Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In hierdie nuwe jaar sal baie van ons een of ander vorm van pyn en lyding ervaar. Maar ons moet nie bang wees nie want God se liefdevolle hande rondom ons in pyn, help ons om die omstandighede met hoop en moed onder die oë te sien. Daar is geen angs, verlies of lyding van ons waarin God nie deel nie. Wanneer ons dan weet dat God altyd by ons is, selfs al val ons wêreld uitmekaar, sal ons die pyn kan verduur, sonder vrees, sonder angs, met moed en hoop.
BROKKIES UIT DIE BOEK – OUMANSLAND (12)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die vreemde konvooi van omboude Jeeps, Land Rovers, ligte vierwieldryf vragmotors, sleepwaens en veld-woonwaens tou stadig agter mekaar aan deur die berg.
Dit was ‘n uitputtende klompie kilometers, deur die sand, oor hoë bergtoppe, deur driwwe en sandspruite. Maar die mees uitputtende was die klippe. Vir menige kilometer is die smal plaaspaaie besaai met klippe, wat wissel van gholfbal-grootte, tot so groot as ‘n gewone bad.
Uiteraard moet daar dan uitgeklim word, die groot klippe verwyder word en in drie gevalle moes die sandsteen rotse met die agterkante van byle en swaar hamers stukkend geslaan word, voordat dit beweeg kon word.
Uiteindelik beweeg dit teen ‘n baie skuins helling van die bergkruin af, in ‘n amper nimmereindigende, kronkelrige paadjie. Dan is hulle by ‘n oop plaashek. Die opstal is nie afgebrand nie, maar staan ruitloos en leegoog. Die dakplate is alles verwyder en selfs die dakkappe weggedra.
Die eertydse mooi versorgde grasperk staan geil van die bossies en onkruid. Binne die beeskraal lê die verrotte karkaste van ten minse sewe spogbeeste. Die mense ry in geskokte stilte verder en ‘n kliometer na die suide deur ‘n smal plaashek. Van die woonwaens en vragmotors kom net-net deur en een kry ‘n slegte krap langs die kant.
Aanvanklik mik die groep Blouberg se kant toe, maar dis duidelik dat daar ‘n menigte bewegende lywe tussen hulle en die losstaande berg stippel. Hulle draai Pietersburg se kant toe, maar ook die pad tussen Dendron en Vivo is onbegaanbaar as gevolg van die honderde duisende mense wat op pad is na Zimbabwe. Hulle draai by ‘n grondpad in, wat hulle uiteindelik naby die Mara Navorsingstasie verbyneem en dan ‘n klompie kilometer suid-oos van die Makhado Lugmagbasis.
Hulle ry nie vinnig nie, deels ter wille van stof, maar ook vanweë brandstofbesparing. Die smal kloof waarin die grondpad loop, het steil hellings weerskante en plek-plek is daar groot rotse wat tussen die plantegroei uitsteek.
Dawie het die hoek van ‘n sinkplaat net te laat gesien. Die plate is dwars bo-oor ‘n meter-diep sloot geplaas, met net genoeg sand daarop om dit te verberg. Dis ‘n lokval wat in die tagtiger-jare reeds in die Townships gebruik is om Buffels dadelik en onverbiddelik tot stilstand te bring wanneer die voorwiele daarin ry. Menige soldaat, wat nie vasgegordel is nie, het so seergekry.
Wannneer Dawie se Isuzu die sloot tref, ry hy maar net veertig kilometer per uur, maar dis genoeg om die voertuig se voorsuspensie te breek. Die skokbrekers se monterings breek af en ook die linker voorwiel se kronkelveer. Die lugsakke ontplooi vinnig genoeg om erge beserings te voorkom, maar vir die oomblik is beide hy en Petria vasgekeer. Die slag het die voordeure vasgedruk en daar is geen manier waarop hy dit kan oopmaak van binne af nie.
