Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As gelowige Boerevolk het ons vandag die versekering dat God 'n deel van ons volk nie die knieë voor Baäl laat buig het nie, net soos Hy aan Elia gesê het toe dié gekla het dat die hele volk ten gronde is: dat Hy vir Hom 7 000 man uitgehou het en dat Hy dit in "teenswoordige tyd" weer sal doen – uit suiwer genade, nie uit ons verdienste nie. Daarom mag ons daarop staatmaak!
STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (10)
Verwoerd se nagedagtenis word vermoor
3 Maart 1993
Sedert 1960 is daar geprobeer om dr. Hendrik Verwoerd, wat die simbool van Afrikanernasionalisme geword het, om die lewe te bring. Vir die magte en lande wat hul eie duister oogmerke met Suider-Afrika gehad het, het dr. Verwoerd se ooglopende sukses met die toepassing van sy beleid ’n gevaar geword. Met hul tweede poging in 1966, toe die Griek Tsafendas hom in die Parlement doodgesteek het, was hulle suksesvol.
Die tweede fase was die moord op dr. Verwoerd se beleid. Die fase het van 1966 tot 1992 geduur. Noudat die Afrikanervolk se vyande reken dat hulle die beleid klaar vermoor het, het die derde fase begin, die moord op sy nagedagtenis.
Die eerste teken was die poging om die naam van die dorp Verwoerdburg te verander. Dit het vir eers nie geslaag nie. Die tweede stap is toe aangekondig dat die vakansieoord by die Hendrik Verwoerddam sy naam gaan verander weg van dié van dr. Verwoerd. Die borsbeeld van dr. Verwoerd is verwyder na die kantore van die Beheerraad van die Overvaal-oorde, wat deur die Minister van Toerisme, dr. Org Marais, vir die doel hersaamgestel is. Na verwagting sal ook die dam se naam verander word.
Nou het die derde skuif gekom. Die HF Verwoerd-hospitaal in Pretoria moet ’n nuwe naam kry. Dr. Verwoerd se naam is glo te “sensitief. Hierdie is ’n lae hou, want tussen dr. Verwoerd en daardie spesifieke hospitaal bestaan ’n noue historiese band. Dit was in hierdie hospitaal, waarnatoe hy van Johannesburg vervoer is na die aanslag op sy lewe deur David Pratt in 1960, waar dr. Verwoerd so wonderbaarlik herstel het van die wonde wat aanvanklik as noodlottig beskou is. Nadat dr. Verwoerd genees en uit die hospitaal ontslaan is, is die spesifieke hospitaal na dr. Verwoerd vernoem. Nou word daardie band in ’n verfoeilike politieke gebaar verbreek.
Voor die aanslag deur Pratt was daar ’n veldtog teen dr. Verwoerd. “Verwoerd must go,” was die leuse. Daar was oproere na die Sharpeville-gebeurtenis. Daar was druk dat die apartheidsbeleid laat vaar moes word. Van sy siekbed in die hospitaal af het dr. Verwoerd ’n verklaring gedoen dat die regering nie die minste rede sien om sy beleid te verander nie. Onmiddellik was die toestand in die land gestabiliseer.
Suid-Afrika onder dr. Verwoerd was ’n modelstaat, het mnr. Jaap Marais gesê. Verwoerd het die hele toneel in Suid-Afrika oorheers. Die land was in ’n massiewe ekonomiese oplewing. Floue onrus is maklik beheer. Daar was vrede in die land, Suid-Afrika was alom geëer en selfs baie van die Engelssprekendes in die land het hom gesteun. So het dit gelyk onder die man wat die Afrikaners se vyande uit die pad wou hê.
Dr. Verwoerd was die simbool van die Witman se vasberadenheid om in Suid-Afrika te oorleef en die land op te bou. Die sluipmoord op hom in 1966, nadat daar vir die tweede keer ’n veldtog “Verwoerd must go” gevoer is, het die deur vir die Afrikaner-liberaliste oopgemaak om sy beleid te verander. Die beleid is steeds verder verander en daarmee is ’n toestand geskep waarin die land op die randjie van oorname gebring is.
Die magte wat teen president Kruger saamgetrek was, is nou saamgetrek teen die nagedagtenis van dr. Verwoerd, het mnr. Marais gesê.
Vervolg...