle glo dat die eerste kerk ‘n skepping van die Heilige Gees was en dat Hy nooit verander nie. Dit wat Hy in die eerste kerk gedoen het, was vir alle eeue bestem. Die boek Handelinge is vir hulle normatief. Met ander woorde, soos in Handelinge, so ook vandag!
Charismate beskou die charismatiese beweging as ‘n herontwaking van die Pinkster-ideaal en belangriker as die Hervorming van die 16de eeu of die Sending-ontwaking van die 18de eeu. Hulle glo dat hulle manier om met die dinge van die Here om te gaan ‘n getroue weergawe van die eertydse apostoliese optrede is. Hulle glo dat die Heilige Gees se metodiek nooit verander het nie, maar dat die vroeë kerk ontspoor het en formeel-ritualisties geword het. Die Christelike kerk het die krag van die Heilige Gees versaak, ‘n krag wat 1900 jaar later weer ontdek is. Daarom sien charismate hul beweging as ‘n herstel van NT Heilige Geesteskrag. Wat die apostels in die eerste eeu gedoen het, doen gelowiges weer vandag.
As dit waar is, waarom verskil moderne openbarings, gesigte, tale praat, genesings en wonderwerke so dramaties van die eerste kerk s’n? Wat het van die genoemde tekens en wonders vir 1900 jaar geword? Was die Heilige Gees in diè tyd passief of was sy krag tot godsdienstige randeiers en dweepsiekes beperk? Om dit te beantwoord, moet ons weet wanneer en waarom Bybelse wonderwerke ontstaan het.
Die meeste Bybelse wonderwerke het in drie betreklik kort periodes voorgekom – in die tyd van Moses en Josua, daarna tydens die bediening van Elia en Elisa en laastens in die tyd van Jesus en die apostels. Nie een van hierdie tydperke het langer as ‘n eeu geduur nie. Wonderwerke is aan die bediening van buitengewone boodskappers van God verbind – Moses, Josua, Elia, Elisa, Jesus en die apostels.
Benewens die drie eras, het wonderwerke net in uitsonderlike gevalle plaasgevind soos toe God in 2 Kon.19 die leër van Sanherib op bonatuurlike wyse verslaan het.
Daarna het Hy vir Hiskia genees, die son in Gibeon laat stilstaan en in die dae van Daniël sy vriende uit die vuuroond en Daniël uit die leeukuil gered. Die Bybel leer ons dat wanneer God met mense gewerk het, dit baie selde op bonatuurlike wyse geskied het, maar eerder in die normale gang van die lewe
Die derde era van wonderwerke het baie van die vorige twee eras verskil. Nie een van die vorige eras het soveel wonders beleef nie, ‘n era wat ongeveer 50 jaar geduur het. Daar was nog nooit so ‘n tyd in die geskiedenis nie en daar is geen rede om te glo dat daar weer so ‘n tyd sal wees nie!
Alhoewel God se bonatuurlike optredes dwarsdeur die OT spoel, het Hy selde van mense gebruik gemaak om wonderwerke te verrig. Simson was die enigste uitsondering. Hy was egter nie ‘n profeet wat een of ander groot waarheid verkondig het nie. Hy was ongehoorsaam en onsedelik. God het hom net gebruik om Israel te bewaar.
Wat het dan tussen die drie periodes gebeur toe God nie wonderwerke gedoen het nie? Hy het deur bestierings gewerk. Mense het gebid en Hy het hulle gebede verhoor.
Let gerus daarop dat die grootste deel van die Bybel gedurende die drie eras van wonderwerke geskryf is. Moses het die eerste vyf boeke van die OT geskryf terwyl Elia en Elisa die era van die profete ingelei het. Die apostels het weer feitlik die hele NT geskryf. Wonderwerke het aan hierdie boodskappers uitsonderlike gesag verleen sodat mense kon glo dat God hulle gestuur het. Hoor wat sê Nikodemus aan Jesus: “....Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met Hom is nie” (Joh.3:2).
Moses is ‘n sprekende voorbeeld hiervan in die OT. Die wonders wat hy tydens die plae gedoen het, het aan die Farao en Israel getoon dat God hom gestuur het. Moses, Josua, Elia, Elisa, Jesus en die apostels se tekens en wonders moes mense oortuig dat God op ‘n besondere wyse met hulle was en deur hulle gepraat het. In 1 Kon.17 sê die weduwee wie se seun Elia uit die dood opgewek het vir hom: “Nou weet ek dat u ‘n man van God is en dat die woord van die Here in u mond waarheid is” (:24).
By geleentheid sê die Jode vir Jesus:”.....As U die Christus is, sê dit vir ons ronduit. Jesus antwoord hulle: Ek het dit vir julle gesê, en julle glo nie. Die werke wat Ek doen in die Naam van my Vader, diè getuig van My” (Joh.10:24,25).
Nie elke gelowige het destyds die gawe van wonders en tekens gehad nie. Charismate praat roekeloos van die kerk in Handelinge asof dit ‘n wonderwerkende kerk was. Dit was eerder ‘n kerk met wonderwerkende apostels.
Let daarop dat die wonders en tekens uitsluitlik deur die apostels en hul geestelike helpers plaasgevind. “En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind...” (Hand 5:12). Toe Paulus en Barnabas die Evangelie in Ikonium verkondig het, het God wonders en tekens laat gebeur om mense se aandag op die Evangelie van verlossing te vestig (Hand.14:3).
Wonderwerke het die aandag op nuwe openbaring gevestig. Mense moes besef dat God die 400 jaar stilte na Maleagi verbreek en weer gespreek het. Moses se wonders moes die Israeliete wakkerskud om hulle vir die uittog gereed te kry. Elia se wonder op Karmel moes Israel wakker skud om afgodery te laat vaar en na God teug te keer. In die NT moes tekens en wonders gelowiges enersyds versterk en heidene andersyds oortuig. Dis die sentrale tema van die Johannes Evangelie: “maar hierdie is beskrywe dat julle kan glo dat Jesus die Christus is....” (Joh.20:31).
Die tekens en wonders van Jesus is opgeteken sodat ongelowiges moes glo. So ook die apostoliese wonderwerke. Ongelowiges moes glo dat Jesus die langverwagte Messias is. “En deur die hande van die apostels het daar baie teken en wonders onder die volk plaasgevind...maar die volk het hulle baie geëer. En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue” (Hand.5:12-14).
Wees derhalwe versigtig vir die charismate se aanspraak op sg. gawes van wonders en tekens. Ons het ‘n baie duidelike waarskuwing in ons teksverse. Dis dinge wat aan die einde van alle tye gaan gebeur. “Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê” Mag God ons baie duidelik lei dat ons die geeste sal kan onderskei!