Ben, wat reg agter hom gery het, sien die voetuig skielik neus eerste in die sloot val, en rem net betyds. Agter-op die bakkie sit Flip, Johnnie, Riette en Maans. Instinktief gryp hulle hul wapens, spring af en neem stelling weerskante van die voertuig in. Hulle is net betyds: rondom hulle lyk dit asof die gras, bosse en bome begin lewe soos honderde mense daaruit opstaan.
“Druk toe jou ore, Petria!”, skreeu Dawie. Hy slaan met die .357 se loop teen die ruit, maar dit breek nie so maklik nie. Uit blote frustrasie hou hy die loop naby die ruit, kyk weg, hou sy regter voorarm oor sy gesig en met sy hand druk hy sy regteroor toe. Hy trek die skoot met sy linkerhand. Daar verskyn ‘n gat in die middel, maar die ruit, alhoewel gekraak, het nie gebreek nie. Nou kan hy egter die glas uitslaan en ‘n skoot afkry na die eerste gesig wat naby kom, dan ‘n tweede en derde.
Hy slaan die klein stukkies glas uit die raam van die venster en seil met moeite, maar so vinnig as moontlik by die opening uit. Hy help vir Petria, leun in, klap die agterste leuning van die sitpek af en gryp sy ammunisie. Die twee val terug na die voertuig agter hulle, waar daar aanhoudende skote vanaf klap.
“Spring op!” skreeu Ben en sodra hulle almal agterop die bakkie is, swaai hy uit die pad uit en begin teen die heuwel uitry. Dis baie steil, maar met ‘n gemaal van die groot bande en ‘n gehuil van die fris diesel, baan hy ‘n weg tussen struike, bosse, gate, klippe en rotse deur.
Die ander voertuie volg hom en, behalwe vir ‘n gebarste voorruit waar ‘n groot klip die ruit van die Land Cruiser getref het, is al die voertuie relatief ongedeerd van die pad af.
Klippe spat en stof maal agter die wiele uit. Nie een van hulle sou onder normale omstandighede hulle voertuie aan so ‘n marteling onderwerp het nie. Skielik is daar ‘n effense gelykte, vir meer as drie honderd meter en hulle kan nou die agtervolgers, wat almal te voet is, ‘n ent agterlaat. Die hoogte is daarna weer steil en Ben mik na die linkerkant toe.
Die voertuie hel gevaarlik oor na hulle linkerkant toe, maar dan is daar weer ‘n opening na regs en Ben mik daarheen. Die plantegroei maak nou plek vir ‘n lang, breë, plato, met die regaf kranse aan die einde daarvan. Ben maak ‘n wilde draai na links, wys die ander om sy voorbeeld te volg en binne dertig sekondes het hulle die voertuie in ‘n semi-sirkel getrek, buffer teen buffer, soos ‘n laer vanouds. Die opening aan die agterkant is so naby die krans dat niemand daar kan deurkom nie.
Die eerste van die aanvallers is binne ‘n paar minute aan die kant van die plato en die skote klap opnuut. Onder ander omstandighede sou die menigte eerder die klompie met rus laat, maar hulle is honger en daar is min dinge in die lewe wat ‘n mens so doodsveragtend laat as ‘n maag wat pyn van leegheid.
Hulle kom aangehardloop. Hier en daar moet een wegswenk van ‘n liggaam of gewonde en sommige klim selfs oor ‘n lyk, maar hulle stop nie. Daar is nie werklik iemand wat leiding kan neem nie, so niemand roep terug vir herorganisasie of om planne te maak nie. Dis bloot ‘n stroom lywe wat voortbeur na die voertuie en wit gesigte wat die moontlikheid van voedsel waarborg.
Flip het sy Heym .308 leegeskiet. Hy sit dit nou agterop die bakkie, vat die swaarloop R1, slaan die pootjies af en maak dit staan op die Gladiator se groot enjinkap. Hy swaai die veiligheidsknip al die pad vorentoe en op, en dan begin hy met vyfskoot sarsies op vol-outomaties tussen die aanstormende massa inskiet. Dit lyk asof hy met ‘n sekel onder hulle inmaai.
Die magasyn is gou leeg en hy laai ‘n volgende, skiet, leeg, volgende. Dan, uiteindelik, is daar ‘n lig wat in ‘n paar se koppe deurdring. Hulle gaan staan stil en wanneer een of meer begin terugval, volg die ander hulle ook. Hulle hardloop egter net tot buite direkte vuur en val dan plat in die lang gras, tussen struike, bosse of rotse. Die etlikes van hulle wat vuurwapens het, begin terugskiet.
*
“Luister! Skote… ver na ons noord-weste. Nou is dit stil, nee, daar begin dit weer.”
Lori het die Jeep se enjin afgesluit en hulle sit nou botstil en luister. Die enjin pieng saggies soos dit afkoel. Retha spits haar ore en Nicolaas het sy perd ingetrek, sodat hy beter kan hoor. Na ‘n hele paar minute is daar stilte, behalwe vir ‘n paar sporadiese skote, maar dit klink anders.
“Die skote kom nou uit ‘n ander rigting. Min of meer dieselfde plek, maar na die ander kant toe. Dink julle ons moet gaan kyk, of is dit nie ons probleem nie?”
“Of dit nou mense is wat ons ken of nie, as dit nie nou ons probleem is nie, sal dit wel die een of ander tyd ons s’n word.”
“Lori, kyk of jy tot bo-op die kruin van hierdie bult kan ry. Miskien kan ons iets daarvandaan sien.”
Nicolaas ry teen die helling uit, sodat hy vir Lori kan wys waar om te ry. Die Jeep se enjin vat met die eerste draai. Sy sit dit in eerste lae-strek en die voertuig kruip teen net meer as loopspoed teen die helling uit. Sy ry versigtig om alle gate en slote te vermy.
Dit vat hulle meer as tien minute om die ent af te lê, maar uiteindelik is hulle bo-op die kruin en daarvandaan kan hulle die blink van die voertuie oorkant die kloof sien, waat die ruite en verfwerk die son weerkaats. Die effense pof-rokies van die skote is net-net sigbaar, maar dis sò ver, dat die geluid van die knal eers ‘n paar sekondes later hulle ore bereik.
Aan hulle regterkant is ‘n baie dowwe paadjie sigbaar. Eintlik is dit sò lanklaas gery, dat die gras dit al toegegroei het, en net Nicolaas, wat hoog in die saal sit, kan dit sien. Hy ry stadig voor die Jeep uit en Lori volg hom, al kan sy nie regtig die pad sien nie. Dit neem meer as ‘n uur om onder die koppie te kom. ‘n Paar maal het die pad weggeraak en Nicolaas moes vooruit ry om te soek waar die spore heen sou gaan.
Net voordat hulle by die pad kom, is daar ‘n laaste bultjie. Nicolaas hou stil, los sy perd aan die onderkant en loop dan gebukkend tot bo-op. Die knal van die skote is nou baie duideliker. Lori en Retha volg hom ook en as hulle by die kruin kom, gaan lê hulle plat, kruip vorentoe en dan kan hulle die hele lengte van die berg voor hulle sien, aan die anderkant van die pad.
“Magtag! Daar is duisende en duisende!”
Die hele omgewing lyk asof dit lewe. Dis ‘n amper ongelooflike gesig, met bewegende lywe en koppe wat nader aan die mense aan die anderkant loop, hardloop en kruip.
Die meeste van hulle het al van hulle Westerse kleredrag verloor, soos dit geskeur en verweer het deur die loop van die maande se leef in die veld. Baie min het enige hoofbedekking oor en die swart koppe lyk soos korrels wat oor die veld en berg gestrooi is. Aan die voorkant van die beweging is daar ‘n samedromming, soos hulle ver van die geweervuur af ‘n lyn vorm. Dis duidelik dat die mense wat vasgekeer is hulle ammunisie spaarsamig gebruik. Daar is nou nie meer vol-outomatiese vuur nie en die skote klink eerder na doelgerigte vuur